God gee die armes ‘n volwaardige plek in sy gemeente, en die rykes die taak om dit waar te maak.

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-06-10
Text: 
Rut 2
Preek Inhoud: 

Preek: Rut 2

Afgelope week het ek op die nuus gehoor van ‘n man in Germiston wat sy gesin en toe homself geskiet het. Hierdie gesinsmoord was waarskynlik as gevolg van sy omstandighede wat vir hom te veel geword het. Sy vrou is verlede jaar oorlede, en toe verloor hy ook nog sy werk. Vir ‘n man is dit dikwels sy eer en trots om sy gesin na behore te kan onderhou. ‘n Man wil nie bekend staan as ‘n mislukkeling, omdat hy nie brood op die tafel kan sit nie. Nou is die omstandighede in ons land van so ‘n aard dat nie net mans wat leeglêers is, sonder werk sit nie. Ook mans en pa’s wat eerbaar is, hardwerkend en eerlik, kom sonder werk te sit. Dit veroorsaak baie spanning en skuldgevoelens. Dit is ook iets wat nie aan ons gemeente verbygaan nie. Armoede en rykdom is realiteite, ook in ons gemeente. Kom ons luister vanaand na God se Woord, spesifiek uit Rut hoofstuk 2.

Tema: God gee die armes ‘n volwaardige plek in sy gemeente, en die rykes die taak om dit waar te maak.

In Rut 1 het ons in ‘n voëlvlug kennis gemaak met die lewensgeskiedenis van Naomi. Ons teks, hoofstuk 2, begin waar Naomi terug is waar sy begin het: in Bethlehem. Maar nou sonder haar man en twee seuns. Hulle het in die vreemde land Moab gesterf. Wel het Naomi vir Rut saamgebring uit die land van Moab.

En dit was eintlik baie besonder.

Ons lees meestal hierdie geskiedenis met die gedagte dat Orpa abnormaal was, dat sy sommer haar skoonma in die steek gelaat het. En dit is waar, want net Rut het haar trou gebly. Maar ons moet wel besef dat Rut se optrede eintlik abnormaal was. Wat Orpa gedoen het, was volgens die gewoonte van daardie tyd nie vreemd nie. Naamlik dat ‘n weduwee teruggekeer het na die familie waaruit sy afkomstig was. Naomi kon haar geen inkomste bied nie. Naomi het ook self teurggekeer na haar familiekring. Wanneer armoede toeslaan, wanneer daar geen broodwinner is nie, dan is mens op die familie aangewese. Dat Rut bewus daarvoor gekies het om met haar skoonma saam te gaan, is daarom des te meer bewonderenswaardig. Dink aan haar geloofsbelydenis: U volk is my volk en u God is my God.

Dit is daarom ook logies dat Rut in Betlehem dadelik opgeval het. ‘n Vrou wat nie gebonde was aan haar man of familie nie, was in sekere sin voëlvry. Manne kon met haar maak wat hulle wou. Sy hoef nog nie ‘n prostituut te gewees het nie om tog daardie risiko te loop. Ja Rut het ‘n groot kans gevat. Normaal sou wees, as ‘n vrou alleen te staan gekom het deur die afsterwe van haar man, dat sy die beskerming van haar familie weer gaan opsoek het. Maar Rut het dit nie gedoen nie. Sy het saam met haar skoonmoeder, wat ‘n ou en arm weduwee was, ‘n onseker toekoms tegemoet gegaan.

Ons moet ook nie al te positief oor die mense in Betlehem dink nie. Toe Rut daar aankom en begin are optel in die landerye, terwyl die oes aan die gang was, reken maar dat sy geteister is, in elk geval met woorde en skuin opmerkings.

En as Boas, wat nie aan die vuil grappe deelgeneem het, as hy haar nie enigsins in beskerming sou geneem het nie, weet ek nie wat Rut alles sou oorgekom het nie. Boas het sy knegte uitdruklik beveel om haar nie lastig te val nie. Mens kan hieruit aflei dat dit nie om dowe neute was dat Boas hierdie bevel gegee het nie.

As dit nie hiervoor was nie, sou Rut inderdaad blootgestaan het aan teistering van verskillende aard. Maar gelukkig, Boas het haar in beskerming geneem. As iemand haar sou aanraak, sou hulle met hom te make kry. Die diensknegte moes besef, as hulle die baas se bevel minag en Rut teister, sou hy hulle weg stuur.

En geen werk, geen inkomste.

Gemeente, al was die mense van Betlehem en omstreke deel van God se volk, ons sou vandag sê: kerkmense, sonder sonde was hulle allermins. Dit was die Rigtertyd. ‘n Tyd waarin baie Israeliete in sonde geleef het. ‘n Tyd waarin elkeen gedoen het wat goed was in sy eie oë. U ken dalk die geskiedenis wat gebeur het in Betlehem, waaroor mens in Rigters 19 kan lees. Dit staan ‘n paar bladsye terug in u Bybel. Oor die verskriklike lot wat ‘n meisie uit Betlehem getref het toe sy in ‘n dorpie bietjie verderop was, in Gibea. Sy is ‘n hele nag lank verkrag deur die manne van die dorp. Dit was hulle nagtelike pret. Dit het ongeveer in dieselfde tyd gebeur as hierdie geskiedenis van Rut. Reken maar daarop dat soiets ook Rut se voorland kon wees, as Boas hierdie weduwee nie in beskerming geneem het nie.

So sien mens twee uiteenlopende lewensstyle in dieselfde volk van God.

Verregaande afval, maar ook ‘n man soos Boas wat nie net na God se gebooie geluister het nie, maar dit ook in praktyk gebring het. Boas het die geloofsdaad van Rut bewonder en gerespekteer. Dat sy met haar skoonma saamgegaan het na ‘n vir haar onbekende en onveilige land. Ja dit was ‘n geloofsdaad! En Boas voel hom geroepe om vir haar op te kom. Dis nie dat hy haar ‘n guns gedoen het nie. Nee, iemand wat God se wette ernstig neem, besef dat Rut reg daarop gehad het. En Boas respekteer haar regte. Hy neem  God se wet ernstig.

Dink aan wat die HERE in sy wet bepaal het, byvoorbeeld Levitikus 19:

“En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.” (vers 9-10)
En Deuteronomium 24:

“Jy mag die reg van vreemdeling en wees nie verdraai nie en die kleed van 'n weduwee nie as pand neem nie. Maar jy moet daaraan dink dat jy 'n slaaf was in Egipte en die HERE jou God jou daaruit verlos het; daarom beveel ek jou om hierdie saak te doen. As jy jou oes op jou land insamel en 'n gerf op die land vergeet, mag jy nie omdraai om dit te gaan haal nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees, dat die HERE jou God jou kan seën in al die werk van jou hande. As jy jou olywe afslaan, moet jy nie agter jou in die takke rond soek nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees. As jy jou wingerd oes, moet jy agter jou nie skoon afoes nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees. En jy moet daaraan dink dat jy 'n slaaf was in Egipteland; daarom beveel ek jou om hierdie saak te doen.” (vers 17-22)

Selfs blyk in die manier hoe Boas vir Rut in beskerming neem, dat hy bo die letter van God se wet uitstyg. Hy verstaan ook die gees van die wet. So sien ons dat God, te midde van groot afval onder sy volk, weer nuwe perspektiewe skep.

Ons weet dat hierdie hele geskiedenis staan in die lig van wat later sou kom. God het ‘n vrou uit ‘n heidense omgewing gaan haal om ‘n moeder te word in die geslagslyn na koning Dawid toe, ja selfs die geslagsregister van die Messias, Jesus Christus. Dit gee aan hierdie geskiedenis ekstra glans, ja ‘n ewige glans.

Maar Boas en Rut was op daardie stadium nie hiervan bewus nie. Hulle het slegs geleef by die belofte dat God redding sou bewerk vir sy kinders in die toekoms.

Hulle het geleef in gehoorsaamheid aan God se gebooie in die hede. Konkreet kom dit in ons teks na vore in hoe Boas aan ‘n arm weerlose vrou beskerming verleen.

Hoekom het Boas dit eintlik gedoen?

Nêrens in die boek Rut staan daar iets wat ons aanleiding sou kon gee om te dink dat daar van verliefdheid sprake was nie. Of dit die geval was, bly onbekend. Die kans is dalk groter dat dit nie so was nie, as mens die kultuur en omstandighede van daardie tyd in rekening bring. Waar ons teks egter wel duidelik oor is, is dat Boas eerbied gehad het vir God se gebooie. God gee naamlik ook vir die arme ‘n reg op bestaan, ‘n volwaardige plek in sy volk. En God gee aan die ryke die taak om dit waar te maak. En daarom kom Boas in aksie.

Boas, ‘n ryk man, is vrygewig, en kom sy sosiale pligte na. Of om dit in vandag se terme te sê: ‘n arm weduwee merk dat haar medegemeentelede bereid is om rojaal haar te laat deel, sonder om van die hulp iets te probeer afknyp.Boer Boas gee sy knegte opdrag om selfs ekstra are op die grond te laat val. Hy gee haar ook toestemming om water te drink uit die kanne wat vir die dienaars reggesit is. Reken maar dat mens gou dors geraak het in die brandende son tydens die oestyd. So vervul Boas die taak wat God aan elkeen gee wat Hy met besit seën.

Boas sien die arme raak. Die arme waarvan God sê dat hy reg het op brood.

Nou staan hierdie geskiedenis in sekere sin ver van ons af. Al het ons baie sorge, het ons nie die sorg dat daar regtig gebrek aan brood in ons huise is nie. Eerder moet ons aandag daaraan skenk dat ons ons kinders opvoed dat hulle nie die brood waarvoor hulle nie meer lus is nie, of die korsies, in die asblik gooi nie.

Tog is daar wel mense in ons land, en veral op ons kontinent, wat met ‘n honger maag moet gaan slaap. Reik ons blik ver genoeg dat ons hulle ook raaksien? Sien ons hulle ellende raak? Die diepste ellende van ons naaste, en in die verlengde daarvan ook hulle materiële ellende? Ons mag ons oë nie daarvoor sluit nie.

Die geweldige gaping tussen arm en ryk in ons land mag ons nie onberoerd laat nie. ‘n Gaping wat ons gemeente ook nie verbygaan nie. God se Woord pleit nie daarvoor dat alle mense ewe ryk of arm moet wees nie. Verskil in welvaart is nie ‘n sonde nie. Maar God se Woord gee wel die opdrag aan die rykes om die armes hartlik te help. En as ons dit doen, belowe God dat Hy dit ook sal seën. Dink maar aan Boas. Wie armes hulle brood gun, vind onverwags lewensgeluk. ‘n Brandarm weduwee, boonop ‘n buitelander, het by Boas om hulp aangeklop. Boas het sy Bybelse plig nagekom. En God het dit geseën. Hy het onverwags in daardie persoon ‘n lewensmaat ontvang.

Gemeente, laat ons ook, sonder reserwes, uit dankbaarheid, God se gebooie doen. Sonder om vooraf te bereken of dit vir ons wins sal oplewer. Belangeloos.

Uit die besef dat dit wat ons het, van God is. Ons is rentmeesters. Ons beheer maar net sy gawes. As Hy ons oor baie besit aangestel het, bring dit ‘n groot verantwoordelikheid. God wil dat ons met ander oë begin kyk. Ons het dikwels ‘n goeie oog vir winskopies. Die beste prys-kwaliteitverhouding. Ons is bereid om ver te ry vir ‘n uitverkoping. Maar het ons ook oog vir ons naaste in nood?

Soos die Skrif ons oproep:

“Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” (Gal 6:10)

Ons kry die taak, en die diakens moet hierin die leiding neem, dat niemand in die gemeente moet leef onder die druk van armoede nie. Dis presies wat Boas gedoen het. Boas het vir Rut ‘n Losser geword. Daarin was hy ‘n voorafskaduwing van sy verre nakomeling, Christus, die Messias. Ja Hy het ons Losser, ons Verlosser geword. En Hy wil dit wees vir almal wat in die diepste nood hulle tot Hom wend.

Watter houding het ons, as daar op ons ‘n beroep gedoen word? Het ons ‘n houding van: moenie te vinnig gee nie, want as jy eenmaal gegee het, dan sal dit nie ophou nie. Het Boas ook so geredeneer? As ek hierdie weduwee nou help, wie weet, dalk staan daar volgende week ‘n dosyn weduwees op my land!

Uiteraard wil God dat ons ons besit verantwoordelik beheer. Maar primêr vra God ons hart, dat ons bereid moet wees om te help. Dat ons mild gee uit ons oorvloed. Geld, maar ook aandag, en tyd, en voorbede. God het die milde gewer lief.

Tradisioneel noem ons die Sondag voorafgaande aan die nagmaal voorbereiding vir die viering van die nagmaal. Die gemeente word dan opgeroep om hulle passend voor te berei vir die viering van die volgende week. Mense wat in sonde leef, word opgeroep om te breek met sondige gewoontes. Om die band met Christus, jou Verlosser, weer te herstel. Die vraag vanaand is: wat kan ons as gemeente leer uit Rut 2? Hoe kan hierdie hoofstuk ons help om ons op volgende week se nagmaal voor te berei? ‘n Aspek waaraan die nagmaalsformulier baie aandag skenk, en wat ook sterk deurklink in hierdie hoofstuk, is dat God se volk na mekaar behoort om te sien. Soos die nagmaalsformulier verwoord: ons word deur dieselfde Gees onderling as lede van een liggaam saamgebind.

Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam (1 Kor 10:17).

Ons moet saam een liggaam wees. Omdat Christus ons so uitnemend liefgehad het, moet ons ook aan mekaar liefde bewys. Nie net met woorde nie, ook met die daad. Die nagmaalsformulier verwys hier na die brief van Jakobus. Jakobus vermaan die gelowiges vir die feit dat hulle die ryk mense voortrek, diegene met goue ringe en pragtige klere, terwyl die armes nie ‘n sitplek kry nie, maar moet staan (Jak 2). Jakobus skryf dan: “het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie”? Dit wat Jakobus hier skryf, pas presies op ‘n persoon soos Rut.

Laat ons as gemeente hieroor besin in die komende week van voorbereiding.

Funksioneer ons soos een brood, een liggaam? Is die rykes onder ons vrygewig?

Wat ‘n voorreg is dit, as mens aan ‘n gemeente behoort waar ryk en arm na mekaar omsien. As die dag kom dat jy jou werk plotseling verloor, dat jy nie wanhopig hoef te raak nie, dat dit nie nodig is dat gedagtes in jou opkom om maar ‘n einde aan die lewe te maak nie. Omdat jy deel is van ‘n gemeenskap wat mekaar se lief en leed dra. Een liggaam wees het met finansies alles te make.

Maar meer as dit. Ondersoek jouself in hierdie week van voorbereiding: is jy aktief betrokke by jou medegemeentelede? Die berigte wat elke tweede Sondag in die Gemeentenuus staan, lees jy dit? Lei dit ook soms by jou tot aksie? Dat jy met hulle wat siek is, of bejaard, of wat ‘n geliefde verloor het, kontak opneem?

Kom ons gebruik hierdie week om die onderlinge eenheid as gemeente weer te versterk. God gee die armes ‘n volwaardige plek in sy gemeente, en die rykes die taak om dit waar te maak. Armes, in finansiële sin. Armes, ook in ander opsigte.

Arm in gesondheid. Arm in die sin van eensaam. Maar daar is ook die wat ryk is in gesondheid. Daar is ook die wat nog nooit eensaamheid geken het nie.

Laat ons oog hê vir mekaar, en in uitnemende liefde, in navolging van Christus, na mekaar omsien.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 41:1,2,6

Gebed

Skriflesing: Rut 2

Ps 10:8-10

Teks: Rut 2

Preek

Ps 102:7,8,10

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 72:2,4,7

Seën