Die goue ketting van God se reddende raadsplan

Text: 
Dordtse Leerreels 3/4 par 1-8
Date: 
2017-10-08
Preek Inhoud: 

Preek: Dordtse Leerreëls ¾ par 1-8 Iets wat ‘n hartverskeurende realiteit is, is hoeveel mense daar elke dag in Afrika sterf deur epidemies soos vigs, tuberkulose, ensovoorts. Vir lank het mense gedink dat die mediese wetenskap besig is om siektes al hoe meer terug te dring. Danksy die wetenskap en tegniek sou mense hoe langer hoe gesonder word. Maar die afgelope dekades het dit duidelik geword dat die realiteit anders is. Middeleeuse toestande, dink aan die pesepidemies, waar hele dorpe en stede van die kaart gewis word, kan ook in ons tyd gebeur. In verskillende Afrikalande het dit die afgelope dekades gebeur dat dorpe ontvolk is as gevolg van die vigspandemie. Hospitale lê vol met mense in hulle twintigs of dertigs. Dan praat ons nog nie eers oor mense wat deur oorloë en geweld om die lewe kom nie. En ook ‘n steeds groeiende aantal mense, veral hier in Afrika, wat deur verkeersongelukke sterf. Dit is die hartverskeurende realiteit van die 21e eeu. Wetenskap en tegniek maak nie outomaties van die wêreld ‘n beter plek nie. Tema: Die goue ketting van God se reddende raadsplan - ‘n Skakel in die ketting is jou werk - Dit bly God se werk - Pasop vir jou ou mens en die duiwel se werk - ‘n Skakel in die ketting is jou werk Iets wat des te meer hartverskeurend is, is wanneer mense verlore gaan, voordat hulle die Evangelie, die goeie nuus van Christus, ontvang en aangeneem het. Mens vra jouself soms af. Wat gebeur met daardie mense, wat nooit die naam van die Here Jesus gehoor het nie? Dink byvoorbeeld aan ‘n land soos China. Vir duisende jare het daar in daardie wêrelddeel al mense gewoon, miljoene mense wat geleef het en gesterf het sonder dat hulle die naam Christus gehoor het. Grootskaalse sending in daardie land het eers met die ontdekkingsreise vanaf die 17de eeu op gang gekom, hoewel sendelinge sedertdien ook dikwels deur die outoriteite uit die land geweer is. Vir ons gevoel kan dit ‘n bietjie oneerlik voel. Moet al hierdie mense verlore gaan, sonder dat hulle ooit van Jesus Christus gehoor het? Gemeente, dit is oor wesenlike vrae soos hierdie waaroor die 3e en 4e hoofstuk van die Dordtse Leereëls handel. Die Dordtse Sinode het twee hoofstukke ineengeskuif, omdat hulle een en dieselfde antwoord kon gee op beide die derde en vierde stellings van die Remonstrante. Daardie stellings, daardie dwalings van die Remonstrante, het soos volg gelui: Stelling 3: Die mens se wil is nie heeltemal verdorwe nie. Stelling 4: Die mens kan God se genade teenhou. Die Bybel is baie duidelik oor die feit dat daar slegs redding moontlik is vir wie in Christus glo. Maar, skryf Paulus, hoe kan iemand in Christus glo as hy nie die prediking van die Evangelie gehoor het nie? Hoe kan iemand tot geloof kom as hy nie eers tot geloof en bekering geroep is nie? So sien ons watter belangrike plek die roeping tot geloof inneem. Dit is ‘n skakel in die goue ketting van God se raadsplan, sy uitverkiesing. En daarom – Paulus haal ‘n vers uit die Ou Testament aan – hoe lieflik is die voete van hulle wat die blye boodskap bring (Jesaja 52:7). Want juis daardeur word die moontlikheid van ewige redding by alle volke, mense en tale gebring. As daar geen verkondigers van die Evangelie was nie, as niemand uit sou gaan om die mense na die fees uit te nooi nie, dan sou die bruilofsaal so goed as leeg bly. Dit is ‘n hartverskeurende realiteit hoeveel mense daar daagliks aan allerlei epidemies sterf. Hoewel, dit is nog nie die ergste nie. Heeltemal hartverskeurend is as mens sien dat die hulp wat wel gebied kan word hier in Afrika, agterweë bly. Daar is medisyne in die wêreld beskikbaar. Medisyne wat mense se lewens kan red van vigs. Maar tot oormaat van ramp hou regerings en presidente dit dikwels van hulle bevolking weg, as gevolg van hulle ideologieë, of as gevolg van hulle korrupsie. Hierdeur kom hulpverlening dikwels nie op die regte plek uit nie, of word dit jare vertraag, met baie sterftes tot gevolg. Dit is hartverskeurend, as hulp wat gebied kan word, agterweë bly. Of halfpad êrens vashaak. Maar gemeente, wat nog hartverskeurender is as mense sterf, sonder dat aan hulle die Evangelie verkondig is. Terwyl dit miskien wel moontlik was gewees, maar omdat dit tog nie gebeur het nie vanweë allerlei menslike faktore. Kerkmense is uit hulleself nie beter as ander mense nie. Ons bely in paragraaf 7: Die een volk is nie voortrefliker as ‘n ander volk nie. Dat ons Christus mag ken en sy Woord het, is ‘n groot genade wat ons ten beurt geval het. Hierdie rykdom bring ook ‘n taak met hom mee, om ‘n lig op ‘n berg te wees. En dit is hartverskeurend, as ‘n kerk nie aan hierdie taak toekom nie, omdat mense genoeg het aan hulleself. As alle tyd gespandeer word aan interne sake. Of as daar geen dringende behoefte gevoel word om die Lig uit te dra nie. Daar is nog ‘n ander dodelike siekte in Afrika, nog erger as vigs. Ek bedoel malaria. Ongeveer een en ‘n halwe eeu gelede het iemand gelukkig die oorsaak van hierdie siekte ontdek, waarna daar toe ‘n effektiewe medisyne gevind kon word. Hierdie medisyne het te laat gekom vir alle mense wat voor die tyd geleef het, en aan die siekte oorlede is. Maar sedertdien is die medisyne wydverbreid beskikbaar en red baie lewens. Nou kan jy jouself afvra: hoekom het die Here dit nie so gelei dat die medisyne teen malaria vroeër ontdek is nie, dit sou mos duisende en duisende lewens gespaar het? Hierdie vraag klink dalk vergesog, maar op ‘n ander gebied vra mense hierdie vraag wel dikwels, naamlik: Hoekom het dit soveel eeue geduur voordat die Evangelie in China en baie ander lande uitgekom het. Is alle Chinese en al daardie mense in die eeue daarvoor nou verlore? Broers en susters, as ons eerlik is, moet ons hierdie vraag nie aan God vra nie, maar aan die kerk. Die kerk van die nuwe bedeling aan wie Christus die sendingsopdrag gegee het (Mattheüs 28:18-20). En dan moet ons by lieflike voete nie net aan dominees en sendelinge dink nie. Dit is ‘n wesenlike taak vir elke gelowige. Dit is onderdeel van ‘n ware geloof, dat jy besig is om dit uit te dra. Ons kerklike tradisie kom uit ‘n eeue lange geskiedenis van volkskerklikheid, waardeur die kerk en die kerklidmate hulle taak om te getuig afgeleer het. Ons worstel nog steeds hiermee. As kerkmense voel ons dikwels verleë om te getuig. Ons bestee dit liewers uit aan ‘n kommissie, ‘n sendingskommissie, of ‘n evangeliesasiekommissie. Juis die Dordtse Leerreëls spoor ons aan om werk te maak van sending, evangelisasie, en nog breër, elkeen van u se getuigende taak. Ook u is ‘n skakel in die Here se verkiesende raadsplan. Die Heilige Gees woon in u, en Hy werk deur u. Ons kan nie sy lig onder ‘n maatemmer wegsteek nie. Nie dat dit alleen van ons afhang nie. Daarop vestig die Dordtse Leerreëls ook die aandag. Maar dis die ander kant van die muntstuk. Hierdie kant van die muntstuk is net so ernstig. Dat God jou aktief inskakel. Jy is ‘n skakel in die goue ketting. Ten eerste wat jou eie redding betref. Lydelikheid is dodelik vir die geloof. Wees aktief in die diens aan die Here. Bekeer jou daagliks. Lei ‘n lewe wat pas by die geloof. En ten tweede is jy ‘n skakel in die redding van ander. God se roepstem bereik ongelowiges, of afvalliges, via u. In naam van die Here moet die kerk elkeen oproep tot geloof. Oproep om by die kerk aan te sluit. Aan te sluit by ‘n lewendige kerk. As die kerk dit nie doen nie, bly die bruilofsaal leeg. Ja, broer, suster, jou voete moet ook lieflike voete wees! - Dit bly God se werk Terselfdertyd is die ander kant van die muntstuk dat dit nie net van ons afhang nie. As iemand homself bekeer, dan word hy wedergebore, en dit is ‘n wonder wat God tot stand bring. Waarvoor Hy u inskakel, een skakeltjie. Maar in die geheel is u onderdeel van sy netwerk. Dit is die volstrek bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie liefdevolle, wonderbare, verborge en onuitspreeklike werking van God self, skryf die Dordtse Leerreëls. God bring die wil in beweging. Daarom word tereg gesê dat die mens self glo en homself bekeer, maar dit deur die genade, wat hy ontvang het. Dit klink teenstrydig - die mens kies self om te glo, bekeer homself, maar tegelyk kom dit deur God se genade? Wie doen dit nou eintlik? Laat ek dit met ‘n voorbeeld verduidelik, ‘n voorbeeld vanaf die sendingsveld. Toe ek in die sending werksaam was, het ek vir mense wat belanggestel het, sogenaamde New Members Classes aangebied. Daarin het ons die basiese beginsels en waarhede van die Skrif behandel. Onderdeel was die ernstige oproep tot bekering. Die oproep om Christus as Hoof van sy of haar lewe te erken en aanvaar. Die oproep om by die kerk aan te sluit. Die oproep om ‘n lewende lid van die kerk te word, deur elke Sondag kerk toe te kom, sy of haar gawes ook met die kerk te deel. Die oproep om afstand te neem van sondige lewenspatrone. Hierdie keuses moes die persoon self maak. En as die persoon nie hierdie keuses self gemaak het, en duidelik – met woorde en dade – blyk daarvan gegee het nie, is daardie persoon nie toegelaat om geloofsbelydenis te doen en lid van die kerk te word nie. Dit was nie die sendeling wat vir hom of haar gekies het nie. Dit moes honderd persent daardie persoon se eie keuse wees. Hierdie keuses moes die persoon maak so driekwart tydens die kursus vir nuwe lede. Daarna, as die persoon in volle oortuiging vir Christus en sy kerk gekies het, het die onderwerp van die uitverkiesing en God se raadsplan aan die orde gekom. Dan mog ek verduidelik en die persoon tot die besef bring, dat hy of sy nie op eie kragte gekies het nie. Dat die Here al lankal met daardie persoon besig was, al lankal vir hom of haar gekies het, nog lank voordat die persoon self hierdie keuse gemaak het. Hoe anders het dit gekom dat daar ‘n sendeling op ‘n goeie dag op die persoon se deur geklop het? Hoe anders het dit gekom dat in die persoon se omgewing ‘n kerkplantingsprojek begin is? Hoe het dit gekom dat kerke elders die noodsaak besef het om sending en kerkplanting hier te kom doen, en om dit met gebede en geld te ondersteun? Hierdie vrae maak duidelik dat die Here al iets voorberei het, naamlik daardie persoon se bekering, nog lank voordat daardie persoon dit enigsins besef het. Nou hierdie geld net soveel vir elkeen van ons. Dalk is u nie eers op latere ouderdom op die sendingsveld bekeer nie. Maar dieselfde tipe vrae kan u ook oor u eie lewe vra. Hoe het dit gekom dat jy gebore is in ‘n Godvresende gesin? Hoe het dit gekom dat jy ‘n kind van ouers is wat dit belangrik geag het dat jy gedoop word, en dat jy elke Sondag kerk toe gaan, en dat jy Gerefomeerde onderrig ontvang, en dat jy katkisasie en Bybelstudie toe gaan? Langs hierdie skakels het dit naamlik gebeur dat ook jy, tydens die grootword, tot bekering gekom het. Maar al hierdie dinge is reeds deur die voorsienige God voorberei, nog lank voordat jy daarvan bewus was! Wat ‘n wonder! Ons sien God se hand, sy raadsplan hierin. Dit is net God se genade, sy uitverkiesing, dat ons die Naam van Christus leer ken het. - Pasop vir jou ou mens en die duiwel se werk Het daardie mense dan ‘n verontskuldiging, wat te sterwe kom voordat die lieflike voete van die Evangelieverkondigers hulle bereik het om aan hulle die Naam bekend te maak, die enigste Naam waardeur ‘n mens van die oordeel gered kan word? Die Dordtse Leerreëls sê: nee. Hulle staan eweseer skuldig voor God. Wat vir die eerste mens – Adam – gegeld het, geld ook vir hulle. Op ingewing van die duiwel het hulle in hulle lewe uit eie wil van God afgewyk. Ons lees in paragraaf 1 – en dit geld vir elke mens sonder Christus: In plaas van ware kennis, geregtigheid, suiwerheid, het gekom: blindheid van verstand, verdorwe oordeelsvermoë, slegtheid, opstandigheid, rebellie, hardnekkigheid. So vader so seun. Die verdorwe mens het verdorwe kinders voortgebring. Dit nie deur navolging nie, maar deur voortplanting van die verdorwe natuur. Dit skryf die Dordtse Sinode teenoor die Pelagiane (sien paragraaf 2). Want hulle het beweer dat die mens inherent goed is, en slegs deur navolging van ‘n slegte voorbeeld ook sleg word. Dat ‘n mens – as hy by wyse van spreke sou opgroei op ‘n eiland waar daar geen ander mense is nie – dat hy sondeloos sou kon wees. Nee dus, elke mens het dit soos ‘n genetiese defek in om: om sondig, om verdorwe te wees. Is daar dan niks goeds in die mens aanwesig nie? In paragraaf 4 staan dat daar nog ietsie, nog ‘n bietjie van die die lig van die natuur in die mens oorgebly het. Hy behou, lees, ons, ‘n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike. Maar wat doen die mens hiermee? Mens sou kon verwag dat hierdie oorblyfsels prikkels behoort te wees vir die mens om weer op soek te gaan na die ware God. Op soek te gaan na die waarheid. Maar nee, die mens onderdruk hierdie ‘lig’. Hy misbruik selfs hierdie oorblyfselfs in sy opstand teen God. Byvoorbeeld: as jy as mens hier op aarde leef, dan is dit onmoontlik dat jy nie die besef sou kry dat Iemand alles gemaak het nie. En dat die hele skepping – wat so perfek inmekaar pas – net nie toevallig kan wees nie. Daar moet ‘n God wees wat dit alles so gemaak het! Maar wat doen die mens? Koester hy hierdie besef, en gaan hy op soek na God? Helaas nie. In pleks daarvan begin hy sy eie gode uit te dink, en te aanbid. Hy begin kniel voor sy selfgemaakte beelde. Of hy begin om die son of die maan te aanbid. Of hy begin om die natuur self, of dalk die natuurwette, en die tegniek te aanbid. Die oorblyfselfs van die oorspronklike ‘lig’ gebruik die mens dus nie om na die ware God terug te keer nie. Hy misbruik dit om self gode uit te dink. En wat aan die einde van die dag gebeur, is dat hy homself aanbid. Van homself ‘n god maak. Homself in die middelpunt van alles plaas. En so verdring hy die besef van die ware God. 101 dinge word uitgedink wat ‘n rookgordyn word, sodat hy nie oog in oog met die lewende God hoef te kom nie. Die besef van wat fatsoenlik is en wat nie – waarvan ons in paragraaf 4 lees – daardie besef lei nie tot nederigheid nie. Dit lei nie tot bekering nie. Dit lei nie tot erkenning van die mens se diepe ellende, en sy val in sonde nie. Nee, op homself kom die mens nie sover dat hy voor die lewende God kniel nie. Hoeveel aanleiding hy ook daartoe het. Daarom staan daar in paragraaf 4: Vir die mens is dit onmooontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Hy kan immers nie eers in die daaglikse lewe hierdie lig op die juiste manier gebruik nie. Hy verduister eerder hierdie lig. Daarom is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie. Dus nogmaals, wie sterf sonder dat sy of haar sondes deur Christus se bloed versoen is, word nie gered nie. Dit is ingrypend, maar waar. Is daar dan geen redding van die miljoene Chinese wat Christus nooit geken het nie? Is daar geen redding vir al die slagoffers van epidemies in Afrika, wat geen rus kon vind in die Evangelie, omdat daar na geen lieflike voete die blye boodskap betyds vir hulle kom bring het nie? Laat ons nie oordeel nie. Die eindoordeel kom God toe. Maar die Skrif is duidelik: daar is slegs een Naam in lewe en sterwe waardeur ‘n mens ewig gered kan word. Buite Christus is daar geen redding nie. Hierdie werklikheid laat ons besef dat tyd kosbaar is. Daar kan nie tyd gemors word nie. Die tyd loop! Daar is ‘n wêreld wat besig is om ten onder te gaan. Laat ons as kerk veral geen tyd en energie verspil nie. Want dit sal skrynend wees. As daar wel ‘n medisyn is wat effektief ‘n epidemie kan wegneem, maar as gevolg van allerlei redes bereik die medisyne nie die mense wat dit so nodig het nie. Hierdie is natuurlik waarin die duiwel baie energie steek. Met allerlei lis en gestook probeer hy die verspreiding van die Evangelie lam te lê, of ten minste te vertraag. Een van sy mees effektiewe metodes is om die Christene, hulle wat dus alreeds die Evangelie het, lui te maak, op hulleself gerig te hou. Wat in die verlede in ons eie land ook skrynend was, is dat Christene, ja Gereformeerdes, die Bybel so uitgelê het, so verdraai het, asof hulle – die Afrikanervolk – die uitverkore volk van God is – soos Israel van ouds , en dat die swart volke in Afrika die heidenvolke is, net soos die heidenvolke van die Ou Testament, wat uitgeroei moes word. Hierdie oppervlakkige, eksemplariese uitleg van die Bybel, het daartoe gelei dat Gereformeerde mense in ons land in die verlede gekant was teen sendingswerk. Gelukkig was nie almal so nie, maar tog het die satan dit reggekry om die verspreiding van die Evangelie op hierdie manier ernstig te vertraag. Die duiwel is geraffineerd. Net soos hy Christus self probeer verlei het, met gebruikmaking van die Skrif, so doen hy dit vandag nog steeds. En ongelukkig het nie alle kerkmense in ons land in die verlede – soos hulle Heiland – standgehou teen die verleidings van satan nie. Geliefde gemeente, laat ons as kerk weer besef: God maak jou en my ‘n skakel in sy raadsplan. Wat ‘n voorreg! Maar ook, wat ‘n verantwoordelikheid, wat ‘n dure plig! Hy gee ons, die kerk van die nuwe verbond, ‘n groot opdrag. Gaan heen, maak al die volke tot my dissipels. Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Die tyd is kosbaar. Laat ons op pad gaan met die heilbrengende medisyne. Laat ons die lig vanaf die berg laat skyn. Laat ons doelgerig hiermee besig wees. As ons dit doen, dan loop ons as kerkmense ook baie minder die risiko dat ons opgehou word en tyd vermors met onderlinge gekibbel. Werk u saligheid uit met vrees en bewing. Maak jouself ook beskibaar vir die saligheid van ander. Hierdie wêreld is vol mense wat dreig om verlore te gaan. Amen.

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1
Seën
Ps 75:1,4,5
Gebed
Skriflesing: Romeine 8:18-30
Ps 96:1,2
Skriflesing: Romeine 10
Ps 96:3,4
Teks: Dordtse Leerreëls ¾ par. 1-8
Preek
Ps 96:5,6
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 96:7,8
Seën

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata