God roep sy kinders om selfs aan tafel te getuig van hul geloof in die Lewe

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Deuteronómium 14
Preek Inhoud: 

PREEK OOR DEUTERONOMIUM 14: 3 EN 21a

LITURGIE:
Ps. 115: 8, 9
Wet
Ps. 115: 3, 6
Gebed
L. Hand. 11: 1-18 & Efes. 2: 11-19
Ps. 22: 9, 11
Prediking
Ps. 116: 5, 7
Gebed
Kollekte
Ps. 16: 2, 5

Broeders en susters,

U is dalk bietjie verwonderd oor my tekskeuse vir hierdie diens. Moet ons vanoggend ons besighou met so'n Ou-Testamentiese wet oor rein en onreine diere? Vanoggend, noudat ons spesiaal bymekaar gekom het om die HERE te dank vir die opbrings van die veld en die resultaat van ons arbeid? Moet hierdie teks ons in die regte houding bring om net-nou daardie dankgebed te kan bid?

Maak ons dit nou vir onsself nie alte moeilik nie?

Maar moet hierdie op-die-eerste-gesig-snaakse teks nie te gou eenkant skuif nie, gemeente. Ons teksverse en die verband waarin hulle staan, lyk naamlik nie meer te wees as net 'n aanduiding watter diere deur God rein, en watter deur Hom onrein verklaar is nie. Maar kyk bietjie met my: die woord wat vanaf vs. 3 telkens gebruik word, is die woordjie "eet". Die skeiding wat God tussen rein en onreine diere maak, het met Israel se ete te make. God se volk kry aanwysings vir hul daaglikse maaltye. Omdat hulle 'n volk is heilig aan die HERE (kyk vs. 2!), word aan hulle ook 'n heilige menu voorgeskrywe waardeur hulle hul van die ander volkere onderskei. God se volk eet nie soos die wêreld eet nie.

Dit is die bedoeling van hierdie wetsbepaling: selfs aan die daaglikse maaltye moet dit gesien kan word dat Israel toebehoort aan die lewende God.

Ook hierdie wetsbepaling het met Christus se koms en werk sy vervulling gekry. Ons hoef vandag nie meer 'n onderskeid tussen rein en onreine diere in ag te neem nie. Ons het dit duidelik gehoor in Handelinge 11.

Nogtans het God se bedoeling met hierdie wet ook vir die kerk van Christus gebly: ons Verbondsgod wil hê ons moet tot in ons werk, ons ete en drinke besef dat ons sy kinders is, wat deur Christus vir die léwe vrygekoop is.

En dan kan hierdie teks ons wel deeglik ook iets leer op 'n dankdag vir gewas en arbeid. Ons wil mos die HERE dank vir die oes, vir die resultate van die arbeidsproses. Maar ons dankgebed van vanoggend moet 'n skakel wees in 'n léwe van dankbaarheid. Ons moet met ons hele lewe wys, aan God en aan die mense, dat ons weet aan Wie ons lewe behoort. Tot aan tafel toe moet ons dit wys dat ons kinders van die lewende God is. Sodat elke dag 'n dankdag en elke uur 'n dankuur is.

Ek wil dit nader vir u gaan aanwys uit ons teks, waarvan ek die boodskap soos volg saamgevat het:

GOD ROEP SY KINDERS OM SELFS AAN TAFEL TE GETUIG VAN HUL GELOOF IN DIE LEWE

ONS SAL SIEN

  1. HOE DAT ISRAEL DIT MOES DOEN
  2. HOE DAT ONS DIT KAN DOEN

1. Waarom het die HERE die een dier rein genoem, en die ander onrein, broeders en susters? Waarom mog die Israeliete die een dier sonder beswaar slag en tot 'n smaaklike gereg toeberei, maar die ander dier beslis nie?

U kan heelwat verklarings lees wat op hierdie vraag 'n antwoord probeer gee. Daar is mense wat dink dat die onreine diere skadelik vir 'n mens se gesondheid is. En dan sou ook ons vandag dus maar die beste nog hierdie wet kon onderhou.

Ander uitleggers dink party diere is onrein genoem omdat hulle in die heidense bygeloof 'n belangrike rol gespeel het......

Maar ek sal u vanoggend met al daardie verklarings nie vermoei nie.

Want Moses self het die eintlike verklaring vir ons aan die hand gedoen deur die verband waarin hy hierdie wet insake die reine en onreine diere weereens aan God se volk voorgehou het. U weet: die boek Deuteronomium is Moses se afskeidspreek wat hy aan die grens van die land Kanaän gehou het om Israel nog een keer aan God se gebooie, wat al eerder gegee is, te herinner. Ons teksgedeelte is 'n herhaling van Levitikus 11. Maar kyk in watter verband herinner Moses aan die bepalings van Levitikus 11: Hy begin in vs 1 en 2 met 'n waarskuwing teen verkeerde rougebruike. Kinders van die HERE mag hulself nie soseer aan hul verdriet oor 'n dooie oorgee dat hulle soos slawe van die dood word wat self ook nie meer lus is vir die lewe nie. So het die heidene in Israel se dae gedoen, deur hul vel met messe stukkend te kerwe en deur die hare op hul kop soos by 'n slaaf af te sny. God se kinders mag natuurlik wel verdrietig wees en rou bedrywe. Maar God stel 'n duidelike grens: ook in dae van verdriet oor die dood mag God se kinders die geloof in die lewe nie verloor nie. Hulle behoort mos aan die God van die lewe! Hy het hulle mos uit die dood weggeruk om erfgename van die lewe te word.

Nou maar goed, in onmiddelike aansluiting aan daardie oproep om in die lewe te bly glo, volg dan die herinnering aan die wet op die reine en onreine diere: "Jy mag niks eet wat 'n gruwel is nie", met as afsluiting vs. 21: "Julle mag geen aas eet nie". Hierdie wetsbepaling het duidelik dieselfde bedoeling as die waarskuwing teen verkeerde rougebruike: nie net in dae van verdriet nie, maar alle dae, by elke maaltyd moet God se kinders wys dat hulle in die léwe glo. God stel nie net grense aan die rou nie, Hy lê ook beperkings op aan die daaglikse menu. Maar met dieselfde bedoeling: sodat sy volk hul geloof in die lewe sal demonstreer.

Dat dit God se bedoeling met hierdie voorskrifte is, blyk wel die duidelikste uit vs. 21. God verbied Israel om aas te eet.

Wanneer sê maar 'n skaap van die kudde deur 'n roofdier gegryp en gedood is, maar sy eienaar het daarna die roofdier van sy buit verja, was 'n noodslagting nie meer toegestaan nie. Die dood het sy greep alreeds daarna uitgestrek, en dan moes die kinders van die lewende God met hul vingers daarvan afbly. Nie omdat sulke vleis ongesonder sou wees as die vleis van 'n dier wat op 'n normale wyse geslag is nie. Ons lees mos in vs. 21 dat sulke vleis wel aan die vreemdeling wat binne Israel se poorte vertoef het, mog gegee word. Die Israeliete mog dit ook aan 'n uitlander verkoop. Daardie mense is nie afgeskeep met minderwaardige kwaliteit, goed waarvoor die Israeliete die neus opgetrek het nie.

Die enigste rede waarom God se kinders dit nie mog eet nie, was omdat daardie vleis vir hulle 'n simbool van die dood geword het. En dit wat nie van die vreemdeling en die bywoner gegeld het nie, mog die Israeliete wel van hulleself sê: hulle was deur die HERE hulle God anderkant die dood geplaas. En daarom sou hulle voortaan afstand bewaar tot alles wat op die een of ander wyse nog aan die dood herinner het. God noem dit alles 'n "gruwel". Hy, die God van die lewe, het 'n afsku van die dood. Want die dood is die gevolg van die sonde. Maar daarom moet ook sy volk gru van enige herinnering daaraan.

Dit is ook God se vertrekpunt as Hy party diere vir sy volk onrein verklaar.

Wat maak 'n dier rein of onrein?

Moses som nog 'n keer die kenmerke daarvoor op wat hy alreeds uitgebreider in Levitikus 11 gegee het. Kritiese Bybellesers het al heelwat gespot met hierdie kenmerke aangesien daar domme foute in sou voorkom. Byvoorbeeld in vs. 7 waar staan dat 'n haas herkou. Elkeen wat bietjie verstand van biologie het behoort mos te weet dat die haas nie tot die herkouers behoort nie.

Sulke Bybellesers het egter nie verstaan nie, dat die HERE hier geen indelingsprinsipe vir 'n wetenskaplike biologieboek wou gee nie, maar vir sy volk geleer het om op die eerste gesig te herken waar die verskil tussen rein en onrein lê. Hy lei as 't ware sy kinders aan die hand langs die verskillende diere en wys op duidelik sigbare kenmerke waaraan hulle dadelik kan uitken of hulle daardie dier wel of nie mag eet. En dan kom Hy ook verby die haas: kyk: daardie dier wat met sy bek telkens van daardie koubewegings maak ook as hy nie besig is om te eet nie. Daar is hy! Onrein is daardie dier.

Maar waarom?

Wanneer noem God 'n dier onrein?

As ons mooi na al daardie uiterlike kenmerke kyk, gemeente, kom ons agter dat die HERE 'n dier onrein genoem het as daar ook maar iets aan daardie dier was wat met die dood in verband gebring kon word.

Diere wat nie herkou nie, is op die een of ander manier roofdiere of aaseters. En diere wat geen gesplitste kloue het nie, het in hul pote 'n klou of skerp naels waarmee hulle kan beseer en doodmaak.

En al sulke diere noem God onrein. Hulle is 'n simbool van die dood.

Alle slymerige, glibberige waterdiere sonder vinne en skubbe -dis meestal ook diere wat 'n afstootlike geur versprei- kan jy met die dood en met ontbinding in verband bring. Dus is hulle onrein.

Alle voëls wat hulleself met aas voed of visse vang en eet, is onrein.

Die meeste vlieënde insekte het op 'n manier met die dood te make: hulle kan jou steek; en u weet mos hoe gou die vlieë neerstryk op 'n liggaam wat begin ontbind!

Kortom, God het enige dier wat jou aan die dood laat dink het, vir sy volk onrein verklaar. Daarvoor was geen moeilike biologiestudie nodig nie- 'n kind kon dit alreeds herken.

Daar sou op Israel se tafels geen voedsel kom wat die gedagte aan die dood op die een of ander wyse in hom gedra het nie. Want selfs in hul kos moes Israel besef dat hulle die volk was van die God wat hulle uit die dood uit weggehaal het. Hulle was die volk van die lewe, danksy die God van die lewe.

Die lewe het dikwels, ook vir God se kinders, 'n voortdurende sterwe gelyk. In Israel moes daar regtig nie minder grafte gedolwe word as by die volkere rondom hulle nie. Ook die liggaam van God se kinders het nie aan die graf ontkom nie. Maar nietemin mog Israel nooit vergeet wat God in hul lewe teweeggebring het nie. Hy het gekom om hulle van die dood vry te koop om hulle met Hom saam te neem na die ewige lewe toe. En toe mog hulle voortaan in die geloof op sy beloftes lewe en sterwe. Hulle mog nie treur soos die mense wat geen hoop het nie. Hulle mog nie eens eet soos die mense wat geen hoop het nie. Selfs die daaglikse maaltyd moes 'n getuienis wees van die oorwinning op die dood.

Tot in hul maaltye toe moes daar onderskeid wees met die mense sonder God. Dié het midde-in die dood gelê. Maar Israel was tot die lewe verkore.

So het God selfs Israel se daaglikse kos gebruik om sy kinders hul geloof in die lewe te laat bely, broeders en susters. Die oproep om God se heilige volk te wees, het selfs gevolge vir die kombuis gehad.

Moet u 'n slag probeer indenk wat hierdie wet vir God se kinders beteken het toe hulle deur die ballingskap verstrooi is onder die ander volke. Israeliete wat tog al in soveel opsigte anders was, het selfs anders geëét as die ander. Hulle het 'n spesiale menu bestel. U weet van Daniël en sy vriende aan die hof van Nebukadnessar in Babel. Hul hardkoppige weiering om die onreine kos uit die paleiskombuis te eet, was 'n volhardende belydenis van hulle geloof dat die lewe alleen by die God van Israel te vinde is.

2. Ons onderhou vandag nie meer hierdie wet nie, gemeente. Want die HERE self het hierdie wet vervalle verklaar. Ons het dit gelees in Handelinge 11. Voortaan mag God se kinders ook dié diere wat vroeër onrein was, eet.

Aan die diere as sulks het daar niks verander nie.

Maar in hierdie wêreld het daar wel iets verander: die mag van die dood is nou definitief gebreek. God se Eniggebore Seun het deur sy dood en opstanding hom tot niet gemaak wat die mag oor die dood het, dit is die duiwel.

Die etensvoorskrif van ons teks was nie meer nie as 'n vooruitwysing na hierdie oorwinning van Christus. Maar noudat die oorwinning behaal is, is so'n vooruitwysing mos nie meer nodig nie.

God se volk hoef homself ook nie meer angsvallig van die dood terug te trek nie- ons moet nou juis in die aanval! Die lewe wat Christus terugverdien het moet nou in die wêreld uitgedra word. Aan ander mense meegedeel word.

Ook daarom het God daardie Ou-Testamentiese wet laat verval. Dit was, soos Paulus dit in sy brief aan die gemeente te Efese genoem het, soos 'n muur, 'n ystergordyn wat 'n vyandige skeiding gemaak het tussen Israel en die vreemdelinge en bywoners. Selfs in hul maaltye het die Israeliete afstand tot die vreemdelinge bewaar. Want die heidene het midde-in die dood gelê, Israel was deur die HERE op die weg van die lewe saamgeneem. Maar toe die mag van die dood eenmaal gebreek was, kon ook daardie muur van skeiding weggebreek word. Want God roep nou ook die vroeëre vreemdelinge en bywoners om medeburgers van die heiliges en huisgenote van God te word. God neem nou uit alle volkere sy kinders saam op die weg van die lewe.

Noudat die Evangelie van Christus ons na mekaar toe roep, mag die etenstafel ons nie meer uitmekaar hou nie. U kan dit orals in die Nuwe Testament lees, dat ons mekaar nou nie meer moet veroordeel insake spys of drank nie, want dit was onder die Ou Verband slegs 'n skuduwee van, oftewel 'n voorafbeelding van Christus.

Maar het die wet van ons teks vir ons dan hoegenaamd geen betekenis meer nie, broeders en susters? Wat maak ons nog met hierdie Skrifgedeelte?

Ons bely in Art. 25 NGB ten aansien van die seremoniële wette van die Ou Testament dat hulle met Christus se koms wel vervul en dus afgeskaf is, maar dat die Nieu-Testamentiese Kerk hulle darem nog altyd bly gebruik "om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig".

Al hoef ons die bepaling van die wet van Deut. 14 nie meer te onderhou nie, God se bedoeling daarmee is ook vir ons vandag nog van belang.

Ons kan daardie bedoeling baie ruim neem en sê dat die HERE vandag nog wil hê dat sy volk afstand bewaar tot alles wat vir Hom 'n gruwel is. En dis vandag nie meer diere wat Hy self geskep het nie, dis alles waar die duiwel met sy bose geeste nog heerskappy voer op aarde. Die gemeente van Christus moet nog sterker as Israel onder die Ou Verbond besef dat sy nie kan deelhê aan die tafel van die Here, waar die lewe uitgedeel word, en terselfdertyd aan die tafel van die duiwels, waar die dood sy greep na jou uitstrek, nie. Ook in die Nuwe Testament klink daar nog die oproep -kom kyk 'n slag met my in 2 Korinthiërs 6: 15 e. v. -: "Watter ooreenstemming het Christus met Belial, dit is: die duiwel? Of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? " Vs. 17: "Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die HERE; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem". U kan 'n soortgelyke oproep ook lees in Openbaring 18.

Maar ons kan daardie algemene oproep om ons van die ongelowige wêreld te onderskei ook maar heel konkreet toespits op ons ete en drinke, soos die HERE dit in die wet van ons teks vir Israel gedoen het.

En dan is dít die les wat ons vandag nog altyd uit die wetsvoorskrif van ons teks kan leer: ons Verbondsgod wil hê ons moet tot in ons ete en drinke besef en bewys dat ons deur Christus vir die léwe vrygekoop is.

Nog altyd moet dit so wees dat die kerk selfs nie eet soos die wêreld eet nie.

Maar waarin moet die verskil dan uitkom? Ons eet en drink mos dieselfde dinge?

Ja maar, waarom hou ons in die maand September 'n bidstond vir gewas en arbeid, en waarom is ons vanoggend bymekaar om die HERE te dank vir die resultate van die werk op die boerderye en in die fabrieke? Dis mos omdat ons besef en bely dat die opbrings van die veld en die fabriek, ons klere en ons kos geen vanselfsprekende sake is waar elke aardbewoner reg op het nie. Ons weet inteendeel dat ons op niks meer reg het nie, dat geen mens reg het op 'n droe sny brood of 'n slukkie water nie; maar dat God die reg het om alle mense van honger en dors te laat omkom en om hulle vervolgens in die ewige dood weg te stoot. Ons weet dat elke hap ete en elke slok drinke 'n saak van genade is wat Jesus Christus vir ons verdien het deur sy dood. God het vir ons die lewe weer oopgemaak, alleen deur Jesus Christus. Ons mag nog eet en drink, leef en werk, maar louter en alleen omdat dit Paasfees geword het.

Dis dié dat ons elke jaar weer in die vroeë lente God se seën oor die oes en die arbeid afsmeek.

Dis dié dat ons Hom ook elke jaar in die herfs dank vir alles wat Hy ons om Christus ontwil wou gee.

Maar dié houding verlang God feitlik elke dag van u, by enige maaltyd, broeders en susters. Daardeur moet u uself van die wêreld onderskei.

Die wêreld leef vanuit die mentaliteit: "Laat ons eet en drink, want môre sterf ons". En moet maar kyk in 1 Korinthiërs 15: Paulus sê dat so'n mentaliteit die gevolg is van ongeloof in Paasfees. Ons moet daarteenoor lewe in die geloof: "Laat ons eet en drink, want ons lewe tot in ewigheid!".

Dit moet by u selfs aan tafel te sien wees dat u in Paasfees glo, gemeente. U mag geen maaltyd sonder gebed begin nie, ook nie as dit moet gebeur tydens die etenspouse by die werk of aan 'n tafel waar heelwat mense sommer hul tande daarin sit nie. Hoe maklik vergeet ons om te bid en te dank! Hoe maklik word ook die tafelgebed 'n sleur: jy sê of hoor altyd dieselfde sinne, terwyl die hart glad nie daarby is nie. Moet daarmee bly worstel dat enige gebed deur die dankbaarheid van u hart gedra word.

Daarom moet ook altyd God se Woord aan tafel oopgemaak word. Dwing uself om telkens weer in alle rus te luister na dit wat die HERE daarin tot ons wil sê. Dis 'n goeie christelike gewoonte om, so dikwels ons ons monde oopmaak om te eet, ook ons ore oopmaak om te luister. Dit is selfs die oorweging werd om dit nie na die ete nie, maar aan die begin van die maaltyd te doen: eers luister en dan eet.

En wat van 'n Psalm aan tafel? Sing u ook reëlmatig saam as gesin wanneer u die gesamentlike maaltyd gebruik? As die apostel Paulus in sy brief aan die Kolossense skryf oor die betekenis van Christus se opstanding vir ons daaglikse lewe, dring hy aan op reëlmatige Skriflesing: "Laat die woord van Christus ryklik in julle woon... "; maar dan voeg hy in een asem toe: "Leer en vermaan mekaar, met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing van harte met dankbaarheid tot eer van die Here". Ons moet ons geloof in die lewe ook uitsíng!

Dan mag u ook volop geniet as die HERE ons welvoorsiene tafels gee. 'n Christen hoef nie per definisie op mondjiesmaat te lewe nie. Wat die lewende God vir sy kinders gee, mag hulle ook ryklik geniet.

Maar u moet ook tevrede en dankbaar wees as die oorvloed verby is en die tafel suinig gedek. U moet ook dan bly glo dat u lewe nie afhanklik is van 'n gevulde maag en die bedrag op u bankrekening nie, maar dat u lewe tot in ewigheid gewaarborg is deur ons Here Jesus Christus. Hy staan Borg daarvoor dat u hemelse Vader u met alles wat vir u liggaam en u siel nodig is, sal versorg, in voor- en teëspoed. 'n Kind van God moet ook brood met tevredenheid kan eet! Dis 'n mooie gesegde, broeders en susters, seuns en dogters: 'n sny brood met tevredenheid.

Ons kan ook in armoede dank!

Bid u juis ook by die maaltye vir ons regering, broeders en susters, in verband met die ekonomiese situasie in ons land? Dra u hulle aan die Here op omdat u weet dat selfs die slimste ekonome en die mees vindingryke politici sonder die seën van die Vader van ons Here Jesus Christus niks kan regkry nie?

Kinders van die HERE wat in die lewe glo, eet ook in hierdie opsig anders as die wêreld, dat hulle nie net aan hulle self dink nie. Hulle eet in die gemeenskap van die heiliges, nie net 'n enkele maal aan die Nagmaalstafel nie, maar elke dag aan die huistafel. Hulle sorg nie net daarvoor dat hulle self genoeg kry om te eet en te drink nie, maar hulle let ook daarop dat hul broeders en susters nie kortkom nie. Dus is die diakonie in die gemeente 'n saak van almal saam.

En die wat deur die diakonie gehelp word, ervaar daar in konkreet dat Jesus Christus die léwe weer vir ons oopgemaak het.

Kinders van die lewende God kyk selfs verder as die eie gemeente en die broeders en susters binne die kerkverband. Hulle begeer om die lewe wat hulle van God ontvang het, aan so veel as moontlik ander mense mee te deel en hulle is bereid om daarvoor die noodsaaklike offers te bring. By die besteding van hulle inkomste dink hulle nie net aan hul eie spens en yskas nie, maar ook aan die belangrike opdrag tot evangelisasie en sending en allerhande christelike barmhartigheidswerk.

Sien, gemeente, so kan en moet ons vandag selfs aan tafel getuig van ons geloof dat ons danksy ons Here Jesus Christus die volk van die lewe mag wees.

En dan verstaan u nou wel dat een dankdiens per jaar, soos vanoggend, beslis nie genoeg is nie. Dit is maar net 'n skakeltjie in 'n léwe van dankbaarheid.

AMEN

(Pretoria, 7 April 1991)

Liturgie: 

(kyk in preek)