Die Apostoliese Geloofsbelydenis

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2018-03-11
Text: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 7 en 8 vraag en antwoord 22,23 en 24
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 7 v/a 22-23 & Sondag 8 v/a 24

‘n Christen glo nie net in die bestaan van God nie. Dit het ons laasweek gesien in die Kategismuspreek. ‘n Christen glo veel meer. Sy geloof is ‘n vasstaande kennis, en ook ‘n vaste vertroue. Dus nie net verstandelike kennis nie. Maar ook nie net ‘n warm gevoel, sonder intellektuele onderbouing nie. ‘n Christen lewe ook elke dag vanuit sy geloof. Hy maak gebruik van die gawes wat God hom skenk. En dan glo hy nie net in God se bestaan nie.  Hy weet ook wie hierdie God is, hoe sy karakter is. Daarom vertrou hy hierdie God ook.

Hy wy sy lewe aan hierdie God.

Verder glo ‘n Christen ook dit wat die Bybel openbaar oor die mens.Wie die mens is, wat die oorsprong van die mens is en wat sy doel is.‘n Christen glo ook in dit wat die Bybel openbaar oor die sondeval van die mens. Waar die ellende en gebrokenheid van die wêreld vandaan gekom het.En so kan ek nog aangaan.Wat glo ‘n Christen eintlik alles?

Baie dinge!

Dit maak dit soms so moeilik om te antwoord, as iemand vir jou vra wat jy glo? Jy wonder dan: waar moet ek begin?Wat moet ek sê?

Daar is so baie om te sê!

Die Kategismus vra hierdie vraag ook.

Wat glo ‘n Christen? Wat moet ‘n Christen glo? En dan is die antwoord: Alles wat ons in die Evangelie beloof word. Die Evangelie – dis die Bybel.

Niks meer, maar ook niks minder. En, wat so handig is, hiervan gee die Apostoliese Geloofsbelydenis ‘n baie kort samevatting. Vanaand staan ons stil by hierdie ou bekende Geloofsbelydenis.

Tema: Die Apostoliese Geloofsbelydenis

1 Die ontstaan van hierdie Geloofsbelydenis

2 Wat dit beteken om jou geloof te bely

1 Die ontstaan van hierdie Geloofsbelydenis

Waarom word dit eintlik die Apostoliese Geloofsbelydenis genoem? Dis nie omdat die apostels dit geskryf het nie. Al is dit baie oud, is dit nie so oud nie.

Ons weet dat hierdie belydenis omstreeks 200 jaar na Christus ontstaan het.

Dit is dus nie van die apostels afkomstig nie. Die inhoud natuurlik wel.

In hierdie belydenis sien ons ‘n voortsetting van die prediking, van die leer van die apostels. Dit gee ‘n samevatting van die apostoliese leer in twaalf artikels, twaalf kernagtige uitsprake. Dit was veral in daardie tyd maklik, want baie mense kon toe nog nie lees nie. Ook het die boekdrukkuns nog nie bestaan nie. Die meeste Christene het nie self ‘n Bybel gehad nie. Maar deur hierdie twaalf kernuitsprake te leer, het hulle ‘n baie beknopte samevatting van die Evangelie as parate kennis gehad.

 

Hoe het hierdie geloofsbelydenis eintlik ontstaan?

As mens dit goed bestudeer, val dit op dat dit nie net ‘n willekeurige lys van feite is nie, maar dit het ‘n duidelike struktuur. V/a 24 van die Kategismus wys ons daarop. Die Drieëenheid bepaal die struktuur van hierdie Geloofsbelydenis. Dit bestaan uit drie dele.

Die eerste deel gaan oor God die Vader en ons skepping.

Die tweede deel oor God die Seun en ons verlossing.

Die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

Hoekom het die Geloofsbelydenis juis hierdie struktuur? Dit is nie toevallig nie. Dit het te make met die ontstaan van hierdie Geloofsbelydenis. Dit het naamlik ontstaan by die bediening van die doop aan mense wat tot bekering gekom het. As in die vroeë kerk ‘n heiden of ‘n Jood by die kerk aangesluit het, is hy gedoop in die naam van die Drieënige God. Dit was ooreenkomstig Christus se bevel in Mattheüs 28:19:

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”

Voorafgaande aan so ‘n doopsbediening het die persoon eers belydenis van sy geloof afgelê. Dit het hy gedoen deur die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis op te sê. Daar is aan hom gevra: wat glo jy van God die Vader? Dan het hy die eerste deel van die Geloofsbelydenis opgesê.

Vervolgens is gevra: wat glo jy van God die Seun?, waarna hy die tweede deel opgesê het. En so ook die derde deel. Daarna is die persoon gedoop.

So het die Apostoliese Geloofsbelydenis dus in die vroeë kerk ontstaan rondom die doop in die naam van God Drieënig.

Ons vind rond die jaar 200nC hierdie Geloofsbelydenis in gebruik in die kerk te Rome, en ook onder Christene in Suid-Frankryk, met ‘n teks wat grootliks ooreenstem met soos ons dit vandag ken. Net die woorde ‘neergedaal in die hel’ is eers later bygevoeg. Dit is interessant om te noem dat daar meer versies van die Geloofsbelydenis was. Ander landstreke het enigsins afwykende bewoordings gehad. Dit weet ons byvoorbeeld wat betref die kerk in die stad Caesarea in Palestina, en die kerk in Jerusalem, en waarskynlik ook die kerk te Alexandrië in Egipte. Nie dat die bewoording baie anders was nie.

Mens kan dit vergelyk met die klein verskille tussen die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Geloofsbelydenis van Nicea, ook aan ons welbekend.

Eers honderde jare later, toe die kerk van Rome homself as die hoofkerk op aarde begin gedra het, eers toe het die Apostoliese Geloofsbelydenis die standaardteks geword en het plaaslike variante begin verdwyn.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis het sy ontstaan dus rondom die doopvont gehad. Tog is dit reeds in die vroeë kerk al breër gebruik. Die kerkvaders Irenaeus en Tertullianus noem hierdie belydenis as die maatstaf vir die waarheid. Maatstaf vir die waarheid – ‘n belangrike gebruik.

Dit is veral ook te sien by die bekende Geloofsbelydenis van Athanasius.

Hierdie Geloofsbelydenis het nie rondom die doopvont ontstaan nie, maar is bewus opgestel om weerstand te bied teen die dwaalleer van Arius.

‘n Belangrike funksie dus vir ‘n Geloofsbelydenis, om te dien as maatstaf vir die waarheid, juis deurdat dit ‘n kort samevatting van die Bybelse waarheid bied.

Nou wonder u dalk: waar kom die gewoonte vandaan om die Geloofsbelydenis voor te lees, of te sing, tydens die erediens? En dan nie net deur iemand wat gedoop word nie, maar deur die hele gemeente.

Hierdie gewoonte kom uit die sestiende eeu, uit die tyd van die Reformasie.

Die Protestante moes, nadat hulle uit die Roomse kerk verban is, self eredienste begin hou. Hulle was egter daarvan oortuig dat hulle nie ‘n sekte was, ‘n onwettige afsplitsing van die Roomse kerk nie, maar dat juis hulle die lyn van die ware kerk uit die verlede voortgesit het. Die Roomse kerk het miskien wel die geboue behou uit die verlede, maar die Protestante het vasgehou aan die suiwer leer uit die verlede. Die onvervalste Evangelie.

As bewys hiervoor het hulle toe ‘n prominente plek aan die Apostoliese Geloofsbelydenis in hulle eredienste gegee. Hulle was dit oneens met die leer van Rome, maar hulle het saamgestem met die leer van die vroeë kerk.

En daarom doen ons vandag, 500 jaar later, nog steeds dieselfde.

Almal saam bely ons hierdie Geloofsbelydenis, en ons weet ons verbonde aan die Christene wat nou al 1800 jaar gelede geleef het, die Christene van die vroeë kerk. Hulle het geglo in die Evangelie van die Drieënige God, en ons doen dit nog steeds. Van hierdie Evangelie gee die Apostoliese Geloofsbelydenis ‘n kort samevatting.

(Tema: Die Apostoliese Geloofsbelydenis

1 Die ontstaan van hierdie belydenis)

2 Wat dit beteken om jou geloof te bely

Is dit wel sinvol om vandag nog steeds so ‘n baie ou Geloofsbelydenis te gebruik? Ek het genoem dat dit mooi is, omdat mens daardeur ervaar dat jy verbonde is met die kerk van alle eeue, ook die kerk van die vroegste eeue.

Maar, hierin skuil ook ‘n gevaar. Die gevaar dat mense nie dadelik die relevansie begryp van dit wat gesê word nie. Neem byvoorbeeld die artikel dat Jesus gely het onder Pontius Pilatus. As mens dit wil verstaan, het jy wel agtergrondkennis nodig. Dit geld nog meer vir die volgende wat in die Geloofsbelydenis van Nicea staan:

Jesus is gebore uit die Vader voor alle eeue. Hy is God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God.

Wat beteken dit eintlik? Hiervoor het mens meer agtergrondkennis nodig.

As jy nie weet wie Arius was nie, dan is die kans goed dat jy hierdie woorde verkeerd gaan verstaan. So ‘n ou Geloofsbelydenis vra dus op sommige punte ekstra studie.

Aan die ander kant is dit ook goed om vandag ‘n nuwe geloofsbelydenis op te stel. Nie as vervanging nie, maar as aanvulling. ‘n Geloofsbelydenis wat konkreet ingaan op vrae en tema’s en dwaallere wat vandag in ons tyd lewe.

‘n Aantal jare terug het Bybelgetroue Christene in Duitsland byvoorbeeld ‘n dokument met 95 nuwe stellings opgestel, spesifiek gerig teen die vrysinnigheid in die hedendaagse Lutherse kerk. Dat daar nuwe geloofsbelydenisse kom is soms baie belangrik. Maar, en daaroor gaan dit nou in hierdie preek, dit wil nie sê dat die Apostoliese Geloofsbelydenis daardeur onbruikbaar geword het nie. Wat in die verlede as waarheid gegeld het, geld vandag nog steeds. As daar vandag gedwaal word wat betref die leer van die Drieëenheid, is die Apostoliese Geloofsbelydenis nog steeds onverminderd relevant. Watter belydenis mens ook gebruik, oud of nuut, die belangrikste bly dat die Skrif daarin nagespreek word. Die Apostoliese Geloofsbelydenis het wat dit betref ‘n duidelike status, as die oudste kerklike belydenis. Dit is daarom ook nie verbasend nie dat dit deur Christene oor die hele wêreld gebruik word. As ons hierdie belydenis in die erediens lees of sing, voel ons ons verbonde met die kerk van alle tye en plekke. Waar mens ook al kom, van Japan in die Ooste tot Peru in die Weste, van Noorweë in die Noorde tot Nieu-Zeeland in die Suide, orals het Christene hierdie Geloofsbelydenis.

En natuurlik, net soos in die verlede, is daar ook vandag kritiek op die Apostoliese Geloofsbelydenis. Hierdie kritiek moet geweeg word. Is dit miskien so dat, as gevolg van die ouderdom van hierdie Geloofsbelydenis, mense nie goed verstaan waaroor dit gaan nie? Of het die persoon met sy kritiek eintlik ook ‘n probleem met die inhoud van die Bybel?

Die Apostoliese Geloofsbelydenis spreek naamlik slegs die Bybel na. As iemand nie die Bybel wil glo nie, wat die Bybel ons byvoorbeeld oor God Drieënig openbaar, dan is dit logies dat hy ook ‘n probleem met die Apostoliese Geloofsbelydenis gaan hê.

So is daar deesdae baie mense wat hulle saligheid van die wetenskap verwag.

Ek het ‘n keer ‘n moderne weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis gelees, geskryf om te illustreer waarop iemand vertrou wat sy saligheid van die wetenskap verwag. Dit gaan soos volg:

Ek glo in Niks.

Ek glo dat Toeval die hede geskep het uit die oerknal.

Ek glo in die wetenskap, wat ontvang is uit die ewolusie, wat gebore is uit trial-and-error,

wat gely het onder religie,

wat bestry is, verdraai en doodgeswyg,

wat neergedaal het in die Middeleeue,

maar wat weer verrys het tydens die Verligting,

wat gekroon is as die waarheid,

wat sit aan die regterhand van Niks, die Vader van die Toeval,

en wat sal oordeel oor alle paradigmas en teorieë.

Ek glo in die heilige Rede.

Ek glo in die mens en sy vooruitgang.

Ek behoort aan die gemeenskap van Nobelpryswenners,

die uitwissing van dwaling,

die toename van entropie,

en die behoud van energie.

Hierdie is duidelik geskryf op basis van die struktuur van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Dit klink dalk belaglik. Maar tog is dit waarop baie mense hulle vertroue stel. As gelowiges sê ons dan: nee.

Liewerste die eeue oue Apostoliese Geloofsbelydenis. Ons voel ons meer verbonde met ons mede-gelowiges uit die eerste eeue, as hierdie tydgenote van ons. Want, hoewel die Apostolicum al 1800 jaar oud is, is dit ook vandag nog aktueel. Omdat ons daaruit die ewige God leer ken, wat ook vandag nog leef, wat ook vandag nog in sy voorsienigheid sorg, en wat sal terugkom in die toekoms, om te oordeel die lewendes en die dooies. Ons gaan daarom vol vertroue voort om ons geloof te bely met die Apostoliese Geloofsbelydenis.

En nie alleen daarmee nie, ook met die Geloofsbelydenis van Nicea, en Athanasius, en ook met die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, en die Dordtse Leerreëls. En selfs nog meer.

Belydenis doen van jou geloof is nie net tot geskrifte beperk nie. Belydenis van geloof is iets wat jy elke dag ook in jou eie woorde doen. Die skriftelike Belydenisgeskrifte help ons op weg. Op Sondag sing ons uit volle bors die Apostoliese Geloofsbelydenis. Maar deur die week gaan ons voort om ons geloof te bely. Dink aan wat ons uit Romeine 10 gelees het.

Paulus vra daar die vraag: hoe glo jy eintlik?

Jy glo, as jy met jou mond bely, dat Jesus Here is. Dit beteken: dat Hy Baas oor jou lewe is. Jy glo, as jy ook in jou hart oortuig is, dat God Hom uit die dood opgewek het. As jy dit doen, met jou mond bely en met jou hart dit aanvaar, dan sal jy gered word. Glo hou dus twee dinge in. Soos die spreekwoord sê:

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Dit is vanselfsprekend dat dit wat jy in jou hart glo, dat jy dit ook met jou mond bely. Wie sê dat hy glo, wie lid van die kerk is, maar nooit oor sy geloof praat nie, moet homself afvra: glo ek regtig wel? Om ‘n voorbeeld te noem:

As iemand vir jou vra na watter skool jy gaan, of na watter skool jou kinders gaan. Hoe reageer jy daarop? Probeer jy om onder die antwoord uit te kom?

Of gryp jy die geleentheid aan om te getuig hoe belangrik dit vir jou is dat jy, of jou kinders, God leer ken en vertrou? Dat dit daarom meer as die moeite werd is om jou kind daarvoor na ‘n spesiale Gereformeerde skool te stuur.

Jou geloof bely, op verskillende maniere, in die alledaagse lewe, dit is wesenlik, dit is onontbeerlik. En dan bedoel ek dus nie slegs die Apostoliese Geloofsbelydenis nie. Dit hoort ook daarby. Dit is die begin.

Wat ons in die kerk sing, dit kry sy vervolg in die res van die week.

Jy gaan nie die Apostoliese Geloofsbelydenis opsê as iemand by die universiteit, of in die winkel, jou uitvra oor jou geloof of jou kerk nie.

In daardie geval kies jy jou eie woorde. Die bedoeling is dat mense hoor dit wat in jou hart leef. Met jou eie woorde gee jy blyk, getuig jy, van jou geloof in God. Dat jy alles glo wat in die Bybel staan. Dat jy bly en bevoorreg is om aan hierdie kerk te behoort. Dat jy daagliks in kommunikasie met jou God lewe.

Vir sulkes, wat op daaglikse basis hulle geloof bely, staan daar ‘n pragtige belofte in die Bybel. Jesus sê in Mattheüs 10:

“Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ok bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (vers 32-33)

In hierdie tweede punt van die preek het dit gegaan oor wat dit beteken om jou geloof te bely. Ja, dit is waardevol om elke Sondag die Apostoliese Geloofsbelydenis in die kerk te bely. Dit is waardevol om hierdie Geloofsbelydenis te bestudeer, soos die Heidelbergse Kategismus dit gaan doen in die komende Sondae, sodat ons sal verstaan wat dit presies bedoel.

En dan, toegerus vanuit hierdie Geloofsbelydenis, verlaat ons die kerk om gedurende die week belydende Christene te wees. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Elkeen wat met sy mond bely dat Jesus Here is, en met sy hart glo dat God Hom opgewek het, sal gered word (Rom 10:9).

Loof God vir hierdie Evangelie!

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 63:1,2,6

Gebed

Skriflesing: Romeine 10

Ps 91:3,4,7

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 7 v/a 22-23 & Sondag 8 v/a 24

Preek

Sb 27:1-3

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 27:4,5

Seën