Ook al word die reg teruggedring, die arm van die HERE sal nie teruggedring word nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-09-16
Text: 
Jesaja 59:14-16
Preek Inhoud: 

Preek: Jesaja 59:14-16

Vandag is dit Biddag vir gewas en arbeid. Wat beteken dit eintlik? Dit is ‘n mooi tradisie dat in die lente, aan die begin van ‘n nuwe groeiseisoen, daar spesiaal in die kerke gebid word vir gewas en arbeid. Gewas is ‘n ou woord vir alles wat op die lande groei. Maar verder het ons in die kerkverband met mekaar ook afgespreek dat ons spesiale biddae sal hou.

In ons Kerkorde, heeltemal agter in die liturgieboekie, staan daar in artikel 69: “In tye van oorlog, algemene rampe en ander groot probleme waarvan alle kerke die druk ervaar, sal ‘n biddag uitgeskryf word.” In hierdie verband kan ons die algemene druk wat die politieke onsekerheid in ons land bring, noem.

Die voortdurende polarisasie tussen bevolkingsgroepe, wat veral deur die politici self aangewakker word. En nog dieper, die voortdurende afkalwing van Christelike waardes en norme, wat in ons land besig is om plaas te vind onder alle bevolkingsgroepe. Waar gaan dit eindig, vra mens jouself soms af.

Bied hierdie land nog perspektiewe vir hulle wat God opreg wil dien? Is daar nog ‘n veilige omgewing waarin ouers hulle kinders kan grootmaak? Wag daar ‘n gelukkige toekoms vir Marlieke in hierdie land?

Tema: Ook al word die reg teruggedring, die arm van die HERE sal nie teruggedring word nie.

  1. ‘n Gebed van verootmoediging
  2. ‘n Belofte van ingryping
  1. ‘n Gebed van verootmoediging

    Ons bevind ons hier saam met Jesaja in die tweestammeryk Juda, in ‘n tydperk van afval. Jesaja het geprofeteer in ‘n koninkryk wat uiteindelik ten val sou kom met die ballingskap. In hierdie maatskappy, wat stadig maar seker al hoe verder weggegly het, het Jesaja geleef en geprofeteer. Uiteindelik het die ballingskap inderdaad gekom as straf. Hierdie was nie ‘n straf van vergelding nie, maar om die volk te reinig.

    In hoofstuk 59 verkeer die volk in ‘n toestand van nood. Dit is Jesaja se taak om hulle daarop te wys, dat dit nie aan die HERE lê nie. Sy hand is nie te kort om te help nie.  Hy is nie onmagtig nie. Ook is sy oor nie ongevoelig vir hulle smeking nie. Dit lê nie aan sy bereidwilligheid nie.

    Dan vervolg die profeet om die volk te konfronteer met hulle sondige gedrag.

    Hy vergelyk dit met basilisk eiers – dit is eiers van giftige slange. Dit bring net dood en verderf. Hy vergelyk dit met spinnerakke. Met spinnerakke kan jy nie klere maak nie. Later sou die apostel Paulus die beskrywing hier in hoofstuk 59 gebruik om die mense te beskryf wat onder die mag van die sonde leef:

    Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie (Rom 3:15-18).

    Na hierdie beskrywing van die toestand van die volk, spreek die profeet ‘n boetegebed uit (vers 9-15a). Dit is Israel se sonde, wat die oorsaak is van hulle nood. Die profeet praat hier inklusief, solidêr oor ons oortredinge. En die oortredinge word eerlik genoem. Die waarheid het gestruikel, publiek op die mark, privaat in die huise. Ons teks begin met die opmerking: “So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark”. Die mark, of markplein, dit was die plek waar vroeër die regspraak plaasgevind het. Maar in Jesaja se tyd was daar dus geen regsekerheid meer nie. Die waarheid was nie meer genoeg om ‘n regsaak te wen nie. Die waarheid was soek.

    Wat is waarheid eintlik? Hierdie vraag word deur alle eeue heen gevra, asof daar geen enkele waarheid bestaan nie. Dikwels word die vraag gevra met die doel om God se geopenbaarde waarheid te relativeer. En ook in ons tyd, net soos vroeër, blyk dat die reg omkoopbaar is. Die reg kan swig voor die druk van omkoopgeskenke.

    In ons land herken ons baie van wat Jesaja sê. Die waarheid, die doodgewone normale waarheid ontbreek. In wetgewing word nie meer met God se wette rekening gehou nie. Dit wat normaal en gesond is, het abnormaal geword.

    Wette beskerm hulle wat aborsie pleeg, of ou mense doodmaak, of dwelms gebruik, of die huwelik oorboord gooi, wat teennatuurlike geslagsverkeer verkies. So het ons land in ‘n negatiewe spiraal tereggekom. God se gebooie, wat vir eeue toonaangewend was, word vervang deur sogenaamd beter, meer tolerante wetgewing. Maar ondertussen word die samelewing van binne uitgehol. Al hoe minder kinders groei op in ‘n normale huisgesin met ‘n pa en ‘n ma. Wetgewing ontneem kinders die reg op normale huishouding. Dit is skrynend hoe ‘n samelewing kan weggly. En dat dit selfs in wetboeke vasgelê word, dat mense self hulle sterfdag kan kies. So word van die wetboek ‘n bespotting gemaak. En wat van die mediese professie, wat bedoel was om mense se gesondheid te bevorder? In die mediese wêreld draai alles steeds meer om geldmaak. En dokters het nie net meer die funksie om te genees nie, maar kan nou ook lewens aktief beëindig, van bejaardes of ongeborenes.

    Hiermee word die professie in sy wese aangetas. Dit sou dieselfde wees as wat jy van ‘n predikant sou verwag om mense te oortuig dat God nie bestaan nie. ‘n Predikant wat soiets doen, kan nie ‘n predikant genoem word nie. So bevind ‘n samelewing, sy dokters, en sy predikante, hulle op ‘n dooploopspoor, as elke ding tot sy teendeel omgedraai kan word. God se Woord is nie meer die riglyn nie, maar die samelewing se vereistes.

    Vroue moet ook in die ampte dien, die kerk mag nie agterbly nie. Gays mag ook trou, die kerk mag nie diskrimineer nie. Met welluidende teologiese konstruksies word dit wat in die Bybel staan, omgebuig om skielik die omgekeerde te sê. Wie aan die Woord, die ewige Kompas begin torring, word hoe langer hoe meer stuurloos.

    Verder kan ons ook dink aan die polisie en die veiligheidsdienste. ‘n Professie wat bedoel is om lewens te beskerm, en mense se besittings te beskerm. Maar ook die polisie is van binne uit verrot, geïnfiltreer deur die misdadigers self.

    Die wese van die vervolgingsgesag word al hoe meer onderstebo gekeer. In vers 15 van Jesaja 59 het ons gelees:

    “die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder.”

    Dit is skrynend, dat juis hulle wat afwyk van die kwaad, die slagoffers word. Hulle wat fatsoenlik wil lewe en hulle onberispelik gedra. Wie homself aan die reëls hou, hy word aan die kant gestamp. Almal wil net eerste wees. As jy ‘n wenner in die nuwe Suid-Afrika wil wees, moet jy vir jouself veg. Op die werk, op die pad, op skool, in die winkel, orals. Ek, ek, ek, en die res kan vrek. Wie wyk van die kwaad, word self slagoffer van die kwaad. So sien ons voor ons oë hoe die samelewing weggly. Al met al genoeg rede vir ‘n Biddag.

    En so bid ons vandag nie net vir gewas en arbeid nie. Ons bid vir die algehele toestand van ons land. Ons bid vir die treurige geestelike toestand van hulle in ons land wat hulleself Christene noem. Ons doen dit solidêr, ons verhef ons nie. Hierdie bededag is nie bedoel om net al die sondes buite die kerk aan te wys nie. Dit is ook bedoel dat ons self in gebed voor God op die knieë gaan.

    Want ‘n wêreldse denkwyse, en ‘n wêreldse lewensstyl word so maklik ook deel van ons doen en late. Soos destyds aan sy volk, kan die profeet ook ons konfronteer met die woorde: julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God. Ons kykgedrag na die TV, na films, ons gebruik van selfone en tablette, van internet en facebook, verskil soms nouliks van die van die wêreld. Het ons nog onverkort die waarheid lief? As ons ‘n regstryd moet voer, doen ons dit nog in waarheid? Of is ons dryfveer net wat ons daaruit kan kry? As ons sake doen, is dit net om maksimale wins vir onsself te behaal, sonder dat ons ‘worry’ of ons ‘n goeie produk en diens aan ons klante lewer? Is ons koppe ook vol begeertes na woekerwins? So bring ons verblinding oor onsself. So struikel ons in die middag. Laat ons onsself verootmoedig. Is al hierdie ook die mentaliteit in die kerk? Wat ‘n verademing is dit as in die kerk ons veilig kan voel, as ons hier wel vir mekaar omgee. Dat daar bereidheid is om te dien, bereidheid om betrokke te wees. Laat ons, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, beginnende by die huisgenote van die geloof (Gal 6:10).

    (Tema: Ook al word die reg teruggedring, die arm van die HERE sal nie teruggedring word nie.

  1. ‘n Gebed van verootmoediging)
  2. ‘n Belofte van ingryping

    Die tema van die preek leer ons wie ons Verbondsgod is. Hy is nie ver weg nie, maar naby, met sy seën en met sy straf. Ook al word die reg teruggedring, God se uitgestrekte arm bly naby. Die hand van die HERE is nie te kort om te help nie. Vanaf vers 15b begin die derde deel van hoofstuk 59: ‘n belofte van ingryping deur die HERE. God sal hulp bied, as Israel smekend tot Hom nader. God is begaan oor hulle swaarkry. Ons lees in vers 15:

    “Toe het die HERE dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie.”

    Pragtige woorde is dit! Die HERE het dit gesien! Die HERE kyk nie anderkant, as daar onreg plaasvind nie. Dit was verkeerd in sy oë. En dit verdra God nie. Hy gaan iets daaraan doen. Hy is anders as ons mense, wat onsself magteloos voel teenoor die kwaad. Maar die HERE was verbaas, vers 16, dat niemand tussenbeide tree nie. In Hebreeus staan ‘n sterker woord as verbaas: die HERE was ontsteld, verontwaardig. Dit het Hom vertoorn, dat niemand vir die slagoffer opgekom het nie.

    Ook op hierdie punt word ons opgeroep tot verootmoediging. Is ons bereid om onreg aan die orde te stel, ‘n sogenaamde fluitjieblaser te wees? Nie net as dit ons benadeel nie, maar ook as ons sien dat ‘n ander die slagoffer is? As ons nie verontwaardig is oor die onreg nie, moenie dan beskerming van God se regterhand verwag die oomblik as die onreg jou tref nie. Gelukkig sal die HERE aktief raak, ook as geen mens daartoe die moed het nie.

    En as God aktief word, as sy arm in beweging kom, dan gebeur dinge. Sy arm wat aan die een kant straf uitdeel, maar aan die ander kant redding bring. Sy arm het Hom gehelp, sy geregtigheid Hom ondersteun. Hier word visueel uitgebeeld hoe God Homself gereedmaak om in aksie te kom. Vanaf vers 17 word beskryf hoe die HERE sy wapenrusting aantrek: As pantser: geregtigheid. As helm: heil. As klere oftewel wapenrok: wraak. As oorlogsmantel: ywer. So kom Hy om vergelding, orde, en uitredding te bring.

    As Skepper en Onderhouder van die aarde het Hy soveel instrumente tot sy beskikking. Ook deur rampe en epidemies, deur droogtes, brande, storms of oorstromings kan Hy mense op die knieë bring. En ons, kerkmense, val ook daaronder. Die profeet Jesaja wys daarop dat ons nie moet kla as die strawwe so swaar is nie. Laat ons eerder bewus wees hoe swaar die mensdom se skuldelas is. Want as ons land werklik na behore gestraf sal moet word vir al die onreg wat tans plaasvind, en vir al die onreg wat al vir eeue hier plaasgevind het, wie van die bevolking van hierdie land sou dan oorgebly het?

    Maar gelukkig straf God nie na behore nie. Gelukkig straf Hy nie om te vergeld nie. As Hy regverdig sou vergeld, sou niemand dit oorleef nie, nog die goddelose, nog die regverdige. Maar gelukkig straf God uit liefde, uit bewoëndheid, omdat Hy ons tot besinning wil bring.

    Hierdie biddag is bedoel as dag van verootmoediging. Dat ons in totale afhanklikheid opkyk. Nie van ons, nie van ons, ja van geen mens kan daar enige voorspoed vir hierdie land verwag word nie. Ons kyk op in afhanklikheid. Asseblief HERE, gee in die nuwe seisoen weer reën. En as U dit gee, asseblief HERE, werk dan deur u Heilige Gees ook dankbaarheid daarvoor. Iemand noem onlangs vir my: ons het die afgelope jare so baie keer vir reën in die Weskaap gebid. Noudat die reën gekom het, word daar in die land en spesifiek in die Weskaap ook daarvoor gedank? En soos ons maar al te goed besef. Net genoeg reën gaan nie al die probleme in hierdie land oplos nie.

    Laat ons bid vir verootmoediging, terugkeer na Godsvrees onder die mense van hierdie land. Godsvrees beteken: dat mense bang is vir God in die sin dat hulle ontsag vir Hom het, dat hulle bang is om sy heilige wette te oortree. Wat het van die Godsvrees in ons land geword? O HERE, wees ons tog genadig, al verdien ons dit nie!

    Ek sluit af met die pragtige woorde uit vers 20: “Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE.”

    Die woord Sion dui hier op die volk van die HERE, meer spesifiek die gehoorsame oorblyfsel. So gebruik Paulus dit ook in byvoorbeeld Romeine 11:26, en hy haal dan hierdie vers spesifiek aan:

    “en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend”.

    Met die gelowige oorblyfsel, die ware Israel, hernu God sy verbond.

    Ja daar is nog ‘n kans, ook vir ons land. Want wie hom bekeer, sal nie net die strawwende arm van God ontmoet nie, maar ook sy beskermende, sy reddende arm. Met die koms van Christus, die Verlosser, het geblyk dat hierdie profesie nie net mooi woorde was nie. God bly trou aan sy verbond.

    Dit is ‘n waarskuwing, dit is ook ‘n troos. Want ook as mense nie meer die moed het om tussenbeide te tree nie, sy arm wel. Die hand van die HERE is nie te kort om te help nie. Sy oor nie te swaar om te hoor nie. God sy dank!

    Mag die dag aanbreek, soos Jesaja profeteer, dat ook in ons land al die mense die Naam van die Here sal vrees, van die westekant af tot by die opgang van die son. Mag Hy sy kerk sterk maak in hierdie land, sodat die Godsvrees die land sal bedek soos die waters die bodem van die see bedek. Van die weskus tot die ooskus. Van die Limpopo tot Kaap Agulhas. Laat ons trou bly, die waarheid liefhê, onbuigsaam by die geregtigheid waghou. Mag die HERE sy belofte aan ons en ons kinders waarmaak.

    Vers 21: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek vandag in jou mond gelê het, dat dit nie uit jou mond sal wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en ook nie uit die mond van die kroos van jou kroos nie. Watter pragtige woorde! Mag die HERE dit waarmaak aan gesin Arnoud en Anneke, en hulle kinders, ook aan hulle dogtertjie Marlieke wat vanoggend gedoop is.

    Mag die HERE dit waarmaak aan elkeen van ons en ons nageslag!

    Amen.

     

 

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 1:1,3

Wet

Ps 1:4

Gebed

Doopsformulier

Bediening doop aan Marlieke van den Bout

Ps 84:2

Dankgebed

Skriflesing: Jesaja 59

Ps 3:1

Teks: Jesaja 59:14-16

Preek

Ps 3:2

Gebed

Kollekte

Ps 85:1,2,4

Seën