Die HERE toon opnuut genade aan sy kinders deur hulle uit die gevolge van hulle eie sondes te bevry

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-04-07
Text: 
Rigters 10:1-5
Preek Inhoud: 

Miskien moes u destyds op skool die name van al die rigters uit u kop leer: ses groot rigters en ses klein rigters.

Die groot rigters is vir ons welbekend: Otniël, Ehud, Barak, Gideon, Jefta en Simson.

Die klein rigters word egter ook in die Bybel genoem: Samgar, Tola, Jaïr, Ebsan, Elon en Abdon.

Vandag handel ons teks oor twee van hierdie klein rigters.

 

Tema: Die HERE toon opnuut genade aan sy kinders deur hulle uit die gevolge van hulle eie sondes te bevry

  1. Tola se rigterskap bring stabiliteit
  2. Jaïr se rigterskap bring ingeslapenheid

 

  1. Tola se rigterskap bring stabiliteit

As ons begin deur na Tola te kyk, blyk dat die terme groot en klein misleidend kan wees.

Tola het naamlik vir 23 jaar lank vir Israel gerig.

Dit is ten minste ewe lank of langer as die sogenaamde groot rigters.

Die benaming dui eintlik veral op hoeveel aandag in die Rigterboek aan ‘n persoon bestee word.

Aan mense soos Gideon, Jefta en Simson word uitgebreid aandag bestee.

Nie noodwendig omdat hulle sulke goeie rigters was nie.

In elkeen se geval was hulle baie gebrekkig.

Daarenteen dui die min inligting wat ons oor Tola lees, wel daarop dat hy ‘n stabiele en voorbeeldige rigter was.

 

Die tyd van sy bediening was eintlik ‘n welkome verademing.

‘n Tussenperiode van rus te midde van al die onrus.

Die volk kon bietjie op asem kom na Abimeleg.

“Na Abimeleg” – dit is die woorde waarmee hierdie gedeelte begin.

Hierdie twee woorde spreek boekdele.

Dis nie net ‘n tydsaanduiding nie.

Na Abimeleg se diktatuur was die volk platgeslaan, moeg vir alle geweld, moeg vir die gebaklei onder mekaar.

Al waarna hulle gesmag het, was rus.

En dit is wat die HERE in sy genade geskenk het gedurende die Tola-tydperk.

Dit lyk of Tola se lewenstaak geword het om al die brokstukke van Abimeleg se magsmisbruik op te ruim.

Juis in die stabiliteit van Tola se bediening het die verlossing vir Israel gekom.

Opvallend dat daar in vers 1 staan dat hy, Tola, Israel verlos het.

Ons lees egter geen woord oor ‘n vyand, Midianiet, Ammoniet, Amalekiet of Filistyn uit wie se hand Israel verlos moes word nie.

Ons lees ook nie van enige militêre optrede nie.

Nee, Israel moes verlos word van hulleself.

Hulle moes verlos word uit die nare gevolge van hulle eie sondes.

Tydens Abimeleg was daar burgeroorleg, interne gebakleiery, die volk het homself vernietig.

Onverdiende genade, dat die HERE nou ‘n rigter skenk, wat die teenoorgestelde van Gideon en sy seun Abimeleg was.

Iemand wat die volk nie verdeel het nie, maar saamgebind het.

 

Dat Tola ‘n samebindende faktor was, kan mens aflei uit die enkele details wat oor hom opgeskryf is in ons teks.

Hy was afkomstig uit Issaskar.

As mens op die kaart kyk, lê hierdie stam se grondgebied in die noorde van Israel, by die See van Galilea.

Maar hy het gewoon – hierdie woord kan ook vertaal word met – hy het sy werk as rigter gedoen, hy het sy bediening gehad – in Samir op die gebergte van Efraim.

Samir is waarskynlik ‘n ou naam vir Samaria.

Dus, waar in Abimeleg se tyd tribalisme hoogty gevier het, waar stamme en families mekaar beveg het, werk Tola se optrede as rigter samebindend.

Afkomstig uit Issaskar verrig hy sy taak in Efraïm, en hy word daar gewaardeer.

Al is hy uit ‘n ander stam afkomstig, sy gesag word aanvaar.

Dit blyk uit die feit dat hy daar ook begrawe word.

Baie keer gebeur dit dat mense verkies dat hulle stoflike oorskot begrawe word in hulle tuisdorp, waar hulle grootgeword het, die enigste plek waar hulle regtig tuis gevoel het.

By Tola was dit nie so nie.

In Efraïm het hy ‘n nuwe tuiste gevind.

En die mense daar het hom ook in hulle hart gesluit.

 

Die HERE het Tola gegee om sy volk te red uit die rampspoedige gevolge van Abimeleg se oorheersing.

Die HERE het dit gedoen deur aan sy volk ‘n periode van stabiele administrasie te gee.

Hy het sy volk gered van desintegrasie deur die rustige hand van Tola, om die interne storms tot bedaring te bring.

So het Tola gerig vir 23 jaar.

Daarna het hy gesterf en is begrawe.

Nie werklik ‘n spektakulêre loopbaan nie.

Beslis nie so opsienbarend as die van ander rigters soos Simson of Gideon nie.

Maar hy  het ten minste Israel in ‘n beter toestand agtergelaat as wat hy die volk gekry het.

 

Soos ek genoem het, Tola staan bekend as een van die klein rigters.

Net soos Samgar byvoorbeeld.

Maar omdat hy onopvallend trou sy dienswerk bly doen het, is hy waarskynlik in God se lewensboek een van die uitstaande rigters.

Deur sy regspraak het hy die volk bewaar by die wysheid en stabiliteit van God se wette.

En net soos Tola was daar deur die eeue mense, wat trou die HERE gedien het en hulle ampstaak verrig het.

Hulle name het nie in geskiedenisboeke behoue gebly nie.

In die geskiedenisboeke staan dikwels die name van groot manne, hulle wat die voorblaaie van die koerante gehaal het.

Maar in God se oë is hulle nie noodwendig groot nie.

God se oë sien sien genadig neer op wie voor Hom in kleinheid lewe (Ps 113).

Oor sommiges van hulle lees ons in die Bybel, mense soos Tola en Rut uit die Rigtertyd.

Baie van hulle name word nie eers genoem nie.

Hulle biografie is nêrens opgeteken op aarde nie.

Maar hulle name staan vermeld in die boek van die lewe.

God ken hulle by naam.

Dit ontgaan Hom nie hoe sy werk in hulle lewens vrugte gedra het nie.

 

Met hierdie ingesteldheid, gemeente, mag ons ook ons lewenstaak verrig.

As gelowiges is ons lewensdoel is nie om groot of belangrik of ryk of invloedryk te word nie.

Ons lewensdoel is om die HERE te behaag.

En as dit wel in sy raad so verordineer is dat ons belangrik of invloedryk word op aarde, dan word ons dit ook in hierdie hoedanigheid: steeds met die besef dat ons hier op aarde is om Hom te dien en sy Naam groot te maak, nie ons eie nie.

 

Ons kom nou by die tweede rigter wat in ons teks kort beskryf word: Jaïr.

 

(Tema: Die HERE toon opnuut genade aan sy kinders deur hulle uit die gevolge van hulle eie sondes te bevry

  1. Tola se rigterskap bring stabiliteit)

 

 

  1. Jaïr se rigterskap bring ingeslapenheid

Jaïr se rigtertyd begin anders as die van Tola.

Tola het begin rig kort na die chaos wat Abimeleg agtergelaat het.

Deur trou en onopvallend sy ampstaak te verrig, het stabiliteit, vrede en voorspoed vir God se volk teruggekeer.

In so ‘n toestand begin Jaïr nou met sy taak.

Jaïr was in sekere sin ‘n welvaartskind.

Hy groei op in goeie tye.

Hy is afkomstig uit Gilead.

Nou Gilead was ‘n gebied ten ooste van die Jordaan wat bekend gestaan het vir sy vrugbare weivelde.

Israel het destyds hierdie land in ontvangs geneem nadat die HERE die konings van die Amoriete in hulle hand gegee het (Deut 2-3).

Dit was sulke mooi land dat die stamme aan wie hierdie gebied toegewys is, nie belang gestel het om enigsins verder te trek nie.

Moses moes hulle ernstig daarop wys dat hulle slegs daar mog begin boer nadat hulle eers die ander stamme gehelp het om die res van die land wes van die Jordaan in besit te neem (Numeri 32).

Gilead was dus ‘n landstreek waar mens maklik kon ryk word.

 

Die weinig wat hier oor Jaïr geskryf word, is genoeg om tot die gevolgtrekking te kom dat hy inderdaad ‘n ryksmanslewe gelei het.

Dan dink ons aan die verwysing in vers 4 dat hy derdtig seuns gehad het, wat op dertig jong esels gery en dertig stede gehad het.

Glo dit of nie, maar in daardie tyd was om te ry op ‘n esel hings ‘n statussimbool.

Nie verniet staan daar in die tien gebooie: jy mag nie jou naaste se esel begeer nie.

En die feit dat hy dertig seuns gehad het, die dogters nog nie eers bygereken nie, was slegs moontlik omdat hy baie vroue gehad het.

En ook dit was ‘n statussimbool.

Al daardie vroue moes gevoed word, moes blyplek hê, ensovoorts.

Al met al was Jaïr ‘n skatryk rigter.

 

En sulke tye was daar dus inderdaad ook in die Rigterperiode.

Daar was tye van hongersnood – dink aan Elimeleg en Naomi wat weens broodgebrek uit Betlehem weggetrek het.

Maar daar was ook tye van oorvloed.

En dan was die landstreek van Gilead die kersie op die koek.

 

Nou is daar op sig niks verkeerd met vrede en voorspoed nie.

Dit is ‘n seën wat mens dankbaar uit God se hand mag ontvang.

Maar in rykdom skuil daar ook gevare.

En die min wat oor Jaïr vertel word, wys inderdaad uit dat sy bene nie sterk genoeg was om al daardie welvaart te dra nie.

Die feit dat hy ‘n dosyn of meer vroue gehad het, was ‘n tipiese gewoonte van die heidense konings.

Net soos Gideon het hy homself al die status en oordaad van die Kanaänitiese vorstelewe veroorloof.

Dit was totaal nie nodig vir sy ampstaak as rigter nie.

Dit het die uitoefening van sy amp beslis nie bevorder nie, eerder gestrem.

Jaïr se geflirt met die heidense leefstyl is hier in die Skrif nie opgeskryf as ‘n kompliment nie.

Die Rigterskrywer wil naamlik dat ons hierdie geskiedenis beoordeel in die lig van God se wet.

En reeds in sy wetgewing aan Moses het die HERE indringend gewaarsku:

“Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.” (Deut 17:17)

 

Die stam Manasse wou graag in Gilead agterbly.

Hulle het nie belanggestel om verder oor die Jordaan te trek nie.

Die land Gilead met sy vrugbare weivelde was vir hulle aanloklik.

Net soos die Jordaanvallei destyds vir Lot aanloklik was, toe Abram vir hom die keuse gegee het.

Maar saam met hierdie vrugbare land het ook die versoeking van welvaart gekom.

En soos die Here Jesus gewaarsku het:

“Voorwaar Ek sê vir julle dat 'n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan. En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.” (Matt 19:23-24)

Het Jaïr en sy dertig seuns die koninkryk van die hemele ingegaan?

Ons teks doen daaroor geen uitspraak nie.

Maar as die enigste wat oor ’n mens by jou begrafnis gesê kan word is dat jy ’n baie ryk man was, na wie dertig stede vernoem is, dan is dit nie ’n goeie teken nie.

 

Ook kan ons onsself afvra of Jaïr se seuns se heerskappy die volk ten goede gekom het.

As ’n regeerder al sy seuns in hoë posisies aanstel, ruik dit baie na nepotisme.

Jaïr lyk soos ’n soort Zuma van sy tyd, wat sy familie in invloedryke posisies geplaas het.

Waarskynlik was Jaïr se rigterskap meer tot voordeel van sy familie, as dat dit tot voordeel van God se hele volk was.

Sy 22 jaar rigtertyd was ’n donker voorbode van wat sou volg, waarvan mens in die res van hoofstuk 10 lees.

Jaïr se rykmanseuntjies was nie veel werd toe die Ammoniete die land weer begin binneval het nie.

Daar het geen leiding van die Jaïrsdorpe uitgegaan om die volk te beskerm nie.

In die volgende hoofstuk sal ons lees dat nie Jaïr of sy seuns nie, maar ’n verstoteling, Jefta, die seun van ’n hoer, die voortou moes neem in die stryd teen die Ammoniete.

 

Gemeente, ons teks beskryf kortliks twee rigters se loopbane.

Die een onopvallend maar so waardevol.

Die ander opvallend en uitspattig, maar waardeloos.

God het, na die chaos en gruweldade van Abimeleg se bewind, uit louter genade sy volk jare van rus geskenk.

Die HERE het opnuut genade aan sy kinders getoon deur hulle van die gevolge van hulle eie sondes te bevry.

Die volk kon herstel van die wonde wat hulle hulleself aangedoen het.

Onder Tola se rigterskap en wyse administrasie het daar stabiliteit geheers.

Die mense wat die skrikbewind van Abimeleg meegemaak het, het waarskynlik gedink: dit nooit weer nie.

Nooit weer oorlog nie.

Maar in daardie einste jare van voorspoed en stabiliteit is egter die saad vir die volgende ellende gesaai.

Naamlik toe God se volk, met name in die vrugbare Gilead, die gevare van die rykdom onderskat het.

Jaïr se seuns het hulle prag en praal uitgestal.

Welvaart het God se volk aan die slaap gemaak met ‘n valse sekuriteit.

Daar het ingeslapenheid gekom.

Spoedig was die bitter lesse uit die verlede weer vergete.

Mense het gedink dat die goeie tye ewig sou voortduur.

Hulle het vasgekyk in die hede.

Hulle het in die verlede nie meer belanggestel nie.

Hulle was nie voorbereid op die toekoms nie.

Toe die volgende krisis aanbreek, was hulle totaal onvoorbereid.

 

Eendag moet ons almal voor God se troon staan, en rekenskap gee van hoe ons ons taak op aarde vervul het.

Die HERE gee aan ons tye van voorspoed, vrede en stabiliteit.

Die HERE laat tye van krisis ook ons lewenspad kruis.

Hoe staan ons in die lewe?

Doen ons trou wat die HERE aan ons opgedra het, in voor- en teëspoed?

In daardie geval sal die oordeelsdag vir ons geen krisis wees nie.

Christus waarsku ons om gereed te wees vir hierdie dag, wanneer ons voor God gaan verskyn.

Was Jaïr gereed toe hy ontslaap het?

En sy dertig seuns?

 

Op ‘n manier, gemeente, was Tola ‘n voorafskaduwing van ons Here Jesus Christus.

Hy, ons hoogste Rigter, het ook trou sy werk gedoen.

Hy was nie uit op mag of die waardering van mense nie.

Hoewel sy dissipels wou hê dat Hy so gou as moontlik op die troon moes plaasneem, het Hy daardie versoeking weerstaan.

Hy het Homself nie Koning genoem nie.

Hy het nie Homself verhoog nie, maar gewag tot die tyd daar was dat die Vader hom sou verhoog.

 

By Tola lees ons nie dat hy koninklike allures begin aanneem het nie.

Dit was juis wat ander rigters tot ‘n val gebring het.

Gideon wou aan die een kant nie koning genoem word nie, maar aan die ander kant was sy lewenswyse wel so uitspattig soos ‘n koning s’n, en het hy homself soos ‘n tiran begin gedra.

Later het hy een van sy seuns wel Abimeleg genoem, wat beteken: seun van ‘n koning.

By Abimeleg het al die negatiewe elemente uit Gideon se lewe voortgegaan en net nog vererger.

En ook Jaïr het daardie gewoontes van die heidense konings oorgeneem, waar Moses se wet so duidelik teen gewaarsku het.

Tola het egter sy plek geken.

Juis so het hy die volk ‘n groot diens bewys.

Net so het Christus sy plek geken.

Sy lydensweg het Hy gehoorsaam gevolg.

Hy het nie voortydig na die mag gegryp nie.

Hy het nie al die koninkryke van die aarde begeer toe satan dit vir Hom aangebied het nie.

En juis daardeur het Hy aan God se volk ‘n ongekende diens bewys.

Hy het trou sy ampswerk verrig, tot die bitter einde, ja tot die kruisdood op Golgota.

So kon Hy blywende vrede bewerkstellig.

Ons herdenk dit elke jaar weer met Goeie Vrydag en Paasfees.

Ons verwonder ons oor sy ampswerk wat Hy hier op aarde kom verrig het.

Die manier waarop Hy dit gedoen het.

Wat ‘n voorreg om onder hierdie Rigter se bewind te mag lewe!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 89:1,3

Wet

Ps 60:1

Gebed

Skriflesing: Rigters 10

Ps 60:2-4

Teks: Rigters 10:1-5

Preek

Ps 113:1-3

Gebed

Kollekte

Ps 89:5,9,10

Seën