die Woord van die ewige lewe wat as mens deur Johannes aanskou is, verbind ons aan God en maak volkome blydskap moontlik

Minister: 
Ds Hannes Breytenbach
Church: 
Pretoria en Maranata
Date: 
2018-12-25
Text: 
1 Johannes 1 : 1-4
Preek Inhoud: 

Ds JA Breytenbach  Kopiereg

Gemeente

Johannes beskryf van Christus se geboorte in die vlees in sy evangelie hoofstuk 1:1-18 dat Hy van bo af, van God af, tot ons kom. Terselftertyd beklemtoon Hy dat Christus tot by die mense gekom het en onder hulle kom woon het. Ons teks eerste brief van Johannes hoofstuk 1:1-4 benadruk dat die Woord wat vlees geword het, daarom die vlees van die lewe is, die ewige lewe is wat aan ons openbaar is en daarom gemeenskap, verbondenheid met God op ‘n nuwe manier moontlik is. In Joh. 1:14 en in  1 Joh. 1:4 gaan dit oor die aanskouing van Christus wat na ons toe gekom het. Die Woord van die ewige lewe het in ons doodsbestaan ingebreek. Sy koms maak dat ons lewe met Hom, en gemeenskap met God kan hê en daarom is ons blydskap volkome, ons het niks meer nodig om vrolike en blye kinders van ons hemelse Vader te wees nie.

Ons tema: die Woord van die ewige lewe wat as mens deur Johannes aanskou is, verbind ons aan God en maak volkome blydskap moontlik

Broeders en susters, jongmense en kinders

  1. Jesus Christus, as die Woord van die lewe aan ons voorgestel

    Die Woord wat vleesgeword het met die geboorte van ons Here Jesus Christus, is heeltemaal anders as ons woorde. Hy is self die Woord. Want Hy is die Woord van God. Hy is by God en Hy is self God. Hy het vlees geword, mens geword. En sy heerlikheid dat Hy self God is, het nie minder geword toe hy in ‘n stal in die oorvol plek, Bethlehem gebore is nie. Hy het sy heerlikheid nie soos ‘n kleed in die hemel uitgetrek en daar gelos nie. Hy het Hom verneder deur die swakheid van ons vlees aan te neem maar sonder dat Hy gesondig het. Juis deur ons sonde en skuld, oordeel en straf aan te neem het hy ons vernedering op Hom geneem en laat Johannes die lig skyn op sy heerlikheid.

    Hy is dieselfde seun van God en seun van die mens, dieselfde God voor alle eeue waardeur God alles gemaak het. Teenoor die dwaaalleraars wat sy menslikheid verag het, was Hy mens gebore in die tyd, so het die Woord vlees geword en onder ons kom woon. Toe Hy vlees geword het, het Hy nie verloor wat Hy was nie, sy goddelikheid, maar Hy het wel aangeneem wat Hy nie was nie, sy menslikheid. Hy het op so 'n manier mens geword, dat Hy die ewige Woord van God gebly het, wat geen begin of einde het nie. Alles wat daar is het deur die Woord totstand gekom. Hy is die skeppingswoord van God. Alles het God gemaak deur sy Woord sodat sy beeld en verteenwoordiger, die mens Hom weer kan loof en eer. Die mens het teen Hom opgestaan. En daar is vir mens geen moontlikheid om dit reg te maak nie.Hy is uitgesluit uit die bedeling van ewige lewe met God. Hoe sal die mens weer vry in die regte verhouding, dus in gemeenskap met God lewe?

    Wat Johannes in ons teks doen is om teen die dwaalleraars in vir ons glashelder te maak, dat God se Seun gekom het in die vlees. ‘n Mens sou vir die mense se sonde boet.  Johannes maak duidelik dat die Woord van lewe wat van God kom, in die vlees, as mens,  gemeenskap met God moontlik maak. Hy het so na ons toe gekom om dit vir ons moontlik te maak om ons aan Christus te bind. Aan Hom verbonde te wees. En so aan die Vader verbonde te wees, En aan die herder Johannes, en sy getuienis. en aan die kerk van Christus. Dat ons ewig lewe, is aan Christus te danke. God skenk dit aan ons deur Christus.

    Johannes wys in sy geskrifte daarop dat Christus lewe is en lewe gee: hy is brood van die lewe, water van die lewe, lig van die lewe, kroon van die lewe, boom van die lewe. Betekenis van hierdie lewe is altyddeur ewige lewe. Dit is nie die geskape lewe aan die begin nie,  maar lewe van ‘n ander orde en lewe in verband met Jesus Christus. Hy is self die lewe: Joh 11:25, 14:6. Hierdie lewe was in die tyd van Johannes op aarde tasbaar gewees. Hy bring ‘n ander kwaliteit vir elkeen wat hom volg. ‘n Lewe in verbondenheid met God wat nooit meer eindig.

    Teenoor die dwaalleraars kan Johannes getuig en verkondig dat hy oog en oor getuie was, dat hy Christus as mens aangeraak het, dat Christus nie maar ‘n gees of ‘n inbeelding was nie. En dat jy alleen met God en sy Seun gemeenskap kan hê as jy in Hom glo, in sy vleeswording. Johannes is kroon of staatsgetuie in sy eerste brief waarvan ons teks die inleiding is. Deur die openbaring van God in sy Seun, deur die sekerheid van die getuie Johannes, kom die verbondenheid met God en mekaar wanneer die gemeente glo.

    Het God alleen deur die Woord gespreek? Nee die Woord het vlees geword. Hy het vlees geword en onder ons kom woon. Johannes het hom sintuiglik aanskou.Hy het ons menslike swakheid aangeneem. Vlees sien op die menslike bestaan in al sy swakheid. Vlees sien nie hier op die sonde en die sondedoen self nie, maar op die menslike bestaan soos dit deur die sonde aangetas is, en die gevolge van die sonde op die bestaan van die mense. Jesaja 40:6 en 7 en 8: Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos 'n blom van die veld, die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas, voorwaar die volk is gras. Die gras verdor, die blom verwelk, maar die Woord van onse God hou stand in ewigheid.

    Die menslike bestaan is in armoede, siekte en moeite, verganklikheid en sterflikheid. Jes 31:3: Ja die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie, as die Here sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is val, en saam gaan hulle almal te gronde.

    Nou is die saak van die mens soos deur God geskape geen rede tot vernedering vir Christus nie. Die mens was goed gemaak, maar die oordeel van God waaronder die mens gestaan het en waaronder Christus hom onderwerp het, was vernederend.

    Kyk hoe word positief gepraat in beide Joh 1:14 en in ons teks oor die openbaring van Christus in die vlees en as Woord van lewe, Christus kon aanskou word, aanskou in sy heerlikheid. En dit teen die dwaalleraars wat die menswording van Christus ontken het.

    Die Apostel Johannes getuig in ons teks, en dit sluit ander oor, oog en tastende getuies in, dat God ‘n nuwe begin gemaak het uit die sonde en dood waarin die mens homself gedompel het. Hierdie getuie vir God se saak teen die dwaalleraars het die Woord van die lewe, die ewige lewe wat van die begin af by die Vader was, aanskou omdat God Hom so aan hulle geopenbaar het.

    Met die geboorte van Christus kom 'n nuwe begin. Hoe is dit moontlik? Christus het onder ons kom woon. Kom tabernakel opslaan. Onder ons in 'n tent kom woon. Dit laat ons dink aan die OT tabernakel, tent van samekoms: dit is die woonplek van God by die mense tydens die woestynreis. 'n Tydelike woning, so ook Christus het nie.  Permanent in die vlees op aarde kom woon nie, Aan die anderkant is daar God se ewige vaderlike versorging van sy kinders in mededoë, dink maar hoe het Hy vir hulle op die woestynreis voorsien. Was daar ooit 'n tyd waar sy kinders meer afhanklik van Hom was? Christus wat in die vlees gekom het is die een waar God Hom deur ons laat vind.

    Nou in die vernedering van Christus, in die lyding en vernedering van sy seun, gee God ons 'n weg om by Hom te kom. Wat staan agter hierdie vernedering? Wat staan agter die vleeswording van die Woord? Helder en duidelik is God se liefde. Die Seun het vrywillig sy hemelse koningskap prysgegee en Hom in die dood gegee. By sy eie volk was Hy nie welkom nie. Hulle het Hom verwerp. Hoe vind ons dan vir God? Hoe kom 'n mens by God? Die antwoord: Deurdat God die mense opsoek en hulle skuld versoen. Nie op ‘n rooi tapyt wat uit die hemel tot in ‘n koninklike paleis in Jerusalem strek om homself te red en te verhef in kompetisie met ons hoogmoed en selfverlossing nie. Waar die mens homself probeer red, loop dit altyd op godloosheid, ongeluk en mislukking. Maar die Woord doen dit...

    Deur die lewende Woord in die vlees word die sonde van die mense blootgelê. Soos nooit tevore nie. Die genade van God in sy Seun staan helder afgeteken teenoor die mense met hulle regverdiging van hulleself.

  2. Deur die Woord van die lewe, kan die gelowiges nou vir ewig in verbondenheid met God lewe

    Gemeente, Omdat die Woord sy hemelse heerlikheid prysgegee het om in doeke te lê in die stal, kon die hemelse heerlikheid aan herders verskyn. Herders hoef nie die heerlikheid van God te vrees nie, wat hulle omstraal het, omdat die Woord, Christus Hom verneder het.

    Die heerlikheid van God wat sy guns verleen aan sondaars, word vertoon in die vernedering van Christus se geboorte wat voortgaan in sy lewe en voltooi word aan die kruis en in sy dood en begrafnis. God kom in sy heerlikheid om ons van sonde te red, Hy maak met ons gemeenskap deur die vleeswording en vernedering van Christus. Die vleeswording van Christus is God se verskriklike oordeel oor al ons pogings om vanuit onsself voor God te verhoog en te verontskuldig. Dit is God se oordeel oor elke probeerslag van ons vlees om onsself te verheerlik, die sonde reeds van Adam en Eva.

    En as Hy dan ons vleeslike pogings veroordeel, dan is Jesus se vleeswording God se antwoord, en dan is Jesus se vleeswording God se verheerliking van Homself, want ons moet voor Hom neerbuig en erken dat daar maar een weg is om God se goeie guns te beleef. Hierdie een weg loop van bo na onder, van die hemel na die aarde, en so word dit ook vir die sondaars 'n weg van onder na bo, van die mens na God. Deur die geloof in Christus. Hierdie een weg is saamgevat in die persoon en werk van ons Here Jesus Christus.

    Hierdie weg kom uit die hemel. Ek het met my opstandigheid en ongehoorsaamheid, met my ongeloof die weg na God toe opgebreek. Maar deur die koms van die Woord van die ewige lewe van ons teks word die verbondenheid met God weer moontlik. Ek kan nie meer my sondeskuld voorhou om in skynheilige selfbejammering Hom te wantrou en my van Hom te onttrek nie. Hy vervul ons met die Woord wat vir ons sonde vlees moes word. Hy maak ons ootmoedig. Hy skenk ons lewe wat ons nooit uit onsself kan hê nie. Gemeente, Ons het die Seun, Jesus Christus se heerlikheid gesien. Sy lewe is aan ons geopenbaar.

  3. Wat is sy heerlikheid? Dit is sy luisterryke teenwoordigheid. Die glorie van sy deugde en dade. In die OT was die heerlikheid in die tabernakel en in die tempel. Eks 40:34: Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die Here het die tabernakel gevul, 1 Kon 8:11: En die priesters kon vanwee die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.

    Nou kom die heerlikheid van God na die aarde in sy Seun. Hy is die eniggeborene van die Vader, daar is geen ander seun nie. Daarom is sy seun vir ons so 'n kosbare gawe. Die seun het Hom gegee aan die werk van die Vader op aarde - Joh 17:6: Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wereld gegee het, hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het U Woord bewaar. Deur Homself te gee aan die werk van sy Vader, het Hy hom vir ons gegee. Hy het die wet van God liefgehad en die eis van die Vader nagekom. Hy het alles gedoen wat gedoen moes word. Heb 2:17: Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broers gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoepriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Hy het gesoek en gevind, genees en vertroos en bemoedig. Die lewe vir ons, mense herstel en vernuwe. So iets het niemand nog gesien nie.

    Gemeente, Christus was vol genade en waarheid. Hy het die waarheid van God laat sien. Hy het getoon wat die eiegeregtige mens voor God is en hoe hy deur God beoordeel word. Hy het kom bewys hoe waaragtig en betroubaar God is. Vol van genade en waarheid was die Woord. Dit beteken Hy was vol van God se liefdevolle trou. God se trou het in die seun tasbaar geword. Jy kan dit met jou hande oë sien, ore hoor, hande voel. Jy kan dit vashou. Ons kan God se liefdevolle trou vashou en daarvan en daarmee lewe. Dit het vir ons naby gekom. Ons probeer God nie vind, in werke van onsself nie. Ons probeer God nie vind in die planne wat ons maak in ons kop of gevoel in ons hart nie. Ons vind God in die vleeswording van die Woord. Ons vind God in en deur Jesus Christus en deur die werking van die Gees van Christus in ons.Daarin het Hy so naby gekom dat Hy aangeraak kon word. Deur sy vernedering kom sy heerlikheid ook tot by ons. Wat in die OT verberg was in die tempel in die allerheiligste, word nou vir ons getoon in die Seun wat in Bethlehem gebore is. Dit is die weg van God se genade, deur die vleesgeworde woord na ons toe en van ons deurdat ons sy heerlikheid en sy trou sintuiglik aan ons kan sien, hoor, voel, na God toe. Alles deur die prediking van God se Woord.

    Hiervoor, om by God te kom, is geloof in die verkondigde Heiland nodig. Hierdie aanskou of sien van God se heerlikheid is gespanne of aandagtig kyk. God laat jou sien om te oorweeg in gelowige oorgawe. Die Evangelie was verkondig om die herders die heerlikheid van God in die Kind te laat sien. In die vleesgeworde woord kom God na jou met sy belofte dat Hy blywend by jou wil wees, en blywend vir jou wil red. Hy kom na jou met die belofte dat Hy Homself vir altyd met jou wil bemoei. Daarom sê ons dit vra oordenking in jou hart en aanskouing in die geloof. Maar as jy dan in die geloof aanskou, as jy weet dat Christus vir jou gekom het, is jou blydskap volkome en kan jy nie die geleentheid laat verbygaan om van God se lof te sing nie, maar gebruik jy elke geleentheid.Dit is wat Johannes in hoofstuk 1 van sy Evangelie gedoen het.

    Met skerpe teenstellings. Die Woord wat vlees geword het staan teenoor Eniggeborene wat van die Vader gekom het. 'n Geweldige afstand. Onder ons gewoon staan teenoor ons het sy heerlikheid aanskou. Vol van genade en waarheid sê hoedat die Woord onder ons kom woon het - dit is: vol van God se trou, volmaak in sy troue liefde teenoor die sondige werke onder die wet. Johannes wys vir ons daarop dat Christus die seun van God is, omdat Hy die koninkryk van God kom vestig het.

    Gemeente, Jesus Christus laat God se genade oor ons skyn. Dat God ons so liefhet dat Hy ons met God versoen en ons vergewe.Hy het volledig vir ons sonde betaal en gaan ons voor en maak die weg oop om met regte eer en lof met God om te gaan. Hy gee die mag en die bevoegdheid, die reg om kind van God te word deur geloof in sy Naam. Joh. 1:12. Die Seun het destyds die genade en waarheid van God uitgestraal. Toe was dit op aarde. Maar nou is dit nog baie meer in die hemel, noudat Hy verhoog is in heerlikheid in die hemel. Hy gee vir ons kennis van God en onsself.

    1Joh 5:20: En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken, en ons is in die Waaragtige, in Sy Seun Jesus Christus. Hy is die Waaragtige God en die ewige lewe. Dit mag ons keer op keer bely in die gemeente en voor die wereld.

    U weet, Ons lewens was gebroke. Ons was verlore. Hierdie gebrokenheid deur ons sonde en skuld, ons verlore wees, word reggemaak en heelgemaak en omgekeer deur een: dit is Hy, die lewende woord. Hy kom van God af. Om vir ons te doen wat ons self nie kan doen nie. Om alle verhinderings vanwee ons sondige en hoogmoedige harte af te breek en ons met homself te verbind. Hy is vanoggend hier teenwoordig waar sy gemeente in sy Naam vergader is om te luister na sy Woord. Hy maak gemeenskap met Hom en gemeenskap met ‘n wolk van getuies waarvan ons in die Bybel lees, en met mekaar as gemeenskap van heiliges in Christus. Hy lei ons in God se genade om ewig met Hom in gemeenskap te lewe. Ons blydskap is volkome. Wie durf die Evangelie betwyfel? Wie durf die Woord van Lewe betwyfel?

    Amen.

Liturgie: 

Psalm 99:1,2

Lees van die wet Eksodus 20

Psalm 99:3,4,5

Skriflesing Joh. 1:1-18

SB 4:2,3,5

Teks 1 Joh.1:1-4

Preek

Antwoordlied: SB 35:1,2,3

Dankgebed en voorbidding

Kollekte

SB 8: 4,5

Uitspreek van die seën: