Rondom Jerusalem is berge

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-07-22
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 21 vraag en antwoord 54
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 21,54

Antwoord 54 is een lang sin. Jesus Christus, die Seun van God, is die onderwerp van daardie sin. Die kerk is syne. Hy vergader, beskerm en onderhou sy kerk. Daar word vertel hoe Hy dit doen: deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof. Daar word vertel wie Hy in sy kerk bymekaar maak: persone uit die hele menslike geslag. Daar word genoem hoekom Hy dit doen: omdat hierdie persone tot die ewige lewe uitverkies is.

Daar word genoem wanneer Hy dit doen: Hy het daarmee al begin aan die begin van die wêreldgeskiedenis. En Hy gaan daarmee voort tot die einde van die tyd.

Ons het vanaand ‘n psalm gelees. Hoewel hierdie bedevaartslied in die Ou Testament staan, kan dit tog vir ons baie leer oor Jesus se kerk. Want, soos die antwoord sê, ook toe, ook in die tyd van die Ou Testament, was Christus al besig om sy kerk bymekaar te maak. Ook in die tyd wat hierdie psalm geskryf is. Toe dit gesing is by die tempel in Jerusalem. Ook toe het dit geklink, net soos vandag, uit monde van hulle wat Christus tot die ewige lewe uitverkies het. Vir die leer oor die kerk, die ekklesiologie, het ons nie net die Nuwe Testament nie, maar ook die Oue. Psalm 125 is ‘n pragtige voorbeeld hoe Christus sy kerk, in die Ou Testament dikwels met die naam Jerusalem aangedui, beskerm. Of: die berg Sion, soos hier in Psalm 125. En daar is meer Psalms wat verwys na die onwankelbaarheid van die berge, en die gevoel van veiligheid wat dit oordra. Dink aan Psalm 48: sy heilige berg is ‘n rotsvesting.

En Psalm 87, wat sing oor Sion as die berg wat die HERE verkies het, en waar Hy Egitpe, Babel, Filistyn en More (Afrika!), bymekaar bring.

Tema: Rondom Jerusalem is berge

  • In sy kerk skenk Christus standvastigheid
  • In sy kerk skenk Christus ‘n toekoms van vrede
  • In sy kerk skenk Christus standvastigheid

    In vers 1 word die gelowiges wat op God vertrou, vergelyk met ‘n berg, die berg Sion. Christus se kerk word hier vergelyk met die onwankelbaarheid van ‘n berg. Die berg Sion wankel nie, maar bly tot in ewigheid. Nou is die berg Sion op sig, geografies gesproke, nie die hoogste berg nie. Ook in Israel was daar baie hoër berge. Berge wat op die oog af ‘n baie standvastiger indruk maak. Dink aan die berg Hermon, of die berg Ramon. In die top tien hoogste berge in Israel kom Sion nie voor nie. Sion word omring deur ‘n ring van hoër berge, soos die Olyfberg, 60 meter hoër. Tog was Sion die berg wat God verkies het, om sy tempel daar te laat bou. En dis waaroor dit gaan.

    Dan in vers 2 word die HERE self vergelyk met berge, die berge wat beskermend rondom Jerusalem en die berg Sion staan. Soos wat die mense al nader aan Jerusalem gekom het op hulle bedevaartsreis, het hulle hierdie berge sien lê, ‘n veilige ring rondom Jerusalem, met in die middel die berg Sion en die stad Jerusalem. Wie Jerusalem wou aanval, moes eers verby hierdie ring van berge kom. Rondom Jerusalem is daar verskeie berge en heuwels, soos byvoorbeeld die Olyfberg. Bo op hierdie berge kon mens die vyand al van ver af sien aankom. Bo op die berge is forte gebou, van waar die vyand maklik aangeval kon word, voordat hulle Jerusalem sou bereik. Soos die forte wat vroeër hier op die berge of koppies rondom Pretoria gebou is met die Tweede Boereoorlog, om die stad teen ‘n aanval te kan beskerm. Die plan was om verskillende forte te bou, uiteindelik was daar net geld vir vier: Fort Klapperkop, Skanskop, Daspoort en Wonderboom. ‘n Rukkie gelede het ons nog opgeklim tot by Fort Wonderboom. Van daaraf sien mens die stad Pretoria aan jou voete lê.

    Psalm 125 sing: soos daar rondom Jerusalem berge is, so is die HERE rondom sy volk. Die HERE vorm ‘n kring van standvastige berge. Christus se kerk is soos hierdie standvastige berge, dit bied ‘n veilige plek aan die uitverkorenes.

    Ja die kerk is ‘n geskenk van Christus aan die uitverkorenes. Dit is soos berge wat veiligheid bied, wat die gelowiges en hulle kinders omring. In die kerk, daar waar sy Woord die rigting aandui, bied Christus beskerming aan sy kudde. Hier, waarborg die HERE, sal die goddeloosheid nie die septer swaai nie. Hier sal die regverdiges hulle hande nie begerig uitsteek na onreg nie.

    Hier, in die kerk, is dit ‘n veilige plek om te bly, vir jou en jou kinders. Hier doen die HERE goed aan die goeies en die opregtes van hart.

    Wat presies bedoel word in vers 3 met die septer van goddeloosheid, is nie heeltemal duidelik nie. Daar is verklaarders wat hieruit aflei dat heidene op daardie stadium die stad Jerusalem oorheers het. Of dit waar is, hang natuurlik af van die datering van hierdie psalm, hierdie bedevaartslied.

    Heidense oorheersing was daar byvoorbeeld in die tye na die ballingskap.

    Maar die term: septer van goddeloosheid, kan ook anders verklaar word. Dit kan dui op tye van afval binne God se volk self. Soos ons weet was daar ook eeue van interne afval wat aan die ballingskap vooraf gegaan het. Vandag net so – die gevare vir die kerk kom nie net van buite af nie. Afval, wêreldse gewoontes, dwaalleer, kan die kerk lamlê. Valse christusse en valse profete sal opstaan, verseker Jesus ons in Mattheüs 22:24. Hulle sal ‘n baie aantreklike boodskap  bring, en as dit moontlik was, die uitverkorenes verlei. Maar die Psalm gee die versekering: die septer van goddeloosheid sal nie rus op die erfdeel van die regverdiges nie.

    Die datering van die psalm lê waarskynlik in die periode na die ballingskap. Toe ‘n klein deel van God se volk teruggekeer het. Toe die tempeldiens weer in Jerusalem hervat is. Toe die tempel herbou is. Vergeleke met vroeër eeue, met die tye van Dawid en Salomo, nou baie meer kleinskalig. Maar tog, die diens van die versoening mog weer voortgaan. En daar het weer groepies mense na die tempel opgetrek vir die feesdae. En soos hulle optrek, het hulle weer bedevaartsliedere gesing. So vorm Psalm 125 ‘n bedevaartslied van hierdie gelowiges, wat, vertrouende op die HERE. Getroues wat aan die HERE se oproep gehoor gegee het, en ‘n nuwe bestaan weer in die beloofde land begin opbou het. Daar was dikwels oorheersing deur die septer van goddeloosheid.

    Heidense oorheersing – die Perse, later die Grieke. Maar ook afval binne die volk van God, wat geassimileer het aan die gewoontes van die heidene.

    Desnieteenstaande is die boodskap van die Psalm dat hulle wat op die HERE vertrou, staande sal bly, omring deur die berge van sy beskerming. Christus sal sorg dat sy kerk staande bly, al mag dit in die oë van mense soms baie klein en onaansienlik geword het – soos ons in die NGB bely: “hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie.” Dink aan die versekering wat Christus in 1 Korinthiërs 10:13 gee: “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”

    Deur die geskiedenis heen het daar al baie versoekings die kerk se pad gekruis. Die kerkgeskiedenis leer vir ons egter die les dat Christus telkens weer uitkoms gegee het. Hy het telkens weer Reformasie, terugkeer na sy Woord gegee. Hoewel sulke tye van aanvegting slagoffers geeïs het, en die kerk dikwels klein en verskeurd daaruit gekom het; tog het Christus sy kudde, die wat die Vader aan Hom toevertrou het, daardeur gelei.

    Tema: Rondom Jerusalem is berge

  • In sy kerk skenk Christus standvastigheid
  • In sy kerk skenk Christus ‘n toekoms van vrede

    Geliefdes, fokus op die plek waar Christus rondom sy Woord vergader, waar sy Woord verkondig word. Dit is die plek wat Hy gekies het. In die beeldspraak van Psalm 125: dit is die berg wat Hy verkies het om sy Naam daar te vestig. Die berg Sion. Op die oog af nie die hoogste berg in Israel nie, nie soos hoog soos Hermon of Ramon nie. Maar tog, hier sal jy die veiligste wees. As jy afgaan op wat voor oë is, sal jy dalk rondom jou groter kerke vind, denominasies met baie meer aantalle, indrukwekkende kerkgeboue vir die oog. Maar dit alles ten spyt, as Christus se Woord nie daar suiwer bedien word nie, dan woon Hy nie daar nie, dan het Hy daardie plekke nie verkies nie. Maar hulle wat afvallig word, hulle wat Christus se Gees en Woord blus, hulle wat sy kerk aan die gevare van ‘n wêreldse lewensstyl en ketterye blootstel, hulle wat – soos die Psalm sê – langs krom paaie wegdraai, hulle sal ook vergaan saam die werkers van ongeregtigheid. Christus hou sy kerk suiwer.

    Maar net soos in die Ou Testament, geld ook vir ons tyd in die nuwe bedeling, dat sy volk afvallig word, nie meer op sy roepstem ag gee nie. ‘n Volk wat onder die beskerming van die berge begin uitbeweeg. Kerkverlating.

    Mense wat los van die kerk lewe, dalk nog in naam lid is. Mense wat hulle bakens in die lewe verloor het. Mense wat geen anker meer in die lewe het nie. Wat heen en weer geslinger word deur die modegiere van die tyd. Die denke van die tydsgees. Daar is ‘n teenstelling in die Psalm tussen vers 1 – hulle wat op Hom vertrou sal nie wankel nie (letterlik staan daar: hulle is onbeweeglik), en vers 5: hulle wat langs krom paaie wegdraai en vergaan.

    Hierdie sien ons ook om ons heen gebeur. Daar is gesinne, families, wat die kerk die rug toegekeer het, wat hulle eie koers gekies het. Hulle funksioneer in die samelewing, hulle gaan op in die samelewing, hulle versmelt in die samelewing, uiteindelik raak hulle weg in die massa wat slegs leef vir eie genot en plesier. En dan is daar hulle wat volhou om by die kerk te bly, ‘n keuse van lewenswyse wat vir die wêreld onnosel, agterlik, onnodig is. Hulle ry nie die golf van genot en plesier nie. Tog staan hulle en hulle nageslag vas, hulle bly onderskeibaar, van geslag tot geslag bly hulle standvastig, soos die berg Sion. Dit is hulle wat op die HERE vertrou en hulle lewe wy in diens van Hom en sy kerk. Calvyn skryf in hierdie verband in sy kommentaar op Psalm 125: Hoewel die getroues in hierdie wêreld vermeng is met die goddelose en ook net soos alle ander mense blootgestel is aan al die euwels van die lewe, tog vergelyk die profeet hulle met Jerusalem, en wys dat hulle verdedig word deur ‘n onoorkombare bergvesting. Hoewel Christus se kerk onder dieselfde eksterne omstandighede verkeer as die res van die wêreld, tog bly sy standvastig danksy die beskerming van God.

    Die Psalm word afgesluit deur die frase: Vrede oor Israel. Hierdie vredegroet staan soort van los van die res van die psalm. Die psalm was ‘n bedevaartslied, wat die gelowiges gesing het, as hulle by die tempel aangekom het. In hierdie lied het hulle gesing van die plek wat die HERE verkies het. Hulle, die ballinge wat teruggekeer het, hulle en hulle nageslag, het in die oë van die wêreld ‘n veragtelike lewe gelei daar in die omgewing van Jerusalem. Tog was dit waaraan hulle vasgehou het: die feit dat die HERE juis hierdie plek gekies het om sy Naam daar te vestig. Hier het hulle heil en seën verwag, hier het hulle hulle ankers uitgegooi, naby die HERE en sy diens. Hier het hulle die HERE herinner aan sy verbondsbelofte, dat die septer van goddeloosheid nie hier aan bewind sal wees nie.

    Die slotfrase, Vrede oor Israel, was vervolgens die antwoord van die priesters by die tempel. Hulle mog in Naam van die HERE die seën aan die volk oplê.

    Hulle mog die volk verseker van die HERE se nabyheid. Inderdaad, hier sal julle vrede vind! Hier, as julle hier naby My en my diens bly. Israel staan hier vir almal wat kom anker uitgooi op die berg Sion. Op daardie stadium, die periode na die ballingskap, was die hele volk Israel nie meer in Israel nie. Die meerderheid van hulle het gewoon verstrooid onder die nasies, van  Griekeland tot Babel. Die priesters lê egter die seën op aan Israel, bedoelende hulle wat teruggekeer het, hulle wat hulle lewe kom lei het daar waar die HERE besluit het om sy Naam te vestig, naamlik by die tempel in Jerusalem.

    Die term Israel aan die einde van hierdie psalm kan ons uitlê soos die apostel Paulus dit ook bedoel in Galasiërs. Hy skryf in Galasiërs 6:16: “mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” Met hierdie reël bedoel Paulus dat God sy volk voortaan in die nuwe bedeling vergader, nie meer rondom die tempel nie, nie meer met die besnydenis nie, maar rondom Jesus Christus. Soos Calvyn skryf, in God se volk was daar altyd en is daar ook vandag hipokriete, ware en valse Israeliete.

    So vorm hierdie laaste frase ‘n vredegroet, ‘n seën oor die volk.  Vergelykbaar met die manier waarop Psalm 134 byvoorbeeld ook afsluit, waar die priesters aan die volk sê: “Mag die HERE jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het.” (Ps 134:3)

    Die volk mog dit ervaar. Soos die berge Sion omring, so het hulle geloofsoog die HERE se bekerming gesien.

    En as hulle weer terugreis na hulle eie blyplek, en hulle laat Sion en die tempel agter hulle, en ook die berge wat Sion omring, dan reis hulle verder met die wete: Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

    Soos die berge Jerusalem omring, so gaan sy beskerming met my. En daar is ook ‘n ring van berge rondom my blyplek. My geloofsoë sien dit – die HERE se beskerming. Binne hierdie ring van beskermende berge is daar vrede!

    Dit is die troos wat ons uit hierdie Psalm vanaand ontvang. Rondom Jerusalem is berge. Christus beskerm sy kerk. Ek mag daarvan ‘n lewende lid wees.

    Solank ek verbonde bly aan daardie plek waar sy Woord bedien word, sal ek en my kinders veilig wees. In sy kerk skenk Christus standvastigheid.

    Hier vergader Christus hulle wie die Vader aan Hom toevertrou het. Hier word ons lewe, te midde van ‘n woelige en afvallige wêreld, beskerm deur ‘n onsigbare ring van berge. Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie.

    En die deur van hierdie veilige plek, Christus se kerk staan oop. Want steeds is Hy besig om sy kudde bymekaar te maak. En die uitnodiging, die dringende oproep klink vanaf hier tot almal in ‘n wêreld in nood, ‘n wêreld wat onderweg is om ten onder te gaan, saam met alle werkers van ongeregtigheid:

    Kom vind hier skuiling! In sy kerk skenk Christus ‘n toekoms van vrede.

    Kom vind hier vrede!

    Amen.

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 48:1

Gebed

Skriflesing: Psalm 125

Ps 48:4,5

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 54

Preek

Ps 125:1-7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 87:1-4

Seën