Die HERE laat die mees onwaarskynlike uitreddings tog gebeur

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-10-21
Text: 
Rigters 3:31
Preek Inhoud: 

Preek: Rigters 3:31

Tema: Die HERE laat die mees onwaarskynlike uitreddings tog gebeur

Daar is slegs twee verse in die Bybel aan Samgar gewy: ons teks en verder nog ‘n vers in die lied van Debora. Die Rigterskrywer plaas hom in die tyd tussen Ehud se oorwinning oor die Moabiete (3:12-30) en Ehud se dood (4:1). Dit beteken dat Samgar se optrede êrens in die 80-jarige periode van vrede plaasgevind het, waaroor vers 30 vertel. Deur sy optrede is die voortduur van die 80-jarige vrede vir tyd en wyle veilig gestel, lyk dit wel. Nou is dit belangrik om te besef dat Ehud teen die Moabiete geveg het, terwyl Samgar teen die Filistyne geveg het. Ehud se oorwinning oor die Moabiete was in die Jordaanvallei, aan die oostekant van Israel se grondgebied. Samgar tree egter in die weste op. As mens vanaf die Jordaanrivier weswaarts beweeg, styg die terrein eers steil rigting die sentrale berggebied. Van daaraf loop dit af rigting die kusvlaktes van die Middellandse See. Dit is in hierdie kusvlaktes wat die Filistyne hulle gevestig het. In ons teks lees ons die eerste keer oor hulle in Rigters. Maar dit sal nie die laaste keer wees nie. Hulle het vir eeue die Israeliete lastig geval, van Samgar se tyd af, deur Simson se tyd, Eli en Samuel se tyd, tot by Dawid se tyd.

Nou was die Filistyne oorspronklik nie uit Kanaän afkomstig nie. Hulle het in ongeveer dieselfde periode daar aangekom as die Israeliete. Hulle was oorspronklik afkomstig van onder andere die eiland Kreta. In die kusvlaktes van Kanaän het hulle ‘n aantal stadstate gevestig: Asdod, Askelon, Ekron, Gat en Gasa. Hulle het saam met hulle die tegnologie van die smelt van yster gebring, wat hulle ‘n voorsprong op die Kanaäniete en Israeliete gegee het.

Hulle sou uitgroei as die gedugste teenstander van Israel in die Rigtertyd. Met dit in gedagte is dit wat daar oor Samgar staan, des te meer verbasingwekkend. Naamlik dat hy teen hulle geveg het met ‘n wapen sonder enige tegnologie: ‘n osdrywerstok. Nounou meer oor hierdie wapen.

Kom ons kyk eers na Samgar se afkoms. Soos gesê, daar is slegs twee verse in die Bybel oor Samgar. Waar by die ander Rigters meer uitgebreid vertel word oor hulle afkoms, stam ensovoorts, vind ons eintlik geen inligting oor Samgar nie. Al inligtfing wat ons het, is sy naam. Nou sê ‘n naam soms meer as wat mens dink. Samgar was naamlik nie ‘n tipies Joodse naam nie. Dit word versterk deur die frase “die seun van Anat”.  Anat is ‘n vroulike naam. Dit kan òf verwys na sy ma, òf na sy plek van afkoms. Daar was naamlik ‘n dorp met die naam Anat. Maar dit was geleë heeltemal in die noorde, in Naftali se grondgebied. In daardie geval is dit vreemd dat ons vir Samgar in die suidweste ontmoet, waar hy teen die Filistyne veg. Die ander moontlikheid is dat dit die naam van sy ma was. In daardie geval was sy ma vernoem na ‘n Kanaänitiese afgod. Want Anat was die godin wat deur die Kanaäniete vereer is as die godin van die oorlog. Al met al, wat ons uit Samgar se name kan opmaak, is òf dat hy van gemengd Joods-heidense afkoms was, òf in die beste geval ‘n Israeliet was uit ‘n gesin wat al baie geassimileer het aan die Kanaänitiese samelewing. In elk geval spreek uit die betekenis van sy name nie vertroue op die HERE, Israel se Verbondsgod nie, eerder vertroue op die Kanaänitiese afgode. Eintlik was Samgar maar net ‘n deursnee Israeliet. Want soos die jare gevorder het in die beloofde land, het God se volk al hoe meer geassimileer aan die heidense bevolking, en al hoe verder weggesak in afval en sinkretisme. Die sporadiese optrede van Rigters kon hierdie proses nie stuit nie.

Dit bring ons dan by Samgar se wapen, die osdrywerstok. Die indruk wat ons daaruit kry is dat hy nie ‘n geoefende soldaat was nie, maar eerder ‘n boer. Sy wapen was nie ‘n swaard of spies van ‘n professionele soldaat, ook nie ‘n dolk soos Ehud gehad het nie. ‘n Osdrywerstok was naamlik bloot ‘n lang hout stok, waarvan die punt skerp geslyp is. ‘n Boer het dit gebruik om osse te prik, wanneer hulle lui was om te ploeg. Nou hoe is dit moontlik dat Samgar met so ‘n primitiewe wapen – eintlik kan mens dit nie ‘n wapen noem nie – ses honderd Filistyne kon verslaan? Daar staan nie dat hy dit in een veldslag op een dag gedoen het nie.       Dit is moontlik dat hy ‘n soort guerilla-oorlog teen die Filistyne gevoer het. Kan mens die verwysing in Debora se lied dalk daaraan koppel? Daar lees ons, in Rigters 5: “In die dae van Samgar, die seun van Anat, in die dae van Jael, was die paaie verlate, en die reisigers het langs sypaaie gegaan.” (Rigt 5:6) In ‘n afgeleë gebied wat Samgar baie goed geken het, waar die paaie verlate was, het hy met sy osdrywerstok die een na die ander slagoffer gemaak onder die reisende Filistyne. Maar dit is ook moontlik dat dit tog op een dag gebeur het. Die teks gee nie uitsluitsel nie. Wel is dit ‘n wonder dat een man so iets kon regkry, nogals met ‘n ysdrywerstok, teen die tegnologies meer gevorderde Filistyne.

Wat die belangrikste is, is dat Samgar se oorwinnings uiteindelik die HERE se werk was. Later in Rigters word dit met soveel woorde gesê. As die volk jare later weer spyt gekry het en benoud tot die Here om hulp geroep het, dan sê die HERE: “Het Ek julle nie van die Egiptenaars en van die Amoriete, van die kinders van Ammon en van die Filistyne – toe - julle My aangeroep het - julle uit hulle hand verlos nie?” (Rigt 10:11-12)

Nou die enigste skermutselinge wat daar tot op daardie stadium met die Filistyne was en waarvan ons in Rigters lees, was die waarby Samgar betrokke was. Onthou, dit was nog voor Simson se tyd.

Die HERE verwys dus in hoofstuk 10 na die feit dat dit Hy was wat die verlossing gegee het, nie Samgar nie. As ons dit tot ons laat deurdring, verskuif die aandag van Samgar en sy dapperheid na die onwaarskynlike oorwinnings wat so tipies is aan die HERE. Dit was eintlik ‘n beskaming vir Israel. Hulle het die stryd in die beloofde land gestaak, hulle het begin assimileer en vermeng.

Toe het die HERE self die stryd voortgesit, op die vir Hom so tipiese wyse. Met een man se osdrywerstok 600 verslaan. Dit moes die volk laat terugdink het aan die onwaarskynlike oorwinning van die Israeliete destyds van Jerigo. Dit was duidelik nie aan Israel se krygskuns te danke nie. In daardie omstandighede was dit niks minders as ‘n wonder nie. Dink ook aan hoe Gideon later met sy batiljon van slegs 300 man die oorwinning kon behaal. Ook so ‘n onwaarskynlike oorwinning wat die HERE gegee het. En dieselfde geld vir Samgar wat in sy eentjie met sy osdrywerstok 600 Filistyne gedood het. Om die minste te sê baie onwaarskynlik. Maar dit is die patroon van uitreddings wat die HERE gee in Rigters. Op onwaarskynlike maniere besleg Hy die stryd. Hy maak die onmoontlike moontlik. “by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” sou Jonatan later sy wapendraer moed inpraat (1 Sam 14:6). Eers toe Samgar ‘n wapen in die HERE se hand geword het, het Samgar se boerewapen skielik ‘n verskil begin maak. Moenie van Samgar ‘n held maak omdat hy seshonderd met ‘n osdrywersstok doodgemaak het nie. Moet ook nie Simson ‘n held maak omdat hy ‘n duisend man met ‘n eselskakebeen doodgeslaan het nie. Hulle was nie helde nie, hulle was gevalle sondaars. Dit is die prentjie wat die Rigterboek skets. Maar soms in hulle lewe het die HERE hulle bo hulle eie vermoëns laat uitstyg, en dinge laat doen wat hulle uit hulleself nie sou kon gedoen het nie.

Dit was net ons Here Jesus, wat die enigste Held was wat nie self in sonde geval het nie.

Ons vier vandag nagmaal, en ons gedenk die oorwinning wat Christus op sy vyande behaal het. Sy uitredding was ook weer so ‘n onwaarskynlike verloop van omstandighede. Maar tog weer tipies soos die HERE, die troue God van die verbond, te werk gaan. Die oorwinning behoort aan die HERE. Maar Hy behaal die oorwinning nie met swaard of spies nie. Maar die HERE laat die mees onwaarskynlike uitreddings tog gebeur. Op Golgota het Hy selfs sy eie Seun aan die kruis laat offer. Dit is die grootste misterie van uitredding wat God in die volheid van die tyd  laat gebeur het! Deur sy plaasvervangende sterwe het Hy die straf betaal. En dat Hy oorwin het, het die Sondagoggend vroeg geblyk toe Hy uit die graf opgestaan het.

Daar is slegs twee verse in die Bybel aan Samgar gewy. Tog staan daar in hierdie vers dat ook hy Israel verlos het, net soos die ander Rigters oor wie ons meer weet. Samgar was ook deel van die groter prentjie, naamlik God se raadsplan om sy volk deur hierdie donker eeue heen te loots. Dit is iets wat ons verstand te bowe gaan, hoe God deur die eeue heen vir Hom ‘n res bewaar, wat gered word. Soos ons vandag aan die nagmaalstafel mag sit, kan ons ook getuig van die HERE se bewarende hand, sy trou in ons lewe. Ook in ons lewens doen die HERE mooi dinge. Ja ook deur ons kan Hy heldedade verrig. Samgar was nie ‘n geoefende beroepsoldaat nie. Hy was maar ‘n ou boertjie met ‘n osdrywerstok. Desnieteenstaande het die HERE hom heldedade laat verrig. So het God Hom gebruik in sy raadsplan, om te sorg dat sy verbondsvolk kop bo water hou in die donker Rigtertyd. As God Samgar kon gebruik, kan Hy beslis vir jou ook gebruik. Sien dit as ‘n bemoediging. Sien dit as ‘n aansporing om nie bang te wees, nie terug te deins nie, om dapper te wees, as die HERE jou inspan. Met dapper wees bedoel ek: dat jy trou en onbeskaamd in sy diens lewe. Dat jy eties ‘n reguit lyn trek deur jou lewe.

Dat jy nie skaam is om te getuig van die hoop wat God in jou lewe gebring het nie (1 Petr 3:15). Dat mense en hulle wense vir jou klein is, en God en sy gebod vir jou groot. Ons mag gevoed en versterk weer die kerk verlaat vandag.

Ons lewe voortsit, wetende dat, soos Samgar ‘n instrument in God se hand geword het, ons dit ook is. Sy raad sal bestaan, en Hy sal ons laat slaag in dit wat Hy gedoen wil hê, hoe onwaarskynlik ook.

As God vir ons is, wie kan teen ons wees? (Rom 8:11)

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 147:1,2

Wet

Ps 141:1-3

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Skriflesing: Rigters 3:26-4:1; Sing: Ps 12:1,5

2e tafel: Skriflesing: Rigters 5:1-9: Sing: Ps 12:6,7

3e tafel: Danksegging, Sing: Ps 116:10

Teks: Rigters 3:31

Preek

Ps 147:3,4

Gebed

Kollekte

Ps 113:1,2