Deur lyde na heerlikheid

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-05-20
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 15
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 15

Daar is slegs een rede waarvoor ‘n Christen in die tronk kan kom. Dit is die mening van een van die apologete uit die vroeë kerk. Die apologete was Christene, teoloë, wat die Bybel teenoor die heidense denkwyses en lewenswyses van daardie tyd verdedig het. Hy het dit aan die Romeinse regering geskryf in ‘n tyd toe die Christene deur die owerheid vervolg is.

Daar is slegs een rede hoekom ‘n Christen in die tronk kan kom. En dit is vir die feit dat hy ‘n Christen is. As iemand in die tronk sit weens diefstal of vandalisme, is dit nie ‘n Christen nie. As iemand in die tronk sit weens moord, is dit nie ‘n Christen nie. Want ‘n dief kan nie ‘n Christen wees nie, en ‘n moordernaar kan homself ook nie ‘n Christen noem nie.

Nou dink u moontlik: is dit nie te swart-wit nie? In ons land lewe daar baie naam-Christene. Die gemiddelde Christen in ons land se lewensstyl is nagenoeg gelyk aan die van die wêreld. Tog gee hierdie apologeet op ‘n treffende wyse weer wat daar in die Skrif staan oor die navolging van Christus. Hierdie opmerking laat ons veral dink aan die lewe van Christus self.

Hy wat self in hegtenis geneem is. Hy wat sy hele lewe moes ly, maar veral aan die einde daarvan. Daar was steeds net een rede hoekom Hy moes ly: vir die feit dat Hy die Christus was. Dat Hy gesalf, aangestel was deur God om Middelaar te wees vir die mense. Hy het nie gely as ‘n dief, of moordenaar, of dronkaard, of rewolusionêr, of watter misdadiger ook al nie. Hy het gely as die Christus.

Tema: Deur lyde na heerlikheid

1 Dit geld vir die Christus

2 Dit geld vir die Christen

1 Dit geld vir die Christus

Sondag 15 verduidelik die verskil wat daar is tussen Christus se lyde en die lyde wat mense kan deurmaak. Hoewel mense op aarde gereeld die mees afskuwelike lyde ervaar, mens kan dink aan oorlog, of honger, of siekte, was die lyde van Christus van ‘n heel ander orde. Dit was nog veel dieper. Die ergste in sy lyde was die Godverlatenheid. Juis hierdie element het Christus se lyde uniek gemaak, van ‘n ander orde, onvergelykbaar erger as enige lyde wat mense deurmaak.

Godverlatenheid.

Mens kan dit ook Godsverduistering noem. Tydens die drie ure aan die kruis het dit pikdonker geword. God die Vader het tydens Jesus se lewe op aarde Hom nog nie heeltemal verlaat nie. Dink aan hoe Jesus tydens die nag in Getsemane nog met sy Vader in gesprek was. Hoe die Vader ‘n engel gestuur het om sy Seun te troos. Maar toe Hy aan die kruis hang, het die Vader sy rug op sy Seun gedraai. Dit was letterlik sigbaar. Pikdonkerte. Godsverduistering.

Jesus het die Godverlatenheid ervaar. Dit was die straf wat Hy vir ons gedra het. Die toorn van God teen die sonde van die menslike geslag. Met sy lyde, as die enigste soenoffer, het Hy ons van die ewige oordeel verlos.

Godsverduistering is ‘n woord wat mens slegs vir daardie drie ure uit die wêreldgeskiedenis kan gebruik. Nog nooit was daar ‘n ander oomblik in die geskiedenis, dat daar hiervan sprake was nie. Aan die einde van die drie ure het Jesus gesterf. Die oomblik toe Hy sterf, het die voorhangsel, die tempelgordyn van bo na onder geskeur. Die gordyn wat gedurende die Ou Testament skeiding gemaak het tussen sondig en sondeloos. Tussen God en mense. Daardie gordyn het God veelbetekenend in twee laat skeur. Danksy Christus se lyde en sterwe.

Ons ervaar gelukkig nie Godsverduistering nie. As dit sou gebeur, as God sou herhaal wat Hy toe gedoen het, dan sou dit vandag ook letterlik donker word.

As mense God nie meer sien nie, as mense nie meer in God kan glo nie, wil dit nog nie sê dat hulle deur God verlaat is nie. Godverlatenheid, Jesus is die enigste lewende mens wat dit al ooit meegemaak het. En juis daarom is die lyde van Christus onvergelykbaar groter as enige ander menslike lyding. Dit blyk ook uit die feit dat Jesus aan ‘n kruis gesterf het. Ook dit was nie toevallig nie. Die Kategismus verwys na Galasiërs 3:13, waar Paulus op sy beurt verwys na Deuteronomium 21. Wie aan ‘n kruis gehang het, ‘n paal tussen hemel en aarde, het daar gehang as ‘n teken, dat hy deur God vervloek is. Dit is wat so aanstootlik was aan die kruisdood.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis vestig ons aandag op nog ‘n aspek waaruit die Godverlatenheid blyk in Jesus se lyde en sterwe. Die feit dat Hy onder Pontius Pilatus veroordeel is. Hiermee word veral twee dinge bedoel.

In die eerste plek is dit ‘n tydsaanduiding.

Ons sou vandag byvoorbeeld sê: my broer is in 2004 oorlede. Of: my ma is in 1946 gebore. Maar vroeër het die mense nie so ‘n jaartal gebruik nie. Die gewoonte was om te verwys na die regeringsperiode van ‘n bepaalde koning.

Byvoorbeeld: in die dae van koning Jerobeam. Of: in die 15e jaar van die regering van keiser Tiberius. Daar is genoeg voorbeelde hiervan in die Bybel.

En so het Christus gely en is Hy gekruisig tydens die regering van Pontius Pilatus. Dit is die eerste wat met hierdie uitdrukking bedoel word. Dis ‘n historiese tydsaanduiding.

In die tweede plek word hiermee bedoel dat Jesus voor Pilatus tereg gestaan het. Pilatus was nie sommer net iemand nie, maar hy was die offisiële regter wat deur God aangestel is. Wie voor ‘n regter op aarde staan, staan tegelykertyd voor God. Jesus het hierdie bevoegdheid van Pilatus erken:

Hy sê in Johannes 19:11: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.” In die veroordeling van Pilatus het Jesus dus die stem van sy eie Vader gehoor.

Nie dat Pilatus daardeur onskuldig geword het nie. Nie dat die feit dat hy sy hande in onskuld gewas het, ‘n verskil gemaak het nie. Die sonde van Pilatus is en bly. Met sy veroordeling het hy die onpartydigheid van die regbank verkrag. Om sy posisie veilig te stel, het hy geswig voor die druk van die Jode.

Tot vyf keer toe het hy betuig dat Christus onskuldig was. Maar tog het hy Hom uiteindelik veroordeel.

Pilatus was te bang. En dink ook aan Petrus. Ook Petrus het sy Heiland verloën omdat hy te bang was vir die groepie mense wat by hom om die vuur gestaan het. En dink ook aan jouself. As Christus die Here van jou lewe is, beteken dit dat jy Hom volg, ook as dit lyde inhou? Ook as dit offers vra? Daarna gaan ons in die tweede punt kyk.

Die tema van hierdie preek lui: Deur lyde na heerlikheid. Dit het vir Christus gegeld. En tweedens, dit geld ook vir die Christen.

2 Dit geld vir die Christen

Die lydensweg van Christus was die voorspel tot sy verhoging. Nadat die dieptepunt in die graf bereik is, het sy verhoging begin. Hy het opgestaan uit die dood en opgevaar na die hemel. Daar het Hy op die troon plaasgeneem en vandaar sy Heilige Gees uitgestort. Hierdie is heilsfeite waaraan ons in hierdie dae aandag skenk. In hierdie preek gaan die aandag veral uit na die eerste woorde van die tema: Deur lyde na heerlikheid.

Die lyde van Christus moet ons nooit onderskat nie. Christus het bewus vir die lyde gekies ter wille van ons behoud. Hy het die lydensweg enduit gestap. Ten spyte van versoekinge deur byvoorbeeld die satan wat Hom voortydig die heerskappy oor die aarde aangebied het, met as enkele teenprestasie dat Hy voor hom moes kniel. Ons Heer en Heiland het trou gebly, tot in die dood. Hy het Homself laat verneder, want Hy het geweet dat dit God se bedoeling in sy raadsplan was.

Waaroor dit nou in die twee punt gaan, is iets wat ons by herhaling in die Bybel terugvind. Naamlik dat die tema van die preek – Deur lyde na heerlikheid – nie net vir die Christus geld nie, maar ook vir die Christen. En net so belangrik is dat ons die lyde vir ‘n Christen nie moet onderskat nie.

Om met die deur in huis te val: aan ‘n Christen word nie op aarde ‘n heerlike lewe beloof nie. Die heerlikheid is elders. En net soos by Jesus, is die versoeking by ons ook baie reëel aanwesig. Die versoeking om die weg na die heerlikheid, wat ‘n lydensweg is, korter te wil maak. Om ‘n kortpad te kies. ‘n Vinnige opsie na die heerlikheid toe. Maar so werk dit nie. Ter vergelyking: daar is mense wat so vinnig moontlik ryk wil word. Hulle wil begin op die vlak waar hulle ouers geëindig het. Net so dreig die verleiding vir ‘n Christen om vooruit te gryp op die heerlikheid. Ons wil nou al hê wat Christus het. Ons wil die lyde ontloop. Dit is ‘n reële verleiding

Die Bybel vestig ons aandag egter op die realiteit vir elke Christen. Dink aan ‘n vers soos 2 Timotheüs 3:12: “almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” Hierdie is ‘n stelling waarvan ons moet uitgaan.

Dit is die normale. Mens sou die stelling ook so kon verwoord: As u nie wil ly ter wille van die Naam van Jesus nie, is u nie ‘n Christen nie. Dan behoort u by die wêreld. In die gedeelte wat ons gelees het, word indringend hierop gewys.

Juis in die feit dat jy as ‘n Christen moet ly, juis daarin lê die waarborg van die toekomstige heerlikheid. Petrus skryf: “Maar as julle ook moet ly ter will van die geregtigheid, salig is julle.” (1 Petr 3:14) ‘n Paar verse verder: “Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen. Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onververdiges, om ons tot God te bring” (1 Petr 3:17-18).

U is tog ‘n Christen! Dit hoort nou eenmaal by ‘n Christen. Dan dink ek vir ‘n oomblik terug aan die inleiding van hierdie preek. Daar is slegs een rede hoekom ‘n Christen in die tronk kan kom, en dit is vir die feit dat hy ‘n Christen is. Jy kan nooit in die tronk sit, én omdat jy ‘n Christen is, én omdat jy gesteel het, of watter oortreding ook al. Tensy (waarskynlik die enigste uitsondering), tensy jy in die tronk tot bekering gekom het. Iets wat meer dikwels gebeur as mens dalk vermoed. Presies hieroor skryf Petrus ook in sy brief. Dit is beter om te ly, indien die wil van God dit vereis, deur goed te doen as deur kwaad te doen. As jy die keuse het: Kwaad doen en daardeur ‘n aangename lewe te kan lei (lei met ‘n kort ei), of goed doen en daardeur moet ly (ly met ‘n lang y). Hieroor sê die Woord: dit is beter om te ly (met ‘n lang y), as dit wil van God dit vereis, deur goed te doen pleks van kwaad. Die wil van God, die ken ons, die hoor ons elke Sondag.

En dan nie met ‘n suur gesig sy wil doen nie, maar gewillig. 1 Petrus 4 vanaf vers 13: “namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik. Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ‘n ander bemoei nie. Maar wanneer iemand as ‘n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig. Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.” (1 Petr 4:13-17)

Dus ja, selfs dit sê die Bybel: julle mag bly wees as julle ly soos Christus. Juis daarin lê julle waarborg vir die toekoms. Deur lyde na heerlikheid. Wie die lyde vermy en assimileer aan die wêreld, hou geen waarborg oor nie. Hulle het hulle loon reeds ontvang, sê Christus. Maar wie agter Christus aangaan, kies nie ‘n maklike pad nie. Jy haal dikwels die spot en smaad van die wêreld oor jou heen. Miskien haal jy die onbegrip oor jou heen van familielede, kollegas, miskien selfs ouers of broers of susters. Maar dit is die weg agter Christus aan.

En die waarborg is daar: die ware vreugde kry jy daarvoor terug. ‘n Skoon gewete, ‘n vrye gewete. En, beloof Jesus, jy kry baie broers en susters en ouers ensovoorts ook daarvoor terug. “So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.” (1 Petr 4:19)

So ‘n lewensstyl is ‘n gawe van Christus. Hy werk dit met sy Gees in jou.

Hierdie lewensstyl sien alles in die perspektief van die groot toekoms.

Hierdie lewensstyl is bereid om onreg te ly, met die besef dat dit slegs tydelik is. Soos Paulus aan die Christene in Korinthe voorhou: “Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank, en dit voor ongelowiges? Dan is dit al werklik ‘n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?” (1 Kor 6:6,7)

Hierdie wil ek ekstra benadruk, geliefdes. Die lewe van ‘n Christen hou lyde in.

U moenie dink dat dit net sommige Christene tref, maar nie elkeen nie. Dink vir ‘n oomblik terug aan die lyde van ons Heiland. Die Kategismus skryf: Christus het nie net aan die einde van sy lewe nie, maar tydens sy hele lewe op aarde gely. Sy lewe, wat volmaak aan God toegewy was, het gebots op soveel terreine, in soveel details, met sy omgewing. Want die opstand van die mensheid teen die Skepper het deurgedring tot in elke detail van die lewe.

Hierdie voortdurende konfrontasie was pynlik, dit was ‘n lydensweg. Hierdie selfde lydensweg moet ‘n Christen gaan. Elke persoon wie se lewe steeds meer deur die Gees geheilig word, om gelykvormig te word aan die beeld van Christus. Ons kan nie begin op die vlak waar Christus nou al is nie. Deur lyde na heerlikheid. Dit het vir die Christus gegeld, dit geld ook vir elke Christen.

Wie nie die lyde in sy lewe ervaar nie, moet homself afvra of sy lewe gelykvormig is aan die beeld van Christus, of aan die wêreld.

Wêreldgelykvormig noem ons dit.

Gemeente, dit is en bly die antitese, die teenstelling, deur alle eeue heen. Die Christelike geloof is aanstootlik in die oë van ‘n opstandige wêreld. Paulus skryf aan die Galasiërs: “Almal wat ‘n mooi vertoning in die vlees wil maak, die dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie.” (Gal 6:12). Dit was naamlik so dat die Christene in Galasië teengewerk is deur die Jode. Maar as die Christene hulle laat besny het, dan het die Jode hulle met rus gelaat. Dan kon hulle ‘n rustige lewe lei.

Soos Paulus skryf, net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie. Maar onder sulke druk mag ‘n Christen nie swig nie. Ons doel op aarde is nie ‘n gemaklike lewe, welvaart, eie eer en aansien nie. Paulus skryf oor homself: “Maar ek, broeders, as ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig!” (Gal 5:11) Dit geld vir elke prediker, ook vir myself. Ek het die taak om die aanstootgewende van die kruis te preek. Aanstoot vir die Jode, dwaasheid vir die Grieke. Dit beteken konkreet dat u die eredienste nie altyd as selfbevestigend sal ervaar nie. Nie ‘n bevestiging van eie denke en lewensstyl nie. En ook vir my as prediker beteken dit nie ‘n gemaklike lewetjie nie. So is nou eenmaal die werklikheid. Hierdie lewe is ‘n geestelike maraton. Deur lyde na heerlikheid. Laat ons mekaar vashou op hierdie weg. Want dit is die enigste weg na die blywende heerlikheid toe. Soos daar in 2 Timotheüs 2:12 staan: As ons volhard, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. Ek sluit af met die toepaslike woorde uit Romeine 8:16-17: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 31:1,2

Gebed

Skriflesing: 1 Petrus 3:13-18 & 1 Petrus 4:12-19

Ps 69:4-6

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 15

Preek

Ps 69:9,10,12

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 31:3,4,9

Kollekte

Ps 69:13,14

Seën