Die opgestane Heer roep jou by die naam!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-04-01
Text: 
Johannes 20:16
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 20:16

Ons fokus vanoggend op die kort dialoog tussen Jesus en Maria.

Maria staan met betraande oë in die graf. Jesus kom staan agter haar, en roep haar.

Maria! In Aramees: Mirjam!

Nog nooit het die roep van haar naam soveel vir haar beteken nie. Hierdie roep het Maria se oë oopgemaak, die trane laat verdamp.

En vol bewondering het sy Hom teruggeantwoord, met die geliefde naam waarmee sy Hom altyd aangespreek het: Rabboeni!

Tema: Die opgestane Heer roep jou by die naam!

Jesus het opgestaan uit die dood, Op die eerste dag van die week, die Sondag, het Maria Magdalena vroeg, terwyl dit nog donker was, na die graf gegaan.

Die evangelis Johannes fokus spesifiek op haar. Uit die ander evangeliste weet ons dat ook ander vroue daardie oggend na die graf gegaan het.

Mattheüs vermeld naas Maria Magdalena, oftewel Maria van Magdala, ook nog die ander Maria, vrou van Klopas. Markus noem ook nog Salome.

Lukas noem ook nog Johanna.

Die evangelis Johannes fokus egter op Maria van Magdala. Sy het Jesus al die jare trou gevolg, nadat Jesus by haar sewe duiwels uitgedryf het (Luk 8:2).

In Lukas 8:3 staan dat sy, saam met ander vroue soos Johanna en Susanna, die Here Jesus met haar besittings gedien het. Moontlik was sy ‘n welgestelde vrou.

Toe Maria Magdalena by die graf aankom, sien sy dat die steen van die graf weggeneem was. Jesus het dus al voor sonopkoms opgestaan, maar dit het sy nog nie besef nie.

Sy het na die dissipels gehardloop, Simon Petrus en Johannes. Sy was onder die indruk dat daar mense was – waarskynlik die soldate – wat Jesus se liggaam weggeneem het.

Petrus en Johannes het toe na die graf gehardloop. Maria het ook teruggekeer na die graf, al het sy waarskynlik nie so vinnig soos hulle gehardloop nie.

Daar het die dissipels tot die ontdekking gekom dat Jesus se liggaam inderdaad nie in die graf was nie, maar dat sy grafdoeke wel nog daar gelê het.

Dit was die oomblik waarop die geloof in hulle begin wakker word het, naamlik die geloof in die feit dat Hy opgestaan het.

Vers 10 noem dat die dissipels toe weer huis toe gegaan het. Dit lyk nie of hulle daarna weer met Maria gepraat het nie.

Terwyl hulle terugkeer na Jerusalem, bly Maria Magdalena in die graftuin agter met haar verdriet.

Vers 11 noem dat sy buitekant by die graf staan en huil het. Maar toe sy vooroor buk rigting die graf, sien sy twee engele daar sit, daar by die plek waar Jesus se liggaam gelê het.

Hulle het helder wit klere aangehad. Hulle uiterlik soos die weerlig, weet ons uit Mattheüs (28:2-3). ‘n Hemelse lig in die halfdonker graf.

Die engele vra vir haar: vrou, hoekom huil jy? Logies dat hulle hierdie vraag vir haar gevra het. Want hulle sit daar by ‘n geopende graf wat leeg is, waar geen dooie meer lê nie.

Wie sal dan nog huil? Hoogstens trane van blydskap. Maar by Maria was dit nog trane van rou.

Sy antwoord toe dat hulle haar Here weggeneem het, en dat sy nie weet waar hulle Hom neergelê het nie.

Johannes skryf dat Maria op daardie oomblik omgedraai het. Daar het Jesus gestaan, wat ook vir haar gevra het: Vrou, hoekom huil jy? Wie soek jy?

Sy sien toe ‘n man, wie sy gedog het die tuinier was. Die trane van rou het haar sig vertroebel. Die tuinier se taak was om die graftuin te bewaak en te onderhou.

So ‘n persoon was ook verantwoordelik vir die vervoer van die lyke, as die op ‘n ander plek, of in ‘n ander graf neergelê moes word.  Maria het gewonder: het hy dalk in opdrag van iemand anders Jesus herbegrawe? Die soldate, die Joodse owerhede? Is sy liggaam net tydelik in Josef van Arimathea se graf gelê? Het Josef nou op ander gedagtes gekom? Sy wou graag weet waar hulle sy liggaam neergelê het. Sy sou dit wegneem. Toe noem Jesus haar op die naam: Maria! Eers toe herken sy sy stem.

Rabboeni! Het sy geantwoord. Meester! Sy het ‘n dooie in die graf kom soek. Maar sy is gevind deur Hom wat leef en buite die graf staan. Hy roep haar naam. Hy laat blyk hoe goed Hy haar ken. Hy roep haar tot geloof. Soos Jesus destyds ook haar naam geroep het – Maria! of in Hebreeus: Mirjam! toe Hy die demone uit haar uitgedryf het. Sewe duiwels het uit haar uitgegaan (Luk 8:2). Weer klink sy bevrydende roep. Soos Hy die duiwels met Goddelike gesag uitgedryf het, verdryf Hy nou haar wanhopige verdriet.

Rabboeni! Was haar reaksie. ‘n Meer persoonlike weergawe van die algemene aanspreekvorm Rabbi! Eerbiedig soos van ouds begroet sy haar Meester. Eerbiedig maar ook hoogs verbaas! Maria het gesien, en toe eers geglo. Ons mag ekstra troos ontleen aan Christus se woord aan Thomas: Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het (Joh 20:29).

Christus was genadig. Sy stem was kragtig. Sy stem het die miswolke van verdriet en ongeloof weggedryf. Hy het haar op haar naam geroep. Sy roestem is lewenskragtig. Dit gebied lewe uit die dood. Soos die Vader Hom terugeroep het uit dood en graf, so roep Hy ook elkeen wat die Vader aan Hom gegee het. Hy is die Goeie Herder. Hy ken sy skape. Die skape herken sy stem. Hy roep sy eie skape by hulle naam (Joh 10:3). Hy lei hulle uit. Hy lei ons uit die dal van doodskaduwee. Dit is ons troos, die seker wete dat die Heiland ons naam ken. Ons weet ons geken deur Hom.Soos Paulus skryf in Galasiërs 4: julle ken God, of liewer, julle is deur God geken (vers 9).

Wat ‘n voorreg. Maria! het Jesus geroep.Sy roepstem verdryf die ongeloof, die kleingeloof. Sy roepstem bring geloof en hoop en liefde. Net so roep Jesus ons ook vandag, elkeen by ons naam: Maria! Julia! Lydia! Jolanda! Melandi! Zandri! Elly! Elsabe! Leoni! Willem! Johan! Erwin! Roelof! Cobus! André!

Hoor jy hoe Jesus jou roep? Herken jy sy stem? Antwoord jy Hom? Rabboeni! My liewe Meester! My Redder! Glo jy sy Woord? Hy het uit die graf opgestaan. Elkeen wat Hy roep, sal ook uit die graf opstaan!

Maria Magdalena se naam staan geskrywe in die boek van die lewe (Fil 4:3). Christus het jou ook geroep. By jou doop het Hy al gesê: jy is myne! Hou vas aan Jesus! Bly trou aan Hom! Hou vas aan sy belofte:

“Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” (Openb 3:5)

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 10:1-3

Wet

Ps 38:9,15

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 38:17

1e tafel: Johannes 20:1-10; Ps 116:1,2

2e tafel: Johannes 20:11-18; Ps 116:3,4

3e tafel: Danksegging; Ps 116:5,9

Gebed

Teks: Johannes 20:16

Preek

Sb 9:2,3,4

Gebed

Kollekte

Sb 10:5,6

Seën