Die vierde gebod vind in Christus sy wese en vervulling

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2019-02-03
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 38
Preek Inhoud: 

In hierdie preek kyk ons na die positiewe kant van die vierde gebod.

Wat gebied God ons?

 

Tema: Die vierde gebod vind in Christus sy wese en vervulling

1 Hoe Christus die rusdag gevier het

2 Hoe die rusdag simbool is vir die ewige rus in Christus

 

1 Hoe Christus die rusdag gevier het

Wat gebied die Here ons eintlik in die vierde gebod?  Hoe behoort Sondag vir ‘n gelowige te lyk?  Uit die praktyk blyk dat die manier waarop mense die Sondag invul, baie uiteenlopend is.  Vandaar dat dit nodig is dat ons eerstens teruggaan na die Bybel.  Ons moet ons Heiland, Jesus Christus self, as voorbeeld neem.  Sy woorde en dade roep ons tot navolging.  Want ons word Christene genoem, ons deel in dieselfde salwing as profeet, priester en koning.

 

Die eerste wat ons in die Evangelies oor hierdie onderwerp lees, is die gewoonte van ons Heiland om op elke sabbat na die sinagoge te gaan.  Hy was ‘n Skrifgeleerde, en ons lees dat Hy ook self voorgegaan het in die sinagogedienste.  Sien byvoorbeeld Markus 1:21: “dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer.”  Ook in Markus 3 lees ons dat Jesus op die sabbat die sinagoge besoek het.  So ook in Markus 6: “En toe dit sabbat geword het, begin Hy in die sinagoge te leer” (vers 2).  In Lukas 4:16 staan: “Toe kom Hy in Nasaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te leer.”  Baie duidelik lees ons hier dat dit die gewoonte van die Heiland was.  Hieruit kan ons die volgende leer:  Om iets uit gewoonte te doen, is nie verkeerd nie.  Goeie gewoontes is baie belangrik.  Om gewoond te raak aan ‘n goeie gebruik is selfs baie goed.  En so was ons Heiland gewoond om sinagoge toe te gaan, ons sou vandag sê, om kerk toe te gaan op die rusdag.  So was Hy opgevoed.  Verder in Lukas 4 lees ons dat Jesus na Kapernaüm gegaan het en daar op die sabbat geleer het (vers 31).  In ons vertaling kom dit nie so mooi uit nie, maar in die oorspronklike Griekse teks staan dit so dat Jesus gewoond was om daar op die sabbat te leer.  Nie net eenmalig nie, maar dit was sy gewoonte.

 

Gemeente, tot dusver het ek ‘n aantal voorbeelde uit die Skrif genoem van hoe ons Heiland die goeie gewoonte gehad het om op die rusdag die eredienste in die sinagoge te besoek.  Dit was ‘n vaste onderdeel van sy rusdag.  Dit bring ons by die volgende punt.  Dit gaan oor werk op Sondag.  Ons hoef nie te werk nie.  Dit is ‘n voorreg, wat ‘n heerlike gebod.  Die HERE verbied ons selfs om op hierdie dag te werk.  As ons nou weer teruggaan na ons Heiland, dan sien ons dieselfde by Hom.  Die sabbat was ‘n feesdag.  Juis die rus op sabbat het dit anders gemaak as die ander weeksdae.  En juis die rus op sabbat het dit moontlik gemaak dat Hy die eredienste in die sinagoge kon bywoon.  Terselfdertyd sien ons by ons Heiland dat sommige arbeid wel deurgegaan het.  Eerstens het Hy op die sabbat voorgegaan en geleer.  Daardie werk was daar vir die wat die verantwoordelikheid ontvang het om die Woord te bedien.  Tweendes het ons Heiland op Sondag ook soms ‘n genesing verrig.  Dus bepaalde werksaamhede het op die sabbat wel voortgang gevind.  Ons noem dit noodsaaklike arbeid.

 

In die Bybel vind ons ‘n aantal voorbeelde van genesings wat Jesus op die sabbat verrig het.  Kom ons kyk vir ‘n oomblik na ‘n paar.  In Mattheüs 12 lees ons dat Christus op die sabbat ‘n man genees het met ‘n verskrompelde hand.  Die Fariseërs het Hom toe ondervra of dit wel geoorloof was.  Jesus het toe die volgende voorbeeld genoem:  Wie sou sy skaap, wat per ongeluk op sabbat in die put geval het, nie daaruit haal nie?  Dit is mos geoorloof om goed te doen op sabbat?  As jy dit aan ‘n skaap sou doen, hoeveel te meer aan ‘n mens?

 

Ook in Markus 6 lees ons hoe die Heiland op sabbat siekes deur handoplegging genees het.  In Johannes 5 lees ons dat Christus ‘n man wat al 38 jaar lank siek was, en steeds by die baddens van Bethesda gelê het, genees het.  Ook dit het op ‘n sabbat gebeur.  Ook hieroor het Jesus ‘n konflik met die Fariseërs gekry.  Eerstens omdat Hy dit gedoen het.  En tweendes omdat Hy vervolgens die man ook nog toestemming gegee het om sy matras te dra.

 

Nog ‘n voorbeeld vind ons in Johannes 9 waar Jesus ‘n blinde genees.  Ons het dit gelees.  Hy het dit gedoen deur klei op sy oë te smeer.  Ook hierdie keer het dit op ‘n sabbat gebeur.  En ook hierdie keer raak Jesus in konflik met die Farsieërs.  En die blinde man, wat genees is, moes dit ook ontgeld.

 

As mens dit alles so lees, val dit wel op dat Jesus elke keer probleme gehad het met die Fariseërs en Skrifgeleerdes, elke keer weer oor die sabbat.  Wie was hierdie mense eintlik?  Die Fariseërs was die geestelike leiers van die volk.  Wat betref die sabbat het hulle ‘n hele netwerk van bepalings opgestel rondom die vierde gebod.

Hierdie bepalings het ten doel gehad om te sorg dat die volk die vierde gebod stiptelik sou nakom.  Daarmee is op sig niks verkeerd nie.  As mens die vierde gebod in die praktyk konkreet wil toepas, dan moet mens gewoon afsprake maak en reëls neerlê.  Dit blyk ook wel uit die wette van Moses, soos ons dit in die eerste vyf boeke van die Bybel vind.  So maak Christene vandag nog steeds onderlinge afsprake en reëls.  Byvoorbeeld dat op Sondag slegs noodsaaklike arbeid verrig mag word.  Hierdie bepalings het die Fariseërs dus ook gehad.  Vir minder ernstige mediese kwale hoef mens die dokter op Sondag nie lastig te val nie.  Dinge soos hooikoors of ‘n seer knie kan tot môre wag.  Op dieselfde manier het die Fariseërs ook gedink oor wat Jesus gedoen het.  Hierdie blinde man kon nog wel ‘n dag langer blind gebly het.  En die man met die verskrompelde hand sou nie doodgaan as Jesus hom eers die volgende dag sou genees nie.  Dus hoekom moes Jesus dit nou per sé op Sabbat doen?  Hulle het gekrenk gevoel omdat Jesus so nonchalant met hulle bepalings omgegaan het.

 

Daar was nog meer voorbeelde, dat Jesus skynbaar nonchalant met hulle bepalings omgegaan het.  ‘n Baie bekende een is dat Jesus sy dissipels toegelaat het om koringare te pluk, die korrels in hulle hande skoon te vryf, en dan op te eet.  Die kommentaar van sommige Fariseërs hierop was:  “Waarom doen julle wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie?” (Luk 6:2)

 

Daar is nog baie meer voorbeelde van bepalings van die Fariseërs wat ons ken uit buite-Bybelse bronne.  So was dit byvoorbeeld nie geoorloof om op sabbat brood te gee aan ‘n bedelaar wat op jou deur kom klop het nie.  Dit is as arbeid beskou.  Jy mog naamlik op sabbat nie voedsel in of uit jou huis dra nie.  Kos binne jou huis ronddra, dit mog wel.  Daarom dat bedelaars hierdie wet van die Fariseërs op ‘n slim manier omseil het.  Op sabbat het hulle nie net op die deur geklop nie, maar ook hulle hand deur die venster gesteek, sodat die Jood die brood in sy hand kon sit, sonder om dit self uit die huis uit te dra.  So was die bewoner van die huis self nie skuldig nie.

 

Hierdie is maar een voorbeeld van ‘n groot aantal bepalings en voorskrifte wat die Fariseërs opgestel het.  Dit word na verwys as kasuïstiek.  Maar uit die Evangelies is dit dus baie duidelik dat ons Heiland krities was op hierdie Joodse kasuïstiek, en Homself nie daaraan gehou het nie.  Aan goeie gewoontes en bepalings, soos ons eerder gesien het, het Jesus Homself gehou en dit uitgeleef.  Maar nie al hierdie voorskrifte van die Fariseërs nie.

Want hierdie menigte van reëltjies het uiteindelik die doel van die rusdag in gevaar gebring.  Die rusdag is naamlik bedoel as ‘n feesdag, nie ‘n dag om te sug onder die swaar las van al die reëls nie.  Nie ‘n dag om bang te wees vir die bespiedende oog van die Fariseërs nie.

 

Dit is ‘n reële gevaar, dat mense slaaf word van hulle eie bepalings.  Die ouer mense onder ons onthou miskien ook sulke bepalings uit die verlede.  Byvoorbeeld nie op Sondag fietsry nie, nie motor ry nie, ensomeer.  Daar was vroeër mense wat per sé kerk toe moes loop.  Op die heenpad moes hulle vinnig loop, om te wys hulle is heilbegerig.  Op die terugpad moes hulle stadig loop, om te wys dis vir hulle swaar om die kerk weer agter hulle te laat.  Sommige mense was op Sondag ure oppad kerk toe en terug.  Dit was nie meer ‘n fees nie.  ‘n Fiets of ‘n motor kan dan juis ‘n instrument wees om die karakter van die rusdag te handhaaf.

 

Oor ure op pad gepraat ...Dit strook natuurlik ook nie met die karakter van die rusdag as mens ure op pad is na of terug van vakansie nie.  Hierdie punt is vir ons vandag veel meer van toepassing.  Dit is ook nie waarvoor die feesdag bedoel is nie.  Ook nie, soos die wêreld om ons doen, om jou vliegreis vir ‘n Sondag te bespreek nie.  Dit kom die ruskarakter van die Sondag nie ten goede nie, nie vir jouself nie, ook nie vir ander nie.  Dat daar noodsituasies kan wees, daaroor praat ons nie nou nie.  Iemand wat op Sondag vlieg om nog van sy sterwende ouer te kan afskeid neem.  Maar ons kyk nou na die goeie gebruik van die rusdag, soos die vierde gebod ons voorskryf.  Daaronder val nie die terugreis van vakansie nie.  Dit is misbruik van die dag.  Dit kan ook op Saterdag gebeur.

 

Deur alle eeue heen was reis op sabbat al ‘n gevoelige onderwerp.  Ons lees daaroor al in die Bybel.  Van die Fariseërs mog die mense op sabbat nie verder as ‘n sabbatsreis loop nie.  Hoewel ons geen eksplisiete voorbeeld het nie, lyk dit of ons Heiland Hom nie aan hierdie bepaling gehou het nie.  Wie al wandelende deur die koringvelde stap, het naamlik al gou die sabbatslimiet oorskry.  Christus het Homself nie laat inbind deur die kasuïstiek van die Fariseërs, wat alle feestelikheid aan die dag ontneem het nie.  Maar ook in ons tyd is reis nog steeds ‘n aktuele onderwerp wat betref die vierde gebod.  Daar is byvoorbeeld die vraag: mag mens op Sondag van openbare vervoer gebruik maak – bus ry, trein ry, taxi ry?  Laat jy dan nie ander vir jou werk nie? 

 

Gemeente, ons moet op hierdie punt nie met twee mate meet nie.  Wie op Sondag motor ry, laat netsogoed ander vir hom werk, al is dit dalk minder opvallend. op Sondag moet die paaie ook veilig en begaanbaar gehou word.  Op Sondag is daar ook mense nodig om by ongelukstonele te help, ensovoorts ensovoorts.  Mense wat minder bedeeld is en nie ‘n motor kan bekostig nie, is soms afhanklik van publieke vervoer om die kerkdiens by te woon, of hulle familie te besoek, samevattend: om hulle bestemming te bereik wat pas by ‘n gesonde Sondagsbesteding.  Laat ons dus telkens die bedoeling van Christus voor oë hou.  Laat ons in navolging van Christus dankbaar gebruik maak van die rusdag wat God ons bied.  ‘n Dag om te rus.  ‘n Dag om goed te doen.  Laat ons dit veral ‘n feestelike karakter gee.  En die middele tot ons beskikking daarvoor inspan.

 

 (Tema: Die vierde gebod vind in Christus sy wese en vervulling

1 Hoe Christus die rusdag gevier het)

 

2 Hoe die rusdag simbool is vir die ewige rus in Christus

Die rusdag se doel is om ons lewenskoers gefokus te hou op die ewige rus.  Die ewige sabbat, soos die Kategismus dit verwoord.  Dit is opvallend dat Jesus sy amptelike werk met ‘n fees begin het.  Hy was as gas aanwesig op die bruilof te Kana.  Met sy eerste wonderteken het Hy gesorg dat dit ‘n onvergeetlike fees sou word.  Nog nooit het die mense sulke lekker wyn geproe nie.  ‘n Bruilofsfees in Israel was baie uitgebreid.  Dit was nie ‘n huweliksdag soos ons dit ken nie, maar ‘n hele huweliksweek.  ‘n Week lank is daar feesgevier, die sabbatdag inkluis.

 

‘n Rukkie later, toe die dissipels van Johannes die Doper vir Jesus vra hoekom sy dissipels nie vas nie, het Jesus daarop gewys dat dit nie gebruiklik is dat die gaste tydens die bruilof vas nie.  En toe die dissipels, al wandelende deur die velde saam met Jesus geniet om koringare te pluk, het Hy die Fariseërs daarop gewys dat Hy Heer van die sabbat is.  Hy, wat deur God gestuur is, die Messias, dit is Hy wat mag bepaal wat op die rusdag gebeur.  Uit die hele optrede van Jesus leer ons dat Hy die bedoeling van die vierde gebod, die bedoeling van die rusdag, weer in ere wou herstel in Israel.  Dit was naamlik die bedoeling dat mense tot rus sou kom, sowel liggaamlik as geestelik.  Dit was die taak wat Jesus op aarde kom vervul het.  Hy is deur God gestuur om mense tot rus te bring.  “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28).  Hy het gekom om mense te bevry uit die slawerny van die sonde.

Hy het daarna sy Heilige Gees uitgestort om die lewens van mense van binne uit te verander.  Sodat jy al die dae van jou lewe jou slegte werke nalaat, die Here deur sy Gees in jou laat werk, en die ewige sabbat in hierdie lewe begin – aldus die Kategismus.

 

Christus is Heer van die sabbat.  Sy taak op aarde het alles met die sabbat te make gehad.  Hy was op aarde om die vierde gebod in sy volle breedte en diepte te vervul.  Logies daarom dat Hy in botsing gekom het met die Fariseërs, nie net wat betref die nalewing van hulle bepalings nie, maar veral oor sy Persoon en sy gesag.

 

As voorbeeld kan ons dink aan die genesing van die blindgebore man, op die sabbat.  Die gevolgtrekking van die Fariseërs was sonder omhaal van woorde: “Hierdie man kom nie van God nie, omdat Hy die sabbat nie hou nie.” (Joh 9:16)  Die diskussie het hier dus gegaan oor die gesag van Jesus, of Hy in Naam van God opgetree het.  Die Fariseërs het toe die mening gevra van die man wat genees is.  Die het openlik bely: Jesus is ‘n profeet!  Die Fariseërs was heeltemal onkant gevang deur sy spontane geloofsbelydenis.  Hulle het toe as uitvlug gekies om die wonder self te betwyfel.  Vandaar dat hulle sy ouers daarby gehaal het.  Die was egter te bang om iets te sê, omdat hulle geweet het dat die Fariseërs mag gehad het.  Omdat hulle geweet het dat die Fariseërs afgespreek het dat elkeen wat met Christus simpatiseer, uit die sinagoge geban sou word.  Hulle het toe die man wat genees is nog ‘n tweede keer gevra.  Die het gewoon by sy mening gebly.  Die gesprek het toe ontaard in die slinger van verwyte.  Die man het egter bly getuig:  As hierdie Man nie van God gekom het nie, sou Hy niks kon gedoen het nie.  Ook nie hierdie wonder nie.  Die Fariseërs was toe diep gekrenk, en hulle sê vir die blindgeborene:  “Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons?” (Joh 9:34)

 

Gemeente, uit hierdie diskussie is veral een ding duidelik.  Dit gaan hier oor die Persoon van ons Heiland.  Is hulle bereid om Hom as ‘n profeet te aanvaar, wat deur God gestuur is?  Is hulle bereid om te aanvaar dat soos Hy die vierde gebod leer en ook uitleef, dat dit die manier is hoe die Wetgewer, God almagtig, dit bedoel het?  Telkens het dit op hierdie vraag aangekom.  Ek dink ook aan die sabbat waarvan ons in Lukas 14 lees, toe ons Heiland geniet het van ‘n broodmaaltyd in die huis van een van die hoofde van die Fariseërs.  Ook toe het dit gebeur – toevallig was dit natuurlik nie – dat ‘n siek persoon wat die water gehad het soos daar in vers 2 staan – daarby was.

Om die water te hê, dit wys daarop dat hy die vog uit sy liggaam nie kon afvoer nie, en dus heelmal opgeswel was.  Almal het Jesus toe fyn dopgehou.  Ons Heiland het die geleentheid aangegryp om te getuig oor die ware bedoeling van die rusdag.  Is dit geoorloof om op die sabbat te genees?  En daarna het Hy hom genees en uit sy lyde bevry.  Niemand het op daardie oomblik gewaag om iets daarteen in te bring nie.  Maar deur sy daad, deur hierdie genesing, het hy krag by sy woord gevoeg.  En die oproep het des te sterker uitgegaan na hulle wat daar was: Sou hulle Hom aanvaar?  Sou hulle in Hom glo?  Sou hulle Hom erken en bely as die Messias, wat deur God gestuur is?

 

In die loop van die jare het daar ‘n steeds duideliker skeiding gekom.  Sommiges het in Hom geglo, ander het hulleself verhard.  Soos Christus dit aan die blindgebore man verduidelik het:  “Tot 'n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.” (Joh 9:39)  Siende blind, helaas het almal, waaronder baie Fariseërs, so geword.  Omdat hulle nie in Jesus wou glo nie.  Siende blind, dit wil sê hulle wou die wonders nie eers meer sien nie.  Siende blind, dit is as jy jou oë toeknyp vir iets wat wel goed is.

 

Geliefde gemeente, die boodskap vir vandag begin daarom ook by Jesus Christus.  Glo u in Hom?  Bely u sy gesag oor elke dag van jou lewe?  Rig jy jou lewe in soos Hy geleer het – deur sy onderrig, en deur sy eie voorbeeld?  Staan Hy sentraal in jou lewe?  Dit is die allereerste vraag wat jy jouself moet vra, as jy jouself afvra hoe die vierde gebod vandag toegepas moet word.  Want wie rus gevind het in Christus, begin in hierdie lewe al met die ewige rus.  En hy het ook die Gees van Christus ontvang om ‘n nuwe mens te kan word.  Laat ons dus vanuit hierdie vertrekpunt die rusdag invul.  En dan is daar uiteraard ‘n klomp praktiese punte, waaroor afsprake gemaak moet word, jy persoonlik, en julle as ‘n gesin, en ook ons as ‘n kerkgemeenskap.  Bepalings waaraan ons onsself lojaal hou.  Maar dan steeds vanuit die rus in Christus!  In die eerste punt het ons gesien dat dit goed is om goeie gewoontes te hê, ook wat betref die Sondag.  Goeie afsprake waaraan ons mekaar bind, afgespreek vanuit die verbinding met die Evangelie, die rus wat ons in Christus gevind het.  Jesus het tereg kritiek daarop gehad dat baie bepalings van die Fariseërs uiteindelik die mense by die doel van die sabbatdag weggetrek het.  Vandaar dat Hy Homself so fel daarteen verset het.

As bepalings tot gevolg het dat mense nie meer fokus op hulle bevryding in Christus nie, dat hulle nie meer feesvier nie, dan mis daardie bepalings die doel van die vierde gebod.  In navolging van Christus moet ons daarom elke bepaling krities ondersoek.  Christus het geen kritiek gehad op die goeie bepaling om trou op die sabbatdag die sinagogedienste by te woon nie.  In navoling van Hom besoek ons vandag trou die eredienste op Sondag.  Soos die Heilige Gees ons aangespoor het in die Hebreërbrief, dat ons ons onderlinge byeenkomste nie moet versuim nie.  Hierdie eredienste staan in die teken van die ewige rus wat Christus ons bied.  So volg ons ons Heiland na.

 

Maar Christus het wel kritiek gehad op bepalings van die Fariseërs ten aansien van siekte en genesing op die sabbat.  In navolging van Hom let ons daarop dat ook die siekes onder ons op Sondag kan feesvier.  Op Sondag mag Christelike personeel in die hospitale van harte hulle diens verrig, en goed doen aan die wat siek is.  Net soos Christus op die sabbat goed was vir die siekes.  Dit is hulle motivering.  Nie, soos ek ‘n keer gehoor het, om op Sondag in die hospitaal te werk vanuit die motivering dat jy dan ‘double pay’ kry nie.  Laat ons steeds lewe vanuit die regte motivering.  Ons het rus gevind in Christus.  Ons gun die rus ook aan ander.  Dit is die positiewe kan van hierdie gebod.  Ons is arbeids in God se koninkryk, wat die Kategismus hier die ewige sabbat noem.  Die ewige sabbat - dan sal heel die skepping geestelik en liggaamlik in Christus tot rus kom, en saam met Hom feesvier.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 92:1,2

Gebed

Skriflesing: Johannes 2:1-11 & Johannes 9

Ps 92:3-5

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 38

Preek

Ps 92:6,7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 84:1,2

Kollekte

Ps 84:3-5

Seën