Die Here onderwerp die middelaar van die Ou Testament aan die reg van sy verbond

Minister: 
Ds FJ van Hulst
Church: 
(onbekend)
Date: 
2000-01-01
Text: 
Exodus 4
Preek Inhoud: 

Ps. 115: 1, 2
Ps. 115: 8, 9
SB. 34
Ps. 50: 7, 8
Ps. 50: 11
Lees: Gen. 17: 1 - 14 & Eks. 4: 18 - 31
Teks: Eks. 4: 24 - 26

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

U onthou van vorige week, hoe Moses klaargestaan het om na Egipte te gaan. Hy het, so vertel Eksodus 4, sy gesin en sy reisbaggasie, op 'n donkie gelaai. En op daardie oomblik spreek die Here hom weer aan. Toe ontvang hy sy laaste instruksies vir sy opdrag. Ook gee die Here vir hom woorde van bemoediging. Dit gaan nie 'n maklike opdrag wees nie, want Farao sal hom heftig verset, maar wat Farao ook sal sê, of doen, dit sal alles heeltemal gaan volgens die plan van die Here. Die teëstand van Farao is daar maar net tot meerdere eer en glorie van die God van Israel. Hy sal Sy volk met 'n magtige hand en 'n sterke arm uit Egipte lei.

Sover het ons verlede week gekom

Vandag lees ons 'n bietjie verder in dieselfde hoofstuk. Eintlik maar 'n merkwaardige, en vir ons onbegryplike verhaal. Nou het Moses, nadat hy lank teëgestribbel het, eindelik gehoorsaam geword, en in die pad geval het na Egipte. Nou kom die Here hom teë, en wil hom doodmaak! Dieselfde God wat eers vir Moses gesê het: Ek sal met jou gaan na Egipte, keer hom by die eerste oornagtingsadres teen hom.

Moses, die deur God geroepe ampsdraer, word nou deur Sy Sender met die dood bedreig.

En die optrede van Sippora, die vrou van Moses is al ewe merkwaardig. As Moses se lewe in gevaar is, besny sy haar seun, amper seker die jongste van Moses se twee seuns, en daarmee word Moses se lewe gered. Die Here laat hom staan. Dit beteken: die Here laat hom met rus. Dit is vir ons op die eerste gesig glad nie 'n begryplike insident nie. Maar as ons 'n bietjie verder deurdink oor die twee hoofpunte van die verhaal, naamlik die bedreiging met die dood, en die afwending van daardie dreiging deur die besnydenis, kan ons tog 'n bietjie verder kom in die verstaan van hierdie gebeurtenis.

Dit gaan hier oor die besnydenis. Soos u weet is die besnydenis die teken van God se Verbond met Israel.

Blykbaar was Moses nalatig gewees in die besnyding van sy jongste seun. En daarom word hy hier deur die Here met die dood bedreig.

Ons kan dit ook so sê: dit gaan hier oor die erns van die Verbond van God.

Daarom verkondig ek u in vanoggend se prediking:

DIE HERE ONDERWERP DIE MIDDELAAR VAN DIE OU TESTAMENT AAN DIE REG VAN SY VERBOND.

  1. Hy leer Moses om Hom as kneg van God te gedra.
  2. Hy leer Moses om die smaad van Christus te dra.

1. Ons kan hierdie merkwaardige verhaal slegs begryp, broeders en susters, as ons dit lees in onmiddellike verband met die verse wat voorafgaan. Daar het Moses sy laaste instruksies ontvang vir die konfrontasie met die Farao van Egipte.

Moses moet vir Farao gaan sê en verduidelik: Die God van die Verbond laat nie met Hom spot nie!

Wie die regte van God op Sy volk ontken, wie die regte van God se Verbond afwys, hy kry met die wraak van die God te doen. Farao sal sy eersgebore seun verloor, en op die ou end selfs sy eie lewe.

Daaroor het ons verlede week gepraat. Maar waar dit nou in ons teks om gaan, is dit: Voordat Moses oor die reg van God se Verbond by Farao kan praat, sal hy eers self met daardie reg van God te doen kry. Moses gaan nou uiteindelik wel na Egipte. Maar is Hy wel heeltemal daarvoor klaar? Hy het nog teveel van daardie Moses wat 40 jaar vroeër, die Egiptenaar doodgeslaan het. Ek sal my volk te hulp kom, so het Moses gedink.

Maar het Moses in die opsig, na 40 jaar, veel verder gekom? Verstaan hy nou goed wat sy eie posisie in die verhouding met die Here is?

Ons weet, uit Moses se huwelik met Sippora het hy twee seuns gehad.

Die eerste het hy Gersom genoem. Dit wil sê: Ek is 'n vreemdeling in 'n vreemde land. Dit was 'n belydenis van Moses. Ek is nou wel in Midian, maar daarom nog nie 'n Midianiet nie. My hart is by my eie volk in Egipte. By die volk van God. Die Verbondsvolk. My seun Gersom, behoort by daardie volk. Ons kan dan ook aanvaar dat Moses hierdie oudste seun volgens God se gebod op die agste dag besny het.

Sy tweede seun het hy Eliëser genoem. 'n Mooi naam. God is my hulp, beteken dit. Maar die gedagte dat ook hierdie seun by 'n ander volk behoort, het verdwyn. Hierdie seun is ook nie meer besny nie. Hierdie seun het eintlik 'n Midianiet geword.

Dalk het sy ma Sippora besware gemaak teen die besnydenis van haar kind. Sy het die sin van die bloedige gebeurtenis nie verstaan nie. By die eerste seun het sy dalk gesê: Nou ja, as jy vind dat dit moet. Maak maar so.

Maar by die tweede seun het sy gesê: Hierdie keer nie weer nie.

En terwille van die goeie verhoudings, het Moses toe maar toegewings gemaak. Maar nou kom die groot vraag: Kan dit wel?

Moses het dus die sakrament van die Verbond in sy eie gesin verwaarloos, maar kan hy dan wel spreek van die Reg van God se Verbond teenoor 'n ander, teenoor Farao?

Kan hierdie man wel middelaar word, die man wat self nie onvoorwaardelik vir die wet van God gebuig het nie?

As jyself in jou gesin in Midian God se bevel laat lê, kan jy dan wel God se bevel teenoor Farao en die hele wêreld handhaaf?

Nee, natuurlik nie, dis darem onmoontlik!

En daarom kom die Here hom op die eerste oornagtingsplek al teë, en bedreig hom met die dood!

Vir Moses aanvanklik 'n groot raaisel. Hoe kan dit? God Self het mos eers vir hom so 'n groot opdrag gegee? Mens sou sê: Moses kan nou nie nou sterwe nie! God het hom mos nodig, vir die uitvoering van Sy planne.

Maar so is dit nie.

Sekerlik, God wil Moses gebruik in Sy diens. Maar dan slegs as 'n kneg. 'n Kneg wat self onvoorwaardelik aan Sy Heer gehoorsaam is. Anders kan God hom nie gebruik nie. Moses moenie dink hy sal die volk uit Egipte verlos nie. Nee, die enigste ding wat hy moet doen is om die regte van die God van die Verbond in Egipte te proklameer.

Maar as Moses dan as woordvoerder namens die Here die reg van die Verbond gaan proklameer, sal hy homself eers heeltemal moet onderwerp aan die reg van God. Met sy hele gesin.

Op die oomblik dat Moses se lewe in gevaar is (op watter wyse ook al, dit word hier nie vertel nie. Dit mag wees deur middel van 'n Engel wat met hom worstel, of 'n akute siekte of wat ook al), op daardie oomblik besef Sippora as eerste wat verkeerd is.

Die God van die Verbond het gekom om Sy regte op te eis!

Sy regte op Moses se jongste seun!

Sippora het geweet van die besnydenis. Die oudste seun was mos al besny. Later het hulle dalk groot stryery gehad oor die besnydenis van die tweede seun, en het Moses vir haar vertel hoekom hy vind sy seuns moet besny word. Ons het sopas in Genesis 17 daaroor gelees.

Die besnydenis is die teken van God se Verbond. Uit dieselfde hoofstuk Genesis 17 blyk ook, dat die Here daaroor baie ernstig is.

Daar staan die doodstraf op, as iemand daarin nalatig is. Gen. 17: 14: Al wat manlik is, en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie - die siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het My Verbond verbreek.

Omdat Moses sy jongste seun nie besny het nie, is hy as verantwoordelike vader aanspreeklik. Moses het self die Verbond verbreek! Om jou kind nie te besny nie, dit is om jou nageslag van die volk van God af te sny!

En daarom word Moses hier met die dood bedreig.

Moses moet goed weet, dat daardie besnydenis vir God nie 'n onbetekenende kleinigheid is nie.

Uit medies-tegnies oogpunt beskou, is die besnydenis 'n kleine ingryping aan die manlike geslagsdeel, maar vir God is dit die grote ingryping in die lewe van Sy bondgenote!

By die besnydenis is 'n kleine stukkie vel weggesny. In die ou oosterse wêreld is daardie maatreël dikwels toegepas uit gesondheidsoorwegings.

Maar die Here het daarvan 'n teken gemaak.

Ons kan die bedoeling van die teken goed verstaan, vanuit die letterlike betekenis van die handeling van die besnydenis.

Die voorhuid besny, dit bedoel om 'n belemmering uit die pad te ruim. So is die besnydenis tot vandag toe by talle volke in gebruik as 'n volwassenheidsritueel by seuns. Hul geslagsdeel word daarmee geskik gemaak vir die huweliksomgang.

Wel, en nou die besnydenis in Israel. Dit moes gedoen word by die klein seuntjies op hul agste lewensdag. Die verbinding van die besnydenis met die huwelikslewe het daarby uiteraard verdwyn.

Maar die besnydenis bly die betekenis hier van: 'n belemmering uit die pad ruim. En so het dit tot teken van die Verbond geword. 'n Belemmering vir die samelewe met die Here word weggeneem.

Daarom eis die Here dit van Sy volk! Die besnydenis simboliseer die moontlikmaking van 'n omgang van die Here met die volk van Sy Verbond.

As ons daardie herkoms van die woorde besnydenis sien, verstaan ons ook allerhande Bybelse uitdrukkings soos: 'onbesnedenes van hart' Dit beteken die hart is vir die Here toegesluit. Dit funksioneer nie goed in die omgang met God nie. Dan moet, soos 'n profeet sê: die voorhuid van die hart weggesny word.

U kan ook dink aan die uitdrukking: 'onbesnedenes van oor wees'. Dit is wat Israel dikwels verwyt word. Dit bedoel nie dat 'n stukkie van hul ore weggesny moet word nie, maar dit beteken, Israel luister nie na die Woorde van die Here nie. Hul ore werk nie goed in die gemeenskap met God nie. Hulle het hul ore toe vir Sy Woord.

Die besnydenis bedoel dus altyd, om iets te verwyder wat in die pad staan. Die besnydenis is nodig, anders kan daar nie 'n omgang met God in die Verbond wees nie. Dit is maar nie 'n vanselfsprekende saak dat jy in die Verbond is nie.

Daar is niks geen outomatisme nie, so van ouers in die Verbond, dus ook die kinders.

Nee, dat ouers saam met hul kinders in die Verbond is, is 'n reël van genade.

Daarom wil God by elke besnydenis weer wys, dink daarom, jy is nie sommer in die Verbond nie, daarvoor moet baie gebeur. Daarvoor moet bloed vloei.

Seker, 'n Ander Iemand sal later daarvoor moet betaal, sodat mense uit die Ou of Nuwe Verbond in die Verbond opgeneem kan word. Maar, en daarom gaan dit in ons teks, ook die besnedene self sal merk dat hy voortaan in 'n Verbond met God lewe.

Die besnydenis is 'n diepingrypende saak, in die lewe van die besnedene.

Hy sal dit merk: Daar word 'n mes in sy vlees gesit!

Want nou het die Here regte wat Hy kan opeis.

Ook Moses het dit agtergekom. God neem Sy Verbond heeltemal ernstig.

Voordat Moses by Farao kom, moet hy daarvan goed deurdronge wees. As dit gaan oor die Verbond, is dit 'n saak van lewe of dood.

God laat ook nie met Hom spot deur 'n Moses nie, wat sê: Ja Here, ek sal u gehoorsaam... maar ondertussen neem hy in sy eie gesin die Verbond nie ernstig nie.

Kyk, wie 'n dienskneg van God wil wees, moet begin om self God se eise heeltemal ernstig te neem.

Dit geld vir ons vandag nog net so goed, as vir Moses. Ons staan almal in diens van die Here, byvoorbeeld as 'n profeet Sy Naam te bely.

Maar as 'n mens dit wil doen, moet jy begin om weg te doen al wat in jou eie lewe verhard is.

Iemand wat self met 'n paar honderd of 'n paar duisend Rand finansieel knoei, is nie geloofwaardig as hy hom kwaad maak oor finansiële grootkoppe, wat dit met 'n paar miljoen doen nie.

Iemand wat self graag 'n paar skuinse grappe vertel of wil aanhoor, sal nie meer ernstig geneem word as hy praat oor seksuele verwording onder die volk nie.

Iemand wat self elke aand voor die Televisie hang, kan moeilik die gereelde fliekganger kritiseer.

Iemand wat homself by enige braai amper dronk drink, ontneem homself die moontlikheid om iets te sê oor kroeg besoek van die jeug. U kan self die voorbeelde wel met tientalle aanvul.

Dit kom in die lewe met die Here baie nou. Wie oor verbondseise van die Here praat, mag nooit sy eie boodskap in die pad staan nie. Dit kon nie by Moses nie, dit kan ook nie by ons nie.

2. Die Here leer Moses om die smaad van Christus te dra.

In ons teks is Sippora die eerste wat verstaan wat daar aan die gang is. Moses het in sy pligte teenoor die Here ten opsigte van die besnydenis van sy seun tekort gekom. Nou kom God met die wraak van Sy Verbond na Moses.

En dan doen Sippora wat Moses lankal moes gedoen het.

Sy vat 'n skerp klipmes, en besny die voorhuid van haar seun. Of eintlik, nee, dit staan nie hier nie.

Daar staan nie: En Sippora het die voorhuid van haar seun besny nie. Maar, sy sny die voorhuid van haar seun af.

Daarmee word dit bedoel: Vir Sippora self hoef dit alles nie.

Vir haar is die besnydenis nie meer as slegs die wegsny van 'n stukkie vel nie.

Dit is presies dieselfde verskil as wat daar lê tussen die volgende uitdrukking:

Iemand kan sê: Ek is gedoop.

Iemand kan ook sê: Toe ek 'n kind was het hulle in die kerk water oor my kop gegooi. Altwee praat oor dieselfde gebeurtenis, maar wat 'n wêreld se verskil lê daar tussen die twee uitdrukkings. In die eerste geval: 'ek is gedoop' maak jy duidelik jy verstaan die betekenis van die gebeure. In die tweede geval praat jy net oor die gebeure as sodanig.

So praat Sippora. Sy sny die voorhuid af en sê: Daar dan. Sy gooi die hele saak voor Moses se voete!

Nou het jy jou sin! Nou is ook hierdie seun van jou besny. Waarlik jy is vir my 'n bloedbruidegom! voeg sy nog daaraan toe. Sy bedoel: Wat moet ek met 'n eggenoot, wat so 'n God wil dien. Met die God van jou is jy jou lewe nie seker nie.

Daar moet eers bloed vloei, voordat daardie God tevrede is!

Jy is 'n bloedbruidegom vir my. Wil ek jou as eggenoot in lewe hou, moet daar bloed vloei. Bloedbruidegom.

Vanaf daardie oomblik het God of die Engel, Moses laat staan. Dit beteken. Toe het God Moses met rus gelaat.

Immers, die bloed het nou gevloei.

En Moses, en om hom gaan dit hier, het baie geleer.

Hy het aan sy eie liggaam ondervind, hoe nou God dit neem met die reg van Sy Verbond.

Dalk het Moses terwille van die vrede met Sippora, die besnydenis vanhierdie seun indertyd uitgelos.

Maar nou weet hy voorgoed, dat dit nie so kan nie.

Wie die Here wil dien, moet kies. Ook in sy huwelik of eintlik beter nog voor sy huwelik.

Dan kan dit beteken dat 'n mens in sy eie vlees moet sny.

Moses het agtergekom watter probleme daar kom as man en vrou in die lewe met die Here, nie langs mekaar staan nie.

Ons teks vermeld dit nie, maar die volgende dag vat Sippora haar koffers, of wat sy ook maar gehad het, en keer met haar twee kinders terug na haar huis. Na haar pa Jetro.

En dan moet Moses alleen verder. Net met die Here.

Eers in Eksodus 18, as die hele uittog uit Egipte agter die rug is, en die volk by die berg Horeb aankom, dan word Moses weer met sy gesin herenig.

Dit alles moes vir Moses baie swaar gewees het, dat hy sy eie vrou nie kon saam neem op die weg wat die Here met hom wou gaan nie.

Dit gaan dikwels so. Gehoorsaam wees aan die Here kan baie swaar wees. Gelukkig hoef dit nie altyd in 'n gesin probleme te gee nie, maar dit kan soms nodig wees dat 'n mens gehoorsaamheid aan die Here moet stel, bo die vrede in die gesin of die familie.

Ons teks sluit af met 'n, op die eerste gesig, wat oorbodige opmerking. Nadat die Here Moses se lewe nie meer bedreig nie, word Sippora se woord herhaal.

Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! - met die oog op die besnydenis.

Bloedbruidegom, dit is 'n woord vol ergernis en spot!

Die skrywer van die boek Eksodus vermeld dit nog 'n slag ekstra: Sy sê dit met die oog op die besnydenis.

Om dit te verstaan moet ons onthou: Die besnydenis beteken: Daar moet bloed vloei as 'n mens met God wil omgaan!

Daar moet bloed vloei. Die paar druppels bloed by 'n besnydenis is simbolies vir 'n andere bloedstorting. Die bloedstorting van Gods Eie Seun.

In sy toorn oor die sonde, wat God op Christus uitstort op Golgota, kom God Sy Seun teë, maar daar gaan die besnydenis van 'n ander nie help nie. Dan word Hom al die bloed uitgepars.

Hy sal al Sy bloed moet stort, om as bruidegom die lewe van Sy bruid, die volk van God te kan red. Jesus Christus sal die Middelaar van die volk van die Nuwe Verbond wees, soos Moses die Middelaar van die volk van die Ou Verbond was. Jesus Christus sal die Nuwe Verbond met die storting van Sy bloed beseël en bekragtig.

En daarin is Hy die Bloedbruidegom van die Nuwe Testament, gemeente.

Van die bruid van Christus. Dit sal vir Christus 'n eer wees om terwille van Sy bruid 'n bloedbruidegom te wees! Hy sal Sy bloed laat vloei, nie maar 'n paar druppels nie, maar alles, terwille van Sy bruid.

Bloedbruidegom. Vir Hom 'n erenaam!

Maar moenie vergeet wie daardie naam eerste gebruik het nie. Sippora, Moses se ongelowige vrou.

Sy bespot haar eggenoot: Bloedbruidegom!

Wat 'n bespotlike besigheid, so 'n besnydenis. Dat jy daardeur jou lewe by God moet veilig stel.

Hoor u dit gemeente: Sippora bring hier haar skerp, en met een woord, heel die dwaasheid en die ergernis van die kruis van Christus onder woorde.

Sippora bespot hom vanweë sy diens aan die Here.

Ag Moses, moes ons daarvoor nou ons lekker lewe in Midian opgee, om so 'n God te gaan dien, wat Hom onmiddellik teen jou keer, as jy nie presies doen wat Hy vra nie?

O, hoe het Moses hierdie spot gevoel!

En dan nog wel van die kant van sy eie vrou!

Hier word Moses swaar op die proef gestel. Maar Moses het baie geleer. Hy leer nou om die smaad van Christus te dra.

Dan maar 'n bloedbruidegom, dan maar alleen verder. Maar die Here wil ek dien!

Deel in die smaad van Christus, dit is die lot van almal wat bewus wil lewe vanuit die Evangelie van die kruis van Christus.

Seker, dan maak jy jou bespotlik in die oë van mense. Wat kan die bloed van 'n ander nou vir jou beteken? Wat gaan dit jou help in jou lewe van vandag.

En tog is dit die pad wat die Here ons wys. Roem net in die kruis van Christus. Dit is jou enigste redding.

En dan moet jy maar op die spot van die wêreld reken, maar Christus belowe vir jou: Laat hulle maar spot, maar Ek sal jou eer.

En Ek sal jou lewe red.

Wie My Naam bely voor die mense

Ek sal sy Naam bely voor My Vader.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)